Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US vereer voorste denkleiers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 10/10/2017

ʼn Bekende Suid-Afrikaanse dokumentêre fotograaf, kunstenaar, aktivis en historikus; ʼn  prominente mediese navorser wat baanbrekende navorsing vir ʼn MIV-entstof gedoen het; ʼn gewese regter van die Hooggeregshof van Suid-Afrika; en, ʼn boorling van Stellenbosch wat wêreldwyd ʼn reuse-inpak vir ʼn meer volhoubare samelewing gemaak het, word vanjaar deur die Universiteit Stellenbosch (US) vir hulle uitsonderlike bydraes tot die internasionale en Suid-Afrikaanse samelewing met eredoktorsgrade vereer.

Die ontvangers is mnr Omar Badsha, en proff Glenda Gray, Mervyn King en Markus Reuter. Die US-Raad het die eretoekennings onlangs goedgekeur en die grade sal by gradeplegtighede in Desember 2017 en in Maart 2018 verleen word.

“Dit is vir ons ʼn voorreg om die ontvangers op hierdie maner te vereer. Hulle het dit hul lewenstaak gemaak om die lewens van ander te verryk. Nou is dit tyd om aan hulle erkenning te gee as uitnemende rolmodelle vir ons almal,” sê prof Wim de Villiers, US-Rektor en Visekanselier.

Die US verleen jaarliks eredoktorsgrade om erkenning te gee aan uitnemendheid op ʼn verskeidenheid vakterreine en om sulke individue as rolmodelle vir die universiteitsgemeenskap te identifiseer.

  • Klik hier vir meer oor die ontvangers.
  • Foto's: Prof Markus Reuter (Kopierreg HZDR), prof Glenda Gray, mnr Omar Badsha (fotokrediet: Mads Norgaar) en prof Mervyn King