Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Planteteelt-laboratorium: 'n sleutelspeler in nasionale Koringteelt Platform
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 31/10/2017

Die Universiteit Stellenbosch se Planteteeltlaboratorium (US-PTL) is 'n sleutelspeler in 'n nasionale inisiatief wat daarop gemik is om die opbrengs en winsmarge waarteen koring in Suid-Afrika geproduseer word te verbeter. Die nasionale Koringteelt Platform (KTP) betrek kundiges vanuit die openbare en private sektore. Dit is amptelik van stapel gestuur op Dinsdag 31 Oktober 2017 tydens 'n besoek aan Stellenbosch deur die Minister van Wetenskap en Tegnologie, Naledi Pandor.

Die Platform het ten doel om nuwe saadvariëteite te ontwikkel wat Suid-Afrikaanse omgewingstoestande  kan weerstaan, en 'n groter koringopbrengs kan verseker.

Volgens die Minister vorm die Platform deel van haar Departement se bio-ekonomie strategie vir Suid-Afrika, en help dit om uitdagings wat op die vasteland ervaar word aan te spreek.

“Nuwe tegnologieë kan landbou in Afrika help vernuwe, en help om genoeg voedsame kos vir mense op die vasteland te verskaf," sê sy. “Ek sien uit na die biotegnologiese werk wat deur die Universiteit Stellenbosch gedoen gaan word, want ek glo dat die landbousektor dieselfde voordele vir die Suid-Afrikaanse ekonomie kan inhou, en die 'nuwe mynbou' kan word."

 

Meer oor die Koringteelt Platform

Volgens dr Marinda Visser, bestuurder van Graan SA se graannavorsing- en beleidsentrum, brei regeringsondersteuning via die KTP die bedryf se bestaande navorsings- en ontwikkelingswerk uit. Dit ondersteun bestaande planttelingsprojekte wat fokus op die verbetering van gewasse.

“Suid-Afrika is reeds bekend vir die kwaliteit koring wat produseer word. Met die Koringteelt Platform het ons ook nou 'n volhoubare verbetering in koringproduksie en -opbrengs in die visier," verduidelik dr Visser.

Die nasionale KTP is in 2014 op die been gebring en is sedertdien geformaliseer, uitgebrei en befonds om die US-Planteteeltlaboratorium se koringvoorteeltnavorsingsprogram in te sluit. Sedert 2017 is die Landbounavorsingsraad (LNR) se Kleingraan (KG) Voorteeltgroep ook deel van die Platform. Alle plaaslike telingsprogramme is reeds van meet af as vennote betrek.  Dit sluit die LNR se Kleingraan-groep asook industrievennote Sensako en PANNAR in. Befondsing kom van die Departement van Wetenskap en Tegnologie en die Wintergraantrust, en word via Graan SA se graannavorsing- en beleidsentrum gefassiliteer.

“Die behoefte vir so 'n geïntegreerde voortelingsplatform het van die bedryf self gekom. Die idee is gebore by 'n Koringforum in 2014, en het vorm gekry danksy 'n reeks daaropvolgende werkswinkels waarby rolspelers betrek is," vertel planteteler Willem Botes en leier van die US-PTL se navorsingspan. “Alle koringprodusente wil graag 'n groter opbrengs hê."

Botes sê dat die US-PTL danksy die KTP die afgelope drie seisoene reeds gebaat het by befondsing ter waarde van R13 miljoen. Beurse vir nagraadse studente in genetika met 'n fokus op planteteelt word hierdeur onder meer beskikbaar gestel. Die US-PTL het ook daarmee moderne toerusting aangekoop, soos 'n Wintersteiger eksperimentele plant- en oesmasjien, asook hommeltuie. 'n Perten 9500 naby-infrarooi spektroskopie-apparaat maak dit ook vir tegnici moontlik om belangrike kwaliteite van die koringkiemplasma waarmee gewerk word blitsig te toets. Dit sluit eienskappe in soos die proteïeninhoud, die voginhoud daarvan asook eienskappe wat met uiteindelike bakkwaliteit verband hou.

Die Wintergraangebou op die Welgevallen Proefplaas is ook onlangs gemoderniseer danksy befondsing wat verkry is van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe. Groeikamers is ten volle gemoderniseer, terwyl voorbereidingskamers en 'n plantweefselkultuurfasiliteit bygevoeg is. Beheermaatreëls in terme van bioveiligheid is ook verbeter. Die JH Neethling Kweekhuis, wat in 1949 danksy bedryfsbefondsing opgerig is, is gerestoureer om nou ook 'n saadlaboratorium in te sluit. Dit is bykomend tot die US-PTL se bestaande molekulêre laboratorium.

Agtergrond: die US se Planteteeltlaboratorium (US-PTL)

Die US-PTL het 'n tuiste op die Welgevallen Proefplaas naby die US-kampus. Dit vorm deel van die werksaamhede van die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Genetika in die Fakulteit AgriWetenskappe.

Die US-PTL se betrokkenheid by die Koringteelt Platform bou voort op sy reeds bestaande navorsingsprojekte wat op die voorteling van koring fokus. Hierdie projekte ondersoek onder meer hoe om groter weerstandigheid teen sekere biotiese en abiotiese stresskondisies in koringsaad in te bou.

“Voorteling is bes moontlik een van die beste maniere waarop mens bestaande of nuwe gene en kenmerke in saadtelingsprogramme kan inbring," verduidelik Willem Botes, leier van die US-PTL se navorsingspan.

Die US-PTL versprei reeds sedert 2003 kiemplasma (wat die genetiese materiaal bevat wat inherent is aan 'n spesifieke soort plant) aan alle rolspelers wat betrokke is by Suid-Afrikaanse koringtelingsprogramme. Plantgenetici by die US-PTL selekteer spesifieke kiemplasma wat kenmerke bevat wat op die ou einde koringproduksie kan verbeter. Dis sluit abiotiese kenmerke in soos droogtetoleransie en plante se vermoë om te groei te midde van ekstreme temperature of verskillende grondsoorte. Daar word ook gesoek vir biotiese kwaliteite wat plante meer weerstandig maak teen spesifieke soorte fungi (byvoorbeeld roes en fusarium), of wat meer beskerming teen sekere soorte insekte bied.

Om dit reg te kry evalueer US-PTL navorsers en nagraadse studente elke seisoen groot hoeveelhede kiemplasma. Dit word verkry of geruil by nasionale en internasionale vennote. Sekere soorte wilde grasse wat familie is van koring, soos die inheemse strandkoring (Thinopyrum distichum), word ook ondersoek.

Die kiemplasma wat sodoende geselekteer word, word gedurende telingsproewe by die US-PTL getoets. Belowende genotipes word dan uiteindelik aan die bedryfsvennote beskikbaar gestel sodat hulle dit verder tot saadvariëteite kan ontwikkel en uiteindelik aan koringboere te verkoop. Gereelde skakeling met rolspelers, insluitend koringprodusente, is daarom 'n belangrike komponent van die KTP.

Botes hoop dat hul navorsingswerk as deel van die KTP kiemplasma sal oplewer wat deur rolspelers soos PANNAR, Sensako en die LNR-KG in hul lente- en besproeiingstelingsprogramme getoets kan word. Sedert die begin van die Platform in 2014 het die US-PBL reeds kiemplasma aan hierdie rolspelers in die privaat- en openbare sektor verskaf, as deel van die Laboratorium se jaarlikse kiemplasma-verspreidingskwekery.

Een van KTP se sewe bene is 'n projek waaraan die SU-PTL en LNR-KG se voortelingsprogram saamwerk. Dit is die enigste projek in Suid-Afrika wat belyn is met die International Wheat Yield Partnership (IWYP), 'n internasionale vennootskap wat fokus op verbeterde koringopbrengs.

“Ons sien uit na die suksesse van die uitgebreide Koringteelt Platform, waarin die Universiteit Stellenbosch se Planteteeltlaboratorium 'n ankerrol vervul," sê prof Danie Brink, dekaan van die US Fakulteit AgriWetenskappe. “Daar is geen ander navorsingsgroep in Suid-Afrika wat jaarliks op dieselfde skaal as die US-PTL koringkiemplasma danksy hul voortelingsprojekte bekendstel nie."

“Hierdie projek sal verseker dat die Universiteit Stellenbosch aan die voorpunt bly van genetiese studies oor koring in Suid-Afrika, tot uitbouing van die bedryf," voeg hy by.