Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vaarwel, Prof Leopoldt van Huyssteen!
Outeur: Sandra Mulder/Corporate Communication
Gepubliseer: 21/11/2017

Prof Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Bedryfshoof van die Universiteit van Stellenbosch (US), sien nou uit na sy aftrede aan die einde van vandeesmaand, veral die vryheid wat hy gaan hê om sy lang lys van projekte aan te pak.

Hoewel van die projekte is om wyd te reis deur die land en Afrika, gaan hy nie heeltemal wegbreek van die akademiese wêreld nie.

Hy is as Akademiese Hoof by ʼn private onderriginstansie aangestel en sal na sy aftrede die pos vol staan. Sy nuwe uitdagings sal onder meer wees om leerplanne op te stel en leiers te kweek met die omgewing as katalisator.

Van die ander projekte is om weer die gevaarlike Van Zylspas met sy vierwielaangedrewe Pajero aan te pak en ook weer die gevaarlike roete in Lesotho te gaan ry waar sy voertuig jare gelede halflyf oor ʼn afgrond geëindig het. Hy wil weer die roete ry en kyk of sy voertuig nie weer oor die afgrond sal gaan nie. Prof Van Huyssteen stel ons gerus dat hy deesdae baie rustiger is en nie meer so wild ry soos toe hy jonger was nie.

Hy is in 1999 by die US as Hoof van die Departement Grond- en Landbouwaterkunde aangestel. 'n Paar maande later word hy  Dekaan van die Fakulteit Landbouwetenskappe. Daarna vervul hy ook die poste van Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe nadat die fakulteite van Landbou en Bosbou saamgesmelt het, lid van die Rektor se Bestuurspan, waarnemende Viserektor (Navorsing), waarnemende  Uitvoerende Direkteur: Innovasie en Kommersialisering, Uitvoerende Direkteur: Bedryf en Finansies en waarnemende Rektor en Visekanselier in 2014/2015. In 2013 is hy aangestel as die eerste Uitvoerende Bedryfshoof van die US.

Korporatiewe Kommunikasie Divisie het met hom ʼn afskeidsonderhoud gevoer oor die 18 jaar by die US. Hier is van die vrae wat aan hom gevra is:

Wat is die hoogtepunte oor die 18 jaar? Gebeure wat jou altyd sal bybly?

“Die kollegas by AgriWetenskappe het my gehelp om die landboufakulteit heeltemal om te draai van ʼn verliesmakende fakulteit na fakulteit wat die industrie goed dien en waarvan die studentegetalle amper verdubbel het. ʼn Hoogtepunt is ook die samewerkingsooreenkoms wat met die destydse Elsensburg Landboukollege geteken is en ook daardie graadprogram onder die vaandel van die US aan te bied. Die mark vir Elsenburg en die US het vergroot na hierdie ooreenkoms gesluit is. Die Innovasie- en Tegnologie Oordragkultuur wat in dieUS gekweek is saam met Anita Nel is iets wat hy onthou. Die totstandkoming van die LaunchLab staan ook uit. Onder die senior - en middelbestuur het ons ʼn redelike vlak van finansiële bestuursvolwassenheid ontwikkel om die Universiteit te bestuur."

 

Het die Universiteit verander oor die 18 jaar?

“Ja, die Universiteit het erg verander. Toe ek hier by eerste vergadering van dekane kom, het almal strepiespakke aangehad. By die huis gekom, het ek vir my vrou die aand gesê dat ek vir my ʼn paar pakke sal moet koop.  Gemaklikheid wat daar op die bestuur is en die formaliteit wat afgebreek is sonder om professionaliteit te verloor, sal my bybly. Toe die pos vir Dekaan: AgriWetenskappe geadverteer is, het  hulle gesê ʼn dekaan is die akademiese hoof van die fakulteit. Deesdae as hulle vir dekaan adverteer, soek hulle iemand wat ʼn bewese vermoë het van om fondse te werf, iemand wat bewys het om ʼn besigheid te kan bestuur. Ek dink die verandering is ten goede. Dit gaan nie daaroor dat universiteit gekommodifiseerd geraak of dat geld alles geraak het nie. Dit gaan daaroor dat jy jou akademiese projek en akademiese kundigheid aanwend saam met jou handelsmerk en die regte prys vra vir jou produk of dit nou studentegelde of navorsingkontrakte is."

Waar sal jy die Universiteit wil sien in die volgende 100 jaar?

“Een van die groot goed wat ons gedoen het en wat vorentoe gaan, is die inhaalinstandhouding en die opgradering van ons fasiliteite. Ons het die kampusvernuwingprojek begin implementeer met groot finansiële steun uit sogenaamde Raadsfondse. Ek dink ons gaan die volgende 100 jaar in met goeie infrastruktuur en met ʼn plan om dit in stand te hou."

Die universiteit sal mettertyd geprivatiseer word, sonder om die Staat as ʼn vennoot te verloor. Om dit te kan doen, sal daar nog baie water in die see moet loop.

Jy is bekend vir van jou uitdrukkings? Waar kom dit vandaan?

“In bestuurswese moet daar bestuurskrag wees, maar nie ʼn kragdadigheid nie en daar moet ook bestuurswil wees. Ek het oor die jare paar goedjies geleer om mense te help of myself te help om moeilike goed in bestuur gedoen te kry. As jy die raamwerk vir die begroting ontwikkel, dan sê ek byvoorbeeld ons het die “penne ingekap", nou moet ons tussen die penne speel. Akademici is mense wat glad met die mond en baie goed is met woorde. Ek luister baie goed en analiseer woorde. Ek omkring frases in teks en sê dan vir die mense “woorde het betekenis". Die goed kom natuurlik om die swaarheid van die harde kant van bestuur sagter te maak."

Wat weet min mense van jou?

“Ek is die beste werktuigkundige wat ek ken. Ek werk self aan my karre en my sleepgoed. Die nuwe karre se elektronika is ek ook besig om te leer saam met my seun," het Van Huyssteen gesê terwyl hy kyk of daar nie dalk nog motorolie aan sy hande is nie.​