Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-swemmers in Meksiko vir Wêreld Para-swemkampioenskap
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 03/12/2017

Ander mense beskou Meksiko dalk as die perfekte na-eksamenbestemming, maar vir Maties Parasport se Alani Ferreira sal dit die plek wees waar hierdie jaar se harde werk en toewyding getoets word.

Dié eerstejaar- BCom-student en Paralimpiese atleet het verlede week na Meksikostad vertrek om aan die Wêreld Para-swemkampioenskap deel te neem wat van 2-8 Desember daar plaasvind.

Sy sal aan die 100m-borsslag, 100m-vlinderslag, 200m individuele wisselslag sowel as die 100m- en 400m-vryslagitems deelneem.

Die kampioenskap is na Desember uitgestel nadat 'n verwoestende aardbewing die land in September geruk het – minder as twee weke voordat die kompetisie moes begin.

Die uitstel en onsekerheid oor óf en wanneer die byeenkoms gaan plaasvind, het 'n negatiewe invloed op Alani se voorbereiding gehad.

“Ek is nie op dieselfde plek as waar ek was voordat die kampioenskap veronderstel was om plaas te vind nie. Hopelik sal ek wanneer ons die reis begin weer dieselfde ingesteldheid hê en gereed wees om te kompeteer.

“Ek kon die afgelope twee maande nie oefen soos ek graag wou nie omdat ek beserings langs die pad opgetel het. In hierdie stadium is my hoofdoel dus om te sien wat ek kan bereik met die harde werk wat ek ingesit het. Om die finaal te maak is altyd een van my hoofdoelwitte en hopelik sal ek myself aangenaam kan verras."

Alani het in 2011 aan Para-swem begin deelneem kort nadat 'n genetiese gebrek wat haar sig beïnvloed by haar gediagnoseer is. Sy neem in die S13-kategorie vir siggestremde swemmers deel.

Haar grootste prestasie tot dusver was toe sy vir die Paralimpiese Spele gekwalifiseer het en in 2016 gekies is om Suid-Afrika in Rio de Janeiro te verteenwoordig.

“My beste swemoomblik was toe ek my eerste kwalifiserende tyd (200m individuele wisselslag) vir die Rio Paralimpiese Spele by die kwalifiserende proewe in Durban geswem het. Ek kon nie die tydbord sien om te sien of ek gekwalifiseer het nie, en toe ek my spanmaats en familie hoor skree, was dit die mees oorweldigende gevoel," onthou sy.

Haar hoofdoel vir die volgende paar jaar is om vir die Tokio 2020 Paralimpiese Spele te kwalifiseer waar sy baie graag die finaal wil maak en op die podium staan.

Sy oefen omtrent 12 uur per week.

“Ek het 'n weeklikse plan waar daar spesifiek tyd vir studies ingeruim word. Ek probeer om die meeste van my studietyd voor my oefening in te pas omdat ek nogal moeg is ná die tyd. Tydbestuur en om te onthou wat die einddoel is, is definitief kernkonsepte."

  • Maties Parasport se Christian Sadie, 'n eerstejaarstudent in Teologie, sal ook aan die kampioenskap deelneem.