Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wie en waar is die sigbare wetenskaplikes in Suid-Afrika?
Outeur: Marina Joubert
Gepubliseer: 30/11/2017

Altesaam 211 wetenskaplikes in Suid-Afrika – minder as 1% van die wetenskaplike werksmag van die land – is geïdentifiseer as 'openbaar sigbaar' in 'n nuwe studie deur twee navorsers, Marina Joubert en Lars Guenther, by die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET/CREST) by die Universiteit Stellenbosch (US). Die studie verskyn in die jongste uitgawe van die South African Journal of Science (http://dx.doi.org/10.17159/sajs.2017/20170033).

“Hierdie sigbare wetenskaplikes word toenemend gesien as die nuwe wetenskaplike elite, omdat hulle sterk openbare profiele dit vir hulle moontlik maak om hulle idees te verkondig, besluitnemers te beïnvloed, wetenskap te verdedig en ʼn wetenskapkultuur in die samelewing te bevorder", verduidelik Joubert. “Hulle is ook die rolmodelle wat die openbare beeld van wetenskap in ons samelewing vorm."

Wetenskaplikes kan sigbaar word in die openbaar vir verskillende redes en op verskillende maniere. Sommige beland in die kollig wanneer hulle ʼn groot internasionale wetenskapprys wen. Ander word sigbaar as gevolg van ʼn besondere wetenskaplike deurbraak wat baie aandag van die publiek en die media ontvang. Sommige wetenskaplikes kweek goeie verhoudinge met joernaliste oor baie jare en belê baie tyd en moeite daarin om hulle werk toeganklik te maak vir die samelewing, en skep en onderhou sodoende ʼn openbare profiel. In alle gevalle is die betrokkenheid van die media, deesdae ook sosiale media, nodig om aansienlike openbare sigbaarheid in wetenskap te bereik.

Joubert en Guenther het ondersoek by watter instansies hierdie sigbare wetenskaplikes betrokke is, wat hulle navorsingsvelde en demografiese besonderhede is, nadat hierdie wetenskaplikes as openbaar sigbaar geïdentifiseer is deur ʼn groep wetenskap-media kenners. Meer as die helfte van die 211 sigbare wetenskaplikes werk by net vier van die universiteite in Suid-Afrika. Daar is 37 sigbare wetenskaplikes by die Universiteit van Kaapstad, 34 by die Universiteit van Witwatersrand, 20 by die Universiteit van Pretoria en 17 by die Universiteit Stellenbosch. Nadere ondersoek van die 211 wetenskaplikes onthul dat 78% van hulle blank is en 63% mans is. Die 18 wetenskaplikes wat die meeste sigbaar is, is gemiddeld 52 jaar oud. Die dringendheid om die openbare sigbaarheid van swart en vroulike wetenskaplikes te verbeter, word aangespreek, asook die nodigheid daarvan om jong wetenskaplikes vaardighede in openbare kommunikasie te leer.

Volgens hierdie studie is die twee mees sigbare wetenskaplikes in Suid-Afrika Prof Lee Berger (Universiteit van die Witwatersrand) en Prof Tim Noakes (Universiteit van Kaapstad). Die studie bespreek sommige van die faktore wat hierdie twee wetenskaplikes openbaar sigbaar maak. Prof Nox Makunga van die Departement Plant- en Dierkunde aan die US is geïdentifiseer as een van die 18 mees sigbare wetenskaplikes in Suid-Afrika. Sy werk met inheemse plante.

Marina Joubert is ʼn navorser in wetenskapkommunikasie en is verbonde aan ʼn leerstoel in wetenskapkommunisie by die Sentrum vir Navorsing oor Evaluasie, Wetenskap en Tegnologie (SENWET). Kontak haar by marinajoubert@sun.ac.za.

  • Photo: Prof Nox Makunga in gesprek met die joernalis Munya Makoni.