Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US polimeerwetenskaplike wen gesogte medalje
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 13/09/2017

Prof. Harald Pasch, uitgelese professor wat ook die SASOL navorsingsleerstoel in Analitiese Polimeerwetenskap by die Universiteit Stellenbosch (US) beklee, het die Suid-Afrikaanse Chemiese Instituut (SACI) se goue medalje vir 2017 gewen.

Die SACI se goue medalje word allerweë beskou as die hoogste vorm van erkenning deur die Suid-Afrikaanse Chemie-gemeenskap vir navorsingsbydraes van uitstaande gehalte.

Dit is die derde keer in vyf jaar wat hierdie gesaghebbende prys aan ’n navorser in die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap toegeken word. Prof. Len Barbour wat die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel (SARChI) in Supramolekulêre Chemie beklee, was die wenner van hierdie medalje in 2014. En in 2013 het Prof. Bert Klumperman (SARChI in Gevorderde Makromolekulêre Argitekture) dit gewen.

Prof. Pasch is in 2008 in die US se Departement Chemie en Polimeerwetenskap aangestel as die bekleër van die SASOL Navorsingleerstoel in Analitiese Polimeerwetenskap en hoof van die Afdeling Polimeerwetenskap. Sedertdien het sy navorsingsgroep, wat fokus op gevorderde polimeeranalise, gegroei tot een van die internasionaal toonaangewende groepe wat navorsing doen in die studieveld van polimeerfraksionering en -karakterisering.

Sy huidige navorsing fokus op multidimensionele vloeibare chromatografie, gevorderde spektroskopie, die ontwikkeling van analitiese metodes vir nanomateriale en hoë deurvloei- eksperimentering.

Vloeibare chromatografie is ’n skeidingstegniek wat algemeen gebruik word in die analise van polimere volgens hulle molekulêre grootte, chemiese samestelling en molekulêre argitektuur. Alle fisiese eienskappe van polimere, sowel as die hele bestek van polimeertoepassings (motorvoertuie, lugvaart, geneeskunde, mikroëlektronika ens.) is afhanklik van hierdie molekulêre parameters. Hierdie skeidingstegnieke is onontbeerlik vir die onderlinge afhanklikheid tussen molekulêre strukture en fisiese eienskappe.

In die Pasch-navorsingsgroep word verskillende vloeibare chromatografiese tegnieke gekoppel met mekaar in multidimensionele skeidingsopstellings Sodoende word nuwe analitiese tegnologieë vir komplekse polimere ontwikkel.

Prof. Pasch was ook die mede-outeur van twee van die nuutste en belangrikste handboeke in hierdie vakgebied, naamlik: Multidimensional HPLC of Polymers (Springer, 2013), saam met dr. Bernd Trathnigg van die Universiteit van Graz in Oostenryk; en Advanced Separation Techniques for Polyolefins (Springer, 2014), saam met prof. Muhammad Imrak Malik van die Universiteit van Karatsji in Pakistan.

Prof. Pasch het al meer as 300 ewekniebeoordeelde navorsingsartikels gepubliseer, waarvan 81 tussen 2012 en 2015 verskyn het. Hy word dikwels na nasionale en internasionale konferensies genooi as hoof- of gasspreker. Hy was al studieleier vir meer as 50 nagraadse studente (waaronder ook Duitse studente) van wie baie tans leiersposisies in groot maatskappye beklee.