Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SANZAF-beurse bemagtig studente
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie
Gepubliseer: 19/10/2017

Studente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch, het net lof gehad vir die Suid-Afrikaanse Nasionale Zakáh-fonds (SANZAF) tydens 'n onlangse geleentheid waar dié organisasie 'n tjek van R776 150 oorhandig het vir studiebeurse.

“SANZAF het my nie net finansiël en akademies gehelp nie. Deur deel te neem aan hulle welsynsgeleenthede het ek ook as mens gegroei," het 'n tweedejaar mediese student by die FGGW gesê oor hierdie godsdienstige organisasie wat sosio-ekonomiese en opvoedkundige bystand bied.

“Ek is baie dankbaar teenoor SANZAF. Ek is een van vier kinders en die beurs help om die finansiële las op my familie te verlig," het nog 'n MB,ChB II-student gesê. “Dit voel asof ek 'n verskil maak as ek aan hulle uitreikprogramme deelneem, en dit herinner my aan hoekom ek 'n dokter wil wees – wat iets is wat jy kan vergeet as jy altyd besig is om te studeer."

Vanjaar het SANZAF gedeeltelike beurse aan 44 Maties-studente gegee, waarvan 34 aan die FGGW studeer.

“Ons leef in 'n era waar die behoefte baie groter is as die beskikbare hulpbronne, so ons is baie dankbaar vir enige ondersteuning," het prof Jimmy Volmink, Dekaan van FGGW gesê. “SANZAF is al vir baie jare 'n getroue ondersteuner, en julle steun is nie net gereeld nie, maar dit word ook elke jaar meer."

SANZAF samel fondse in deur die invordering van Zakáh ('n gedeelte van 'n persoon se rykdom wat aan behoeftiges geskenk word), wat dan aan sosiale welsyn- en opvoedkundige programme gaan wat poog om behoeftiges te bemagtig en by te staan.

“SANZAF is al vir 43 jaar aan die gang en het oorsponklik daarop gefokus om welsynsverligting te bied deur, ondermeer, die uitdeel van kospakkies. Ons het besef dat alhoewel dit verligting bring, dit nie die siklus van armoede breek nie en dat ons meer volhoubare intervensies moet ontwikkel. Vandag het ons die SANZAF Opvoeding- en Bemagtiging Ontwikkelingsprogram (SEED) wat beurse en beroepsopleiding bied, Islamitiese studies ondersteun, en ook 'n vroeë kinderontwikkeling- en 'n jeug mentorskap-program het," het me Yasmina Franke, Algemene Bestuurder van SANZAF in die Wes-Kaap gesê.

“Ons bedoeling is nie om mense afhanklik van SANZAF te maak nie. Ons wil mense bemagtig sodat vandag se beursontvangers eendag ook Zakáh kan bydra."

 

Onderskrif: (Voor) Me Yasmina Franke, prof Jimmy Volmink en me Faeza Govind. (Agter) Me Farah Fredericks, dr Therese Fish, prof Julia Blitz, mnr Arrie Hanekom.