Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Topdosente van fakulteit vereer
Outeur: Carmen Jacobs, Die Burger
Gepubliseer: 10/10/2017

Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se topdosentkompetisie is Vrydag, 6 Oktober, met 'n glansryke geleentheid by Clos Malverne Restaurant buite Stellenbosch afgesluit.

Die Fakulteit wys elke jaar sy topdosente aan in 'n kompetisie wat deur Die Burger geborg word.

Vanjaar se algehele wenner, Eloise de Jager, het te midde van luide applous haar toekenning in ontvangs geneem. Sy is 'n dosent in finansiёle rekeningkunde aan die Skool vir Rekeningkunde.

Vir haar gaan dosentskap oor veel meer as onderrig, want sy doen dit om mense te help. Sy het 'n lang lys van eienskappe wat na haar mening 'n voortreflike dosent kenmerk. “Ek dink jy moet ietsie van alles op daardie lys hê. Dit sluit in entoesiasme, passie, vriendelikheid, toeganklikheid en jy moet motiverend wees sowel as kennis van jou vak hê. Die belangrikste hiervan is om entoesiasties te wees oor onderrig én jou vak."

Die naaswenner van die 2017 topdosentkompetisie is prof Edwin Theron, dosent in ondernemingsbestuur en in die derde plek is statistiekdosent prof Sarel Steel.

Die kompetisie is vanjaar vir die sewende keer aangebied. Die Fakulteit se topdosente word bepaal deur die uitslae van 'n aanlyn-meningspeiling waarin voorgraadse en honneursstudente vir die beste dosent van hul keuse stem.

Uit die stemme word agt departementele wenners aangewys wat dan deurdring tot die eindrondte, waaruit die Fakulteit se topdosent gekies word. Vanjaar se departementele wenners was:

  • Samantha Adams (Departement Bedryfsielkunde),
  • Eloise de Jager (Skool vir Rekeningkunde),
  • Ulrike Kussing (Departement Logistiek),
  • dr Babette Rabie (Skool vir Publieke Leierskap),
  • prof André Roux (US Bestuurskool),
  • dr Debra Shepherd (Departement Ekonomie),
  • prof Sarel Steel (Departement Statistiek en Aktuariёle Wetenskap) en
  • prof Edwin Theron (Departement Ondernemingsbestuur).

Dié agt departementele wenners het elk 'n kontantprys van R20 000 ontvang. Die algehele wenner het 'n bykomende R30 000, die naaswenner R25 000 en die dosent in die derde plek R20 000 ontvang. Vir studente wat gestem het, was daar 10 pryse van R1 500 elk.

Siphesihle Ngema is een van die studente wat in die kompetisie gestem en die geleentheid bygewoon het. Mnr Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, het 'n Samsung Galaxy S7-slimfoon aan haar oorhandig as prys vir die beste kort toespraak oor waarom sy vir haar topdosent gestem het.

“Studente is belangrik omdat hulle sin gee aan die roeping van die mense wat ons vanaand vereer," het mnr Jordaan gesê. “Hulle is ook die mense wat aan hierdie kompetisie betekenis gee."

  • Foto regs: Siphesihle Ngema het 'n slimfoon gewen. Dit is deur mnr Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, aan haar oorhandig.

StudentWinner&WillemJordaan.jpg 

  • Banierfoto (v.l.n.r.): Prof Rachel Jafta (voorsitter: Media24) by topdosente prof André Roux (US Bestuurskool); Samantha Adams (Departement Bedryfsielkunde); prof Ronel du Preez, visedekaan: leer en onderrig; dr Babette Rabie (Skool vir Publieke Leierskap); Ulrike Kussing (Departement Logistiek); prof Sarel Steel (Departement Statistiek en Aktuariёle Wetenskap, en algeheel in die derde plek); prof Stan du Plessis, (aangewese) bedryfshoof van US; algehele wenner Eloise de Jager (Skool vir Rekeningkunde); algehele naaswenner prof Edwin Theron (Departement Ondernemingsbestuur); dr Debra Shepherd (Departement Ekonomie); prof Johan Malan, waarnemende dekaan; en Willem Jordaan, redakteur van Die Burger (borg van die topdosentkompetisie). Foto deur Hennie Rudman