Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nadoktorale genote agter die podium
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 01/11/2017


Die gehoor het behoorlik regop gesit en luister na sportwetenskaplike dr Zarko Krkeljas se praatjie oor rugpyn tydens die Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Nadoktorale Genote Navorsingsdag. Hulle stip gekyk terwyl dr Emma McKinney 'n paar wenke uitgedeel het oor hoe mens 'n na-aper gebare taal tolk kan uitken. En hulle het mooi geluister terwyl navorsing oor tuberkulose en skisofrenie bespreek is, en toe fisikus dr Ncamiso Khanyile verduidelik het hoe lasers gebruik word om uiters presiese metings te doen.

Die jaarlikse geleentheid is by STIAS gehou. Dit gee aan nadoktorale genote van die Universiteit die kans om te gesels oor hul navorsingsprojekte. Die dag is geborg deur die US Nadoktorale Vereniging, die Afdeling vir Navorsingsontwikkeling (ANO) US Internasionaal, Lanzerac Wyne, Van Schaik Boekwinkel en ABSA.

Praatjies is aangebied oor onder meer ingenieurswese, wiskunde, fisika en biochemie, en het navorsing op die gebied van die biomediese, sosiale en omgewingswetenskappe omvat.

“By die US werk 'n bedrewe netwerk van by die 330 nadoktorale navorsers. Hulle is afkomstig van Suid-Afrika en tientalle ander lande, en dra wesenlik by tot die navorsingsuitsette van die Universiteit," sê prof Eugene Cloete, US viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies.

 “Ek word altyd verras deur die kwaliteit van navorsing wat deur die Universiteit Stellenbosch se groep nadoktorale navorsers verrig word. Hulle doen wêreldklasnavorsing hier aan die voet van Afrika," sê dr Romina Henriques, wat as voorsitter van die US Nadoktorale Vereniging uitgetree het.

Grootwithaai-navorser dr Sara Andreotti van die Departement Plant- en Dierkunde het die Dirk Stephan/ANO-reistoekenning ontvang as die beste spreker. Die toekenning ter waarde van R15 000 is ingestel ter herinnering van wyle dr Dirk Stephan, 'n geliefde en gerespekteerde lid van die Vitis Laboratorium in die Departement Genetika. Hy was sedert 2007 'n nadoktorale genoot aan die US, en is later ook as navorser in diens geneem.

Die naaswenners was gebare taal-kenner dr Emma McKinney van die Departement Sielkunde en fisikus dr Daniel Nickelsen van die Nasionale Instituut vir Teoretiese Fisika (NIThEP). Hulle het geskenkbewyse van Van Schaik Boekwinkel ontvang.  

Dr Andreotti het ook die prys vir die beste video ontvang. Dr Waafeka Vardien van die Departement Hortologie het die toekenning vir die beste artikel gewen. Albei het kontantpryse ter waarde van R1000 van ABSA ontvang.

Ter afsluiting van die geleentheid is die nuwe uitvoerende komitee van die US Nadoktorale Genote Vereniging ook aangewys. Hulle is dr Natasha Mothapo (Departement Plant- en Dierkunde), dr Zarko Krkeljas (Departement Sportwetenskappe), dr Daniel Nickelsen (NIThEP), dr Itziar Iraola-Arregui (Departement Prosesingenieurswese) en dr Jacqueline Walubwa (Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe).

Tydens 'n skemerkelkie na afloop van die verrigtinge is 2017 se 20 beste nadoktorale genote aan die Universiteit Stellenbosch aangewys. Hulle is deur die kantoor van die viserektor: navorsing, innovasie en nagraadse studies aangewys, en het elkeen R10 000 ontvang.

Hulle is: Jose Luis Aleixandre Tudo (Wingerd- en Wynkunde), Mohsen Alimandegari (Prosesingenieurswese), Alexander Andrason (Afrikatale), Sara Andreotti (Plant- en Dierkunde), Chris Broeckhoven (Wiskundige Wetenskappe), Sjan-Mari Brown nee van Niekerk (Fisioterapie), Mareli Claassens (Pediatrie en Kindergesondheid), Marinus de Jager (Plant- en Dierkunde), Somayeh Farzad (Prosesingenieurswese), Laure Gallien (Plant- en Dierkunde), Brigitte Glanzmann (Biomediese Wetenskappe), Guilaume Greyling (Chemie en Polimeerwetenskap), Lars Guenther (CREST), Romina Henriques (Plant- en Dierkunde), Pietro Landi (Wiskundige Wetenskappe), Stephanie Malan-Muller (Psigiatrie), Palesa Natasha Mothapho (Plant- en Dierkunde), Ibukun Peter Oyeyipo (Mediese Fisiologie), Ethel Phiri (Agronomie) en Georgina Spies (Psigiatrie).