Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
AB InBev en Universiteit Stellenbosch gaan saam navorsing doen oor bier se bestanddele
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 14/09/2017


Landboukundiges en voedselwetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn samewerkingsooreenkoms aangegaan met die multinasionale drank- en broumaatskappy Anheuser-Busch InBev SA/NV (AB InBev). Befondsing ter waarde van R6 miljoen sal hulle toelaat om spesifieke kwessies oor die volgende drie jaar aan te pak wat verband hou met die produksie van gars. Die navorsing sal ook gewasse soos cassava en sorghum insluit wat dikwels in ander Afrikalande gebruik word om bier te brou.

Die projekte word befonds deur die AB InBev Navorsingstoel in Agronomie, met prof Nick Kotze van die US Departement Agronomie aan die spits.

Volgens prof Kotze sal beurse ter waarde van R1 miljoen tans verskaf word aan ses voorgraadse en vier nagraadse MSc-studente aan die US. ʼn Verdere R1 miljoen word opsy gesit om verskillende navorsingsprojekte te befonds.

Volgens dr Nikki Else, AB InBev se bestuurder van navorsing en ontwikkeling: Landbou Afrika, is dit die grootste belegging nog in ʼn Suid-Afrikaanse universiteit deur haar divisie. Dit geld ook vir SAB Miller Bpk., met wie AB InBev in Oktober 2016 saamgesmelt het. Biere soos Budweiser, Stella Artois en Corona, sowel as plaaslike handelsmerke soos Castle Lager, Castle Lite, Carling Black Label, Lion Lager en Hansa Pilsener tel onder die gewilde AB InBev handelsmerke.

“Ons is opgewonde oor die samewerking, en glo dat die navorsing moontlike risiko's binne ons voorsieningsketting sal help beperk. Dit weerspieël ons toewyding tot Suid-Afrika, en verseker daarby dat ons aan die vereiste kwaliteit voldoen wat deur ons brouers en klante verwag word," sê dr Else.

Navorsing oor gars

Baie van die werk fokus op gars. Dit word gebruik in moutproduksie, en is daarom  ʼn kernbestanddeel van vele soorte bier wat wêreldwyd gebrou word.

Verskillende analitiese toetse sal ontwikkel word om vroeë fases van ontkieming in garssade te identifiseer, asook spesifieke garsdefekte. Hierdie parameters het almal ʼn invloed op die uiteindelike kwaliteit van die gars wat gebruik word om mout te produseer, en ook die volume daarvan wat beskikbaar is vir gebruik.

“Ons hoop dat die navorsing ons sal kan help om uiteindelik aanbevelings te formuleer om die opbergingspotensiaal van gars wat aan vroeë fases van ontkieming blootgestel was, te voorspel. Sodoende wil ons help verseker dat so min moontlik van hierdie gars verlore gaan voor of terwyl dit gestoor word," sê prof Kotze.

Navorsing oor cassava en sorghum

Navorsing oor cassava en sorghum sal fokus op die evaluasie van verskeie variëteite vir spesifieke agronomiese en kwaliteitskriteria. Dit sal op verskeie plekke in Afrikalande geplant word. Sodoende sal die optimum produksie van verskillende variëteite onder spesifieke klimaats- en grondtoestande bepaal kan word.

Volgens dr Else sal projekte verwant aan cassava en sorghum vir AB InBev help om 'n groter impak op plaaslike biermark in Afrika te hê.

“Deur hierdie projek hoop ons om riglyne aan produsente in hierdie lande te kan verskaf oor watter boerderytegnieke die beste werk om kwaliteit sorghum te produseer," verduidelik prof Kotze.

Voedselwetenskaplikes van die Universiteit Stellenbosch word ook by die projekte betrek. Hulle sal fokus op die opsporing van ʼn kwessie rondom kwaliteitsamestelling wat in die cassavaplant gevind word. Die projekspan bestaan uit prof Kotze, dr Else van AB InBev, asook dr Stefan Hayward en prof Pieter Gouws van die Departement Voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

“Laboratoriumfasiliteite om sulke toetse te doen is nie altyd beskikbaar in die afgeleë gebiede waar daar tipies met cassava geboer word nie," verduidelik prof Gouws van die US Departement Voedselwetenskap. “Daarom wil ons graag ʼn toetsstel ontwikkel wat vinnig en maklik in die veld gebruik kan word."

Die US-navorsers sal dus kyk na maniere om 'n bestaande Vitamien B12-gebaseerde chemosensor-tegniek aan te pas. Toetse kan tans slegs in ʼn laboratorium daarmee uitgevoer word.

 

Foto onderskrif:

By 'n vergadering om die samewerking te bespreek was (van links) Francois Smit (bestuurder van die Suid-Afrikaanse Garsteelinstituut SABBI), dr Stefan Hayward en prof Pieter Gouws (van die Universiteit Stellenbosch se Departement Voedselwetenskap), dr Nikki Else (AB InBev) en prof Nick Kotze (AB InBev Leerstoel in Agronomie en voorsitter van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch). Foto: Engela Duvenage