Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD student erken vir kankernavorsing
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 22/09/2017

Megan Mitchell, 'n PhD student in die Departement Fisiologiese Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), het die gesogte Wyndham-toekenning vir die beste mondelinge aanbieding tydens die jaarkongres van die Fisiologie Vereniging van Suider-Afrika (PSSA) ontvang.

Megan is boonop die vierde student in die kankernavorsingsgroep, wat deur prof. Anna-Mart Engelbrecht gelei word, om dié toekenning te ontvang. Een van die vorige wenners, dr Ben Loos, is tans 'n dosent in die departement, terwyl dr Bali Sishi, ook 'n dosent, 'n naaswenner was. Beide het prof Engelbrecht as studieleier gehad.

Megan se navorsing fokus op die mikro-omgewing van kwaadaardige gewasse en die effek daarvan op die progressie van kanker en weerstandigheid teen behandeling. Terwyl behandelings soos chemoterapie vandag hoogs gevorderd is, bied dit nog steeds nie 'n oplossing vir pasiënte wat met metastase gediagnoseer word nie.

Megan verduidelik: “Kankergewasse is uiters kompleks. Daar is selfs genetiese verskille in gewasse van dieselfde oorsprong, sowel as interaksie tussen die nie-kwaadaardige selle en die kankerselle in die mikro-omgewing. Hierdie interaksie bevorder die verspreiding van die siekte en selfs weerstandigheid teen kankermiddels. Ek ondersoek die interaksie tussen hierdie selle en hoe dit bydra tot weerstandigheid."

Tydens haar navorsing het sy vir die eerste keer kon wys dat sekere kankerselle met nie-kwaadaardige selle kommunikeer deur middel van sekere faktore wat hulle afskei. Boonop blyk dit dat hierdie interaksie die verspreiding en aggressiwiteit van die kankerselle bevorder (metastase).

Hulle is een van die min navorsingsgroepe in die wêreld om nie net kankerselle nie, maar ook hul interaksie met selle in die onmiddellike omgewing te bestudeer. Hierdie tipe van navorsing vorm die basis vir moontlik nuwe terapeutiese benaderings vir die behandeling van kanker.

Megan, 'n oud-leerling van die Cambridge Academy in Witbank, sê sy het aanvanklik vir 'n kursus in paramediese studies ingeskryf omdat sy graag 'n mediese dokter wou word. Maar nadat sy met die intensiteit van padongelukke gekonfronteer is, het sy besluit om eerder op mediese navorsing te fokus.

Sy beplan om vanjaar haar PhD-graad te voltooi, en wil dan 'n loopbaan in mediese navorsing volg.

Meer oor die Wyndham toekenning

 Die toekenning, wat vir die eerste keer in 1986 toegeken is, is vernoem ter ere van prof. Cyril Wyndham, wat internasionaal bekend geword het vir sy navorsing op die fisiologie van hitte stress. Die toekenning word elke jaar toegeken aan 'n jong navorser met die beste mondelinge aanbieding tydens die Fisiologie Vereniging se jaarlikse kongres. Vanjaar het 36 studente vanoor die hele Suid-Afrika én internasionaal aan die kompetisie deelgeneem.

 Op die foto, PhD-student Megan Mitchell (links) en haar studieleier, prof Anna-Mart Engelbrecht.