Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Transformasie by die US – drie dae op ‘n slag
Outeur: Frieda le Roux
Gepubliseer: 15/11/2017

Om drie dae saam met 'n groep kollegas, verteenwoordigend van verskillende US-omgewings, deur te bring en oor sake soos rassisme, seksisme, gender en gestremdheid te praat, klink vir baie van ons intimiderend. Maar die meeste van die deelnemers aan Die Geleentheid vir ʼn nuwe normaal vir SU: Vaardighede vir personeel wat deur die Transformasie Kantoor aangebied word, sal jou vertel dat dit drie dae was waarin hul gedagtes vir nuwe idees oopgemaak is en hulle gehelp het om die uitdagings en veranderinge op ons kampus én in ons land beter te hanteer.

“Ek werk al 17 jaar by die US en hierdie werkswinkel is sonder twyfel die mees bruikbare opleiding wat ek in hierdie tyd gehad het – en dit is ook hoogtyd. Dit het my kop oopgemaak om nuwe maniere van doen te oordink," skryf een van die deelnemers in die terugvoer. “ Ek het nie geweet wat om verwag toe ek ingeskryf het nie. Om die waarheid te sê, ek het gedink dit gaan vervelig wees. Maar my ingesteldheid is heeltemal verander," lewer 'n ander kommentaar.

Maar waarom het SU-personeel 'n 'nuwe normaal' nodig? Monica du Toit, Hoof van die Transformasie Kantoor, sê die idee aan slegs een 'normaal' is seker die grootste struikelblok by 'n universiteit, waar daar 'n kontinuum van moontlikhede en opsies is om te bestuur. “Die kursus poog om ondersoek te doen na hierdie kontinume wêreldbeskouings, vermoeëns en ervarings." Die Geleentheid vir 'n nuwe normaal, met veranderinge gebaseer op die terugvoer, word sedert 2015 aangebied. “Ons het ook twee-uur lange sessies rondom temas wat in die drie-dag kursus vervat word wat ons by fakulteite of departemente kan aanbied."

Prof. Julian Sonn, dosent in Transformatiewe Leierskap by die Bestuurskool, werk saam met Monica. Met sy agtergrond en ervaring het kursusgangers opgemerk dat die “uiteenlopende kennis en agtergrond van die fassiliteerders baie sinvol en komplementerend is".

Tydens die drie dae word daar ook gekyk na die ervaring wat mense met gestremdhede op die kampus het. Wanneer 'n siggestremde die uitdagings verduidelik van oor die weg kom; of 'n braille-beampte vertel hoe die proses werk om handboeke en toetse in braille beskikbaar te stel, is 'n mens genoop om jou aanname dat almal soos jy deur die wêreld gaan, te herbesoek.

Omdat die deelnemers van verskillende agtergronde kom, hang dit van hul eie ervarings af wat hulle uit die werkswinkel neem. Een persoon het opgemerk dat sy “beter begrip het vir die studente se posisie en hul motivering vir dekolonisasie, en strukturele geweld wat op kampus voorkom." 'n Ander het weer gesê die “gesprek oor 'verkargtingskultuur' het my gehelp om sekere dinge te verstaan". En: “Die opleiding het my oë oopgemaak vir kwessies wat ek nie eers besef het bestaan nie."

Monica sê in een terugvoersessie het 'n deelnemer gesê die interaksie met kollegas het hom soveel hoop vir die toekoms gegee, hy het besluit om nie meer sy eiendom te verkoop met die doel om te emigreer nie.

“Vir my lê die waarde daarin om personeel van verskillende ouderdomsgroepe, omgewings en dissiplines te sien deelneem oor die soort universteit wat ons vir mekaar en die jeug wil wees. Die Universiteit is nie 'n siellose massa van instelleings nie. Personeel sukkel ook met identiteite en ons verlede, en hulle wil studente toegang gee tot die beste moontlike geleentheid om te groei."

Individue of fakulteite wat belangstel om 'n transformasie werkswinkel by te woon kan 'n e-pos stuur na mdt2@sun.ac.za.

Meer stof tot nadenke:

  • Gesprekke binne en buite die werkswinkel het my gewys op vooroordele wat ek teenoor wit Suid-Afrikaners koester.
  • 'n Beter begrip oor die effek van geïnternaliseerde rassisme.
  • My oë is oopgemaak – ek dink ek het in my eie droomwêreld geleef – nou weet ek dat mense wel die ekstra myl stap om die lewe vir ander beter te maak.
  • Om eerstehands die stories te hoor van mense wat daagliks met uitdagings leef het my meer bewustheid van en sensitiwiteit vir hul situasie gegee.
  • 'n Gesonde manier om te leer hoeveel ek nog moet leer en verander, nie net in 'aanvaar' nie, maar om ons verskille (sommige waarvan ek nie eens bewus was nie!) te omarm.