Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jason Evezard: Hy raak sport (en studies) baas
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 12/11/2017

By die onlangse Maties Sport-toekenningsaand is die Maties-waterpolospeler Jason Evezard twee keer na die verhoog geroep – een keer om volkleure vir sy waterpolo-prestasies te ontvang en nog 'n keer om 'n toekenning as akademiese toppresteerder te ontvang.

Ondanks die feit dat hy 'n paar keer oorsee moes reis om Suid-Afrika internasionaal te verteenwoordig, kon hierdie BCom Aktuariële Wetenskap-student in sy tweede jaar steeds 'n akademiese gemiddelde van 86% handhaaf.

“Dit gaan alles oor balans en om georganiseer en gefokus te wees. Om waterpolo te speel, is 'n passie en 'n baie belangrike deel van my lewe. Ek glo dat 'n gesonde verstand, liggaam en gees die sleutel vir 'n gesonde leefstyl is," sê Jason.

Sy eerste internasionale verpligting van 2017 was 'n toer na Pole in Mei om Suid-Afrika by die EU Unie-beker te verteenwoordig. Hy het daar groot indruk gemaak deur die meeste doele van die toernooi aan te teken. Suid-Afrika het silwer gewen.

“Ek was verras en baie bly. Dit was fantasties om erkenning te kry en om 'n positiewe bydrae tot die span te kon maak."

Nadat hy in Augustus kaptein van die SA o.20-span by die FINA Junior Wêreldkampioenskap in Serwië was, het hy direk na Taiwan gereis om deel te neem aan die Wêreldstudentespele in Taipei, saam met mede-Maties Lood Rabie, Lwazi Madi, Nicholas Downes, Jordan Rumbelow en Cameron Sugden.

Daar het hy 19 van Suid-Afrika se 53 doele aangeteken, wat hom die speler met die tweede meeste doele in die kompetisie gemaak het.

“Dit is 'n eer om SA internasionaal te verteenwoordig in 'n sport waaroor ek passievol is. Dit gee my die geleentheid om baie topwaterpolospelers te ontmoet en teen hulle te speel, sowel as om vriendskappe te smee met mense van oral in Suid-Afrika, asook die wêreld."

Jason, wat in 2015 aan Hoërskool Grey in Port Elizabeth gematrikuleer het, het begin waterpolo speel toe hy 11 jaar oud was.

Sy hoogtepunte sluit in om in 2013 vir die eerste keer gekies te word om Suid-Afrika te verteenwoordig by die o.18-drienasiestoernooi in Australië en om in 2016 vir die SA Senior Manspan gekies te word om aan die Olimpiese kwalifiseringstoernooi in Italië deel te neem.

Sy uiteindelike doelwit is om Suid-Afrika by die Olimpiese Spele te verteenwoordig.

Benewens die nodige tyd wat hy voor die boeke deurbring, oefen Jason sowat 16 uur per week – dit sluit gimnasium-, swem- en vaardigheidsessies in.

Hy gee egter nie om nie. Vir hom is daar geen nadeel verbonde aan waterpolo speel nie.

“Ek geniet die meeste watersportsoorte, wat branderplankry, waterski en kielwaterplankry insluit. Ek geniet ook musiek en bespeel die viool en die klavier."

  • ​Op plaaslike bodem het Maties Waterpolo se manspan in Oktober die USSA-kompetisie gewen.