Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veekundige prof Kennedy Dzama se navorsing vereer
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 26/10/2017

Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekundiges (SAV3) het die waardevolle navorsingswerk erken wat verrig word deur prof Kennedy Dzama van die Universiteit Stellenbosch. Hy bestudeer veral die genetika van veerasse inheems aan Suid-Afrika. Hy het die Vereniging se Silwer Medalje in Port Elizabeth ontvang tydens ʼn goue jubileum gala wat deel was van die 50ste SAV3-kongres.

Die medalje word aan wetenskaplikes toegeken wat ʼn wesenlike bydrae tot die uitbreiding van die vakgebied maak.  Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Veekundiges  is ʼn professionele vereniging wat die veekunde-dissipline as ʼn beroep en bedryf nasionaal en internasionaal bevorder.

Prof Dzama is ʼn uitgelese professor en voorsitter van die Departement Veekundige Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Sy navorsing fokus op die genetiese evaluering van veral inheemse veerasse van Suid-Afrika. Dit sluit onder meer Nguni-beeste in.  Sy navorsingsgroep het al die vermoë van hierdie beesras om onder moeilike omstandighede te oorleef fyn ondersoek, en die ras se weerstand teen bosluise gedokumenteer.

Sy navorsingsbevindinge dra betekenisvol by tot die ontwikkeling van protokolle, standaarde en beleidsdokumente vir streeks- en internasionale organisasies soos die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC), die Sentrum vir die Koördinering van Landbounavorsing en -Ontwikkeling in Suidelike Afrika (CCARDESA), die Internasionale Lewende Hawe Navorsingsinstituut (ILRI) en die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO). In die proses het prof Dzama verskeie PhD- en meestersgraadstudente opgelei en meer as 150 eweknie-hersiene artikels en referate gepubliseer.

Prof Dzama sê hy is dankbaar vir die erkenning wat hy vanuit die geledere van die groter Veekunde-familie ontvang het. “Ons het al baie bereik, maar baie moet nog gedoen word. Ek wil veral daarop fokus om die veld van veekunde in te skakel by meer komplekse en oorkoepelende kwessies soos voedselsekuriteit en klimaatsverandering," het hy gesê.

  • Studente verbonde aan die US Departement Veekundige Wetenskappe het ook hul merk by die 50ste kongres van die SAV3 gemaak. Daniel van der Merwe het vir die tweede agtereenvolgende keer die beste dierevoedingsplakkaat ingeskryf. Alretha van Heerden, wat deel is van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Vleiskunde, het die beste studente-aanbieding gelewer. Nog 'n lid van hierdie leerstoel, Retha Engels, is aangewys as 2016 se beste finalejaar-student en het 'n nagraadse beurs van die Vereniging ontvang. Sy werk tans aan ʼn MScAgric-graad.