Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
iMadiba deur Erhardt Thiel
Outeur: Frieda le Roux
Gepubliseer: 07/11/2017

​Die Matie-alumnus Erhardt Thiel se plan om die wêreld se grootste museum te skep, is stadig besig om vorm aan te neem.

Erhardt, 'n fotograaf van beroep, se eerste beeldhouwerk, iMadiba, se eerste oorsese inkarnasie behoort teen Junie 2018 by Michigan State University in Michigan, VSA, voltooi te wees. 'n Spesiale weergawe van hierdie werk is ook in Augustus vanjaar as grafsteen vir oudstryder Ahmed Kathrada opgerig. (Erhardt het self die beeld aan Kathrada verduidelik tydens dié se besoek aan Stellenbosch in November 2016.)

Maar die eerste van hierdie werk – volgens Erhardt die wêreld se kleinste museum – staan langs die US Museum, aan die Wilgenhof-manskoshuis se kant. Genoeg klein museums maak uiteindelik 'n groot een, en dit is die plan: om die beton-sitbankie, presies volgens die mates van Nelson Mandela se sel op Robbeneiland, op soveel as moontlik plekke reg oor die wêreld op te rig. “Dit is 'n 'listener's corner' eerder as 'n 'speaker's corner'," sê Erhardt. “Eers dan is die werk voltooi. Ek hoop dit help Suid-Afrika om van 'n vry land te vorder tot 'n vry en regverdige land."

Erhardt het inspirasie geput uit die nadraai van die sogenoemde Charlie Hebdo-aanvalle in Parys in 2015, waartydens 12 mense dood is. In pleks van om in solidariteit te sê Je Suis Charlie ('Ek is Charlie'), het Erhardt besluit op iMadiba, en eerder hierdie reus uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis te onthou en in sy spore te volg.

Buiten die beeld by die US Museum is daar nog twee iMadiba-prototipes in Stellenbosch opgerig: by Paul Roos Gimnasium en ook Jan Marais-park. Saam met 'n soortgelyke beeld uit hout wat by die Afrikaburn-fees in vlamme opgegaan het, het Erhardt hierdie beelde as oefenlopies gebruik om by die finale ontwerp en materiaalgebruik te kom. Nommers twee en drie word eersdaags by Mthatha en Qunu in die Oos-Kaap opgerig.

Met die steun van die Nelson Mandela Stigting, hoop Erhardt om in 2018, die jaar waarin Madiba se honderste geboortedag gedenk word, nog ten minste 100 beelde regoor die land en wêreld op te rig.

Maar die eerste een staan reeds by die Universiteit Stellenbosch.

Oor die US se betrokkenheid sê dr Leslie van Rooi, senior direkteur van Transformasie en Sosiale Impak: “Dit is vir ons goed om hande met Erhardt te kan vat rondom hierdie wonderlike projek. Dit is in pas met die US se waardes en bied aan ons die geleentheid om nuut te dink oor kritiese kuns op ons kampus. Die is vir ons 'n voorreg om die werk op die gronde van die US Museum te hê. Ek moedig alle personeel en studente aan om die iMadiba-werk te besoek."