Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vier Matie-studente se resep vir sukses
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 18/10/2017

Toegewydheid, selfvertroue, deursettingsvermoë en losmaak van die gemaksone: dit is van die treffende eienskappe van die vier Universiteit Stellenbosch-studente wat ontvangers is van die toekennings vir die Gradstar Beste 100 Gegradueerde Werkgewers en Toekomstige Leiers vir 2017.

Lee Baatjes en Avuyile Mbangatha (albei besig met MB,ChB), Cameron Foster (Beleggingsbestuur) en Amy Pike (Skone Kunste en Sielkunde) het dié verering ontvang nadat hulle ingeskryf het vir Gradstar se nasionale aanlyn-kompetisie – 'n platform wat erkenning bied aan Suid-Afrika se voorste indiensnemers van gegradueerdes en ook die beste studente aan Suid-Afrikaanse tersiêre instansies vereer.

Dié vier ontvangers van die Gradstar-toekennings was dit almal eens dat hulle deelname aan die kompetisie 'n grootse ondervinding was wat onmeetlik baie daartoe bygedra het om hulle voor te berei vir die dag wanneer hulle 'n werksplek gaan betree.

Vir hom om een van die 100 Beste Leiers en Presteerders in die land te wees, is 'n fenomenale prestasie, meen Avuyile, veral aangesien hy een van die jongstes is.  Hy voeg by: “As gewese SA Junior Navorsingsambassadeur bied dit aan my 'n netwerk-platform en help my om my visie te vorm om eendag te kan teruggee aan die gemeenskappe en gesondheidstelsels."

Avuyile se raad aan studente is kort en kragtig: “Onthou die lewe is taai, maar jy is ook."

Amy se raad aan medestudente is om te soek na geleenthede en dié na te jaag.  Sy verduidelik: “Jy kan nie verwag hulle na jou toe moet aantou nie, jy moet daarna streef om as mens te groei en jou verantwoordelikheid te besef – nie alleenlik teenoor jou land, universiteit of portuurgroep nie, maar ook teenoor jouself.  Wees vasberade en selfversekerd ten opsigte van wat jy graag in dié wéreld wil bereik en wend al wat poging is aan om dit te behaal."  Sy meen sy is erg trots om een van die Beste Studente aan die US te wees, en is veral bly oor die erkenning wat daardeur aan kleiner departemente soos Skone Kunste aan die US verleen word.

Lee, wat as voorsitter van die Tygerbergse Studenteraad gedien het, meen alle studente ontvang gelyke kanse om voorspoedig te kan wees.  Hy sê hy kan al die hoedanighede, vaardighede en lesse wat hy in sy tyd aan die Universiteit geleer het, na sy toekomstige werksplek saamneem en verandering teweegbring.  Hy vervolg: “Studente behoort 'n gedissiplineerde en afgeronde lewe te lei.  Maak gebruik van iedere geleentheid wat na jou kant toe kom en wees 'n dienende leier in jou gemeenskap.  Maak jou los uit jou gemaksone en streef daarna om verandering ten goede in jou gemeenskap teweeg te bring."

Cameron was twee jaar agtereenvolgens een van die Beste Studente.  En, sê hy: “Ek voel ontsaglik geëerd, want in dié komptetisie word leierskap en werksgereedheid op die proef gestel."

  • Die proses om as een van die 100 Beste Studente aangewys te word, sluit onder meer psigometriese toetsing deur gebruikmaking van Testgrid in, asook die voer van onderhoude.  Die komptetisie is ontwerp om die werwingsproses, wat studente meemaak wanneer hulle aansoek om toelating tot 'n nagraadse program doen, na te boots.

 Die studente sal 'n toekenningsgeleentheid in Februarie 2018 bywoon.

Foto-onderskrif: Die Universiteit Stellenbosch se Beste Studente (vlnr): Cameron Foster; Amy Pike; Lee Baatjes en Avuyile Mbangatha.