Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Marianne McKay: 'n dosent wat gemaklik is met “die ongemaklike"
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 04/12/2017

Marianne McKay het die afgelope paar maande erkenning ontvang vir die wyse waarop sy aan haar studente 'n breër perspektief op die wynindustrie bied.  Die rits toekennings wat sy ontvang het, sluit onder meer 'n Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig van die Universiteit Stellenbosch in. 

 

Die ouwêreldse sjarme van die JH Neethling-gebou met sy loodglasdeure en baksteenrooi trappe val op as mens na Marianne McKay se kantoor loop. Die reuk van gefermenteerde druiwe hang in díe gebou wat, onder andere die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Wingerd- en Wynkunde (DWW) huisves. Die atmosfeer in die gebou roep vlugtig beelde op van geskiedkundige Kaaps-Hollandse landgoedere en witgekalkte kelders waar toeriste en fynproewers die Kaap se beste wyne kan geniet.

 

Dit is egter 'n ánder kant van die wynbedryf wat Marianne McKay aan haar Wingerd- en Wynkunde-studente wil wys, om hulle te help om in verantwoordelike werknemers en werkgewers te ontwikkel. “Hulle moet ware dryfvere vir verandering in die Suid-Afrikaanse wynbedryf raak," hoop sy.

 

Daarom fokus 'n module wat McKay aan haar tweedejaarstudente bied op die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Die module is deels op 'n boek, geskryf deur Jeanne Viall, Wilmot James en Jakes Gerwel, gebaseer.


Grape – Stories of the Vineyards in South Africa is 'n boek wat deur almal in die wynbedryf gelees behoort te word," reken McKay..

 

Die module fokus op meer as net belangrike datums en mylpale. Dit lê ook klem op die mate waartoe die bedryf se ontwikkeling bygedra het tot sekere sosiale kwessies wat in Wes-Kaapse gemeenskappe voorkom.

 

“Om hierdie kwessies te bestudeer, veroorsaak 'n mate van ongemak by baie van ons studente, en natuurlik by my ook," erken McKay. “Om werklik te leer, is dit egter noodsaaklik dat 'n mens uit jou gemaksone beweeg – vir beide die dosent en die student."

 

McKay probeer om nie hierdie ongemaklike gevoelens te negeer nie, want sy glo dat hierdie leerproses uiteindelik tot voordeel van die wynbedryf is. Haar benadering is gegrond in haar oortuigings oor die belang van sosiale geregtigheid en etiese verantwoordelikheid.

 

“Hierdie waardes moet by studente gekweek word terwyl hulle hier aan die US ook al die 'normale' standaard tegniese en wetenskaplike vaardighede leer wat 'n mens met wynmaak assosieer," voeg sy by.

 

McKay het tydens die US se onlangse driedaagse konferensie oor Akademieskap van Onderrig en Leer (AvOL) in Somerset-Wes hieroor 'n referaat gelewer. Sy het vertel oor die module se teoretiese onderbou, asook oor haar ervaringe met die onderrig daarvan. Die titel van die referaat was: “Inhabiting a more ambiguous self: Using Discomfort to explore issues of Social Justice."

 

McKay erken dat sy aangenaam verras was toe die afgevaardigdes haar aanbieding as hul gunsteling gekies het. Daarby het sy ook die toekenning vir die beste referaat wat by die konferensie gelewer is ontvang, en ook 'n meriete-toekenning vir die opsomming daarvan.

 

McKay doseer sedert 2007 aan die US. Sy is een van vanjaar se ontvangers van die US Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig. Dit gee erkenning aan dosente wat die spreekwoordelike ekstra myl stap wanneer dit kom by die aanbied van goeie onderrig - 'n belangrike deel van die Universiteit se mandaat.

 

Die onlangse toekennings tel onder 'n reeks ander wat sy ook reeds ontvang het. In 2015 het McKay 'n Nasionale Toekenning vir Uitnemendheid in Onderrig ontvang wat toegeken word deur beide die Raad vir Hoër Onderwys asook HELTASA (Higher Education Learning and Teaching Association of Southern Africa). Dit gee erkenning aan uitsonderlike onderrigpraktyke aan Suid-Afrikaanse universiteite.

 

Die afgelope jaar was sy ook daartoe in staat om op haar eie onderrigpraktyke en die akademieskap van onderrig te fokus nadat sy in 2016 'n onderriggenootskap van die Universiteit ontvang het.

 

Sy stel belang in vernuwende maniere waardeur die wetenskapskurrikulum 'n sterker Afrika-konsep kan kry, en ondersoek deelnemende metodes waarmee studente toegerus kan word om gereed te wees vir die professionele wêreld, die werksplek en die toekoms.

 

Hierdie merkwaardige dosent glo in die waarde van praktiese ondervinding wat 'n stappie verder as die teoretiese gaan. Sy neem die terugvoering hieroor vanaf studente en die wynbedryf baie ernstig op. Dit is hoekom sy gehelp sorg het dat wynproe en die sensoriese evaluering van wyn op elke vlak van opleiding in die voorgraadse BSc-kursus in Wingerd- en Wynkunde ingesluit word. Studente stel ook deesdae 'n wynproe-portefeulje vanaf hul eerste tot derde jaar saam. Die program het die afgelope paar jaar 'n omwenteling ondergaan. Danksy die nuwe bedryfsgekoppelde benadering word die ontwikkelingsbehoeftes van studente sowel as die wynbedryf aangespreek.

 

As deel hiervan, is 'n strategiese diensleerkomponent in die kursus ingesluit waar veral tweedejaarstudente deelneem aan 'n georganiseerde gemeenskapsinteraksie-aktiwiteit sodat die gemeenskap uit die studenteskakeling voordeel trek en die student daaruit kan leer. McKay het navorsing oor hierdie benadering binne die konteks van hoër onderwys gedoen saam met die US se Afdeling Sosiale Impak, en het reeds referate daaroor by konferensies in Suid-Afrika, Ierland en die VSA gelewer.

 

McKay se benadering tot transformasie strek verder as net die wynbedryf. Dit sluit ook die sogenaamde STEM-velde van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde in. Sy is onder andere deel van 'n fokusgroep wat uit lede van verskillende fakulteite bestaan, asook 'n lid van die Universiteit se taakspan wat 'n “Decolonising the Curriculum"-dokument opgestel het. Medewerking met kollegas uit alle fakulteite - van Krygskunde tot Lettere en Sosiale Wetenskap -  het  tot publikasies oor sosiale geregtigheid gelei.

 

Daarby is McKay en kollegas van die Departement Wingerd- en Wynkunde ook al etlike jare betrokke by die Pinotage Youth Development Agency (PYDA). Hierdie nie-winsgewende organisasie rus jong mense van gemeenskappe in en om die wynlande van die Boland met beroepsvaardighede toe wat hulle in die wyn -en  toerismebedrywe kan gebruik. Dit sluit onder andere basiese laboratoriumvaardighede in, die sensoriese evaluasie van wyn, asook wynmaakvaardighede. Die onlangse onafhanklike evaluering daarvan het gewys dat die opleiding wat deur US-personeel gebied word 'n waardevolle komponent van die breër PYDA-program is.

 

“Sonder die hulp van 'n  'n uitstekende span so ek niks kon doen nie," sê McKay met waardering oor die bydrae van haar DVO-kollegas tot die sukses van PYDA.

 

McKay is ook dankbaar vir die waardevolle raad en ondersteuning wat sy van kollegas in die Sentrum vir Onderrig en Leer, sowel as die Afdeling Sosiale Impak, ontvang het.

 

“Hierdie soort werk vereis 'n grondige begrip van onderwys en sosiale teorieë en kan baie uitdagend vir 'n wetenskaplike sonder enige leiding wees," voeg sy by.

 

Foto onderskrif:

 

Universiteit Stellenbosch-dosent Marianne McKay (middel) en haar kollega Marisa Nell van die US Departement Wingerd-en Wynkunde saam met van die studente van die Pinotage Youth Development Agency (PYDA) aan wie sy ook opleiding en mentorskap verskaf. Hulle is Phelisa Ntsokotha, Simamkele Ncapayi, Masanda Mlanjeni, Yolanda Ngwevela , Yonela Zondwayo, Samkelisiwe Magwaza, Yolani Kaso, Mpontseng Ramathathaki, Emihle Ganyaza en Sisanda Samente.  Foto: Nomonde Kubheka