Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kampvegter vir menseregte in gesprek met Russe, Suid-Koreane
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 11/09/2017

Prof Sandra Liebenberg, bekleër van die HF Oppenheimer-leerstoel in Menseregte in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US), dien op die Verenigde Nasies (VN) se invloedryke Komitee vir Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte waar sy haar posisie gebruik om hierdie regte vir mense regoor die wêreld 'n werklikheid te maak. Dié internasionale kampvegter vir menseregte sal vanaf 18 September tot 6 Oktober by die Komitee se 62ste sitting in Genève, Switzerland aan 'n hoëvlak-dialoog met Russiese en Suid-Koreaanse verteenwoordigers deelneem.

Op die vooraand van haar vertrek, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie aan die US met Liebenberg oor die Komitee, haar rol in die samesprekkings en haar passie vir menseregte gesels.

Jy is lid van 'n baie invloedryke VN-komitee. Kan jy ons meer oor die komitee se werksaamhede vertel?

Die komitee, bestaande uit 18 lede, sien toe dat die 165 lande, insluitend Suid-Afrika, wat die Internasionale Verdrag met betrekking tot Ekonomiese, Sosiale en Kulturele Regte bekragtig het, hul verdragsverpligtinge  nakom en hierdie regte implementeer. Hierdie verdrag is een van die belangrikste internasionale menseregteverdrae binne die VN.

Daar is twee belangrikste wyses waarop ons na lande se verpligtinge kyk: eerstens, deur die bestudering van hul vyjaarlikse verslae oor die stappe wat hulle geneem het om die ekonomiese, sosiale en kulturele regte wat in die vedrag beskerm word te implementeer, en tweedens, deur individuele klagtes aan te hoor. Hierdie verslae word dan saam met sogenaamde “skaduverslae" van nasionale menseregte-instellings soos Menseregtekommissies sowel as nie-regeringsorganisasies hersien.

Die onderskeie taakspanne van die Komitee tree dan in “konstruktiewe dialoog" met verteenwoordigers van die betrokke lande en identifiseer die sterk- en swakpunte van hul implementering van ekonomiese, sosiale en kulturele regte en vra hulle om na te dink oor die faktore wat dit vir hulle moeilik maak om hul verpligtinge na te kom. Ons maak ook 'n aantal spesifieke aanbevelings aan die lande oor prioriteitsareas vir verbetering oor die volgende vyf jaar wanneer verslae ingedien moet word.

Wat beteken dit vir jou om in so sulke uitgelese geselskap te wees en wat is die mees lonende daaraan om op die komitee te dien?

Ek voel baie geëerd en bevoorreg om op hierdie Komitee te dien. Baie van my kollegas is leiers op die gebied van ekonomiese, sosiale en kulturele regte, en ons het baie stimulerende gesprekke oor verskeie aspekte van ons werk. Daar is 'n etos van samewerking onder komiteelede, en ek is verbaas oor hoeveel werk ons gedoen gekry ten spyte van verskille in lede se politieke, ekonomiese, kulturele en wetlike kontekste. Besluite word meestal deur middel van konsensus geneem en ʼn mens moet effektief in 'n diverse en multikulturele omgewing kan funksioneer.

Watter kwessies sal in die komende gesprekke tussen jou taakspan en die Russiese en Suid-Koreaanse verteenwoordigers bespreek word?

Lede van die taakspan waarop ek dien, sal spesifiek fokus op hoe hierdie twee lande hul pligte nagekom het in terme van artikels 10-12 van die Verdrag, wat die reg op gesinsbeskerming; 'n bevredigende lewenstandaard (insluitend kos, klere en behuising), sowel as die reg op gesondheid behels. Ek moet hierdie lande se verslae sowel as inligting van nie-regeringsorganisasie en VN-agentskappe bestudeer en verteenwoordigers van hierdie lande vra hoe hulle hierdie artikels implementeer.

Waarom is hierdie kwessies vandag relevant, veral vir derde wêreldlande en die Globale Suide, insluitend Suid-Afrika?

Deur te leun op die ervaring van die Komitee en sy uitgebreide rekord rakende die hersiening van staatsverslae, kan lande soos Suid-Afrika baat by globale voorbeelde van goeie praktyke oor die implementering van ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte. Suid-Afrika kan ook sien waarom sekere sosiale beleide en wetgewing in ander lande misluk het. Vir my is die belangrikste waarde van die komitee se werk vir lande wêreldwyd die aandag wat dit vestig op die feit dat ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte menseregte is en dat sekere menseregte-beginsels gerespekteer moet word wanneer beleid en wetgewing ontwerp word om hierdie regte te implementeer.

Benewens gesprekke met Russiese en Suid-Koreaanse verteenwoordigers, wat sal nog op die agenda wees?

Ons sal die verslae van Colombië, Mexiko en Moldawië bestudeer en ook gesprekke voer met nie-regeringsorganisasie en nasionale menseregtekommissies uit die verskillende lande wat in hierdie sessie oorweeg word. Ons sal ook aandag skenk aan nuwe algemene verklarings, insluitend een oor die reg op die wetenskap sowel as grondregte.

Jy is passievol oor sosio-ekonomiese en menseregte. Hoe help jou werk op die komitee jou om hierdie passie uit te leef?

Ek kan beide my vaardighede en ervaring in sosio-ekonomiese regte vanuit die Suid-Afrikaanse konteks na 'n globale omgewing bring. Terselfdertyd het ek baie geleer oor die globale politieke en ekonomiese kragte wat ʼn invloed het op die toekoms van sosiale regte.  Ek kan hierdie insigte deelmaak van my navorsing en onderrig hier in Suid-Afrika.

Waar het jou passie vir sosio-ekonomiese regte/menseregte begin?

Nadat ek my graad in Regte verwerf het, het ek as kandidaatprokureur en later as prokureur in publieke belangereg gewerk. Ek het gehelp om gemeenskappe wat hulle teen gedwonge verskuiwings onder apartheidswetgewing verset het te verteenwoordig. Ek het ook arbeidsake vir die onafhanklike vakbondbeweging behartig. Ek het eerstehands gesien hoe nou verweef mense se huise, werk, basiese materiële behoeftes met hul gevoel van menswaardigheid en sekuriteit is. As hierdie basiese maatskaplike behoeftes nie deur die staat gerespekteer word nie, ondermyn dit mense se fisiese en sielkundige welwees en is dit baie ontmenslik. Dit het my oortuig dat ekonomiese, maatskaplike en kulturele regte fundamentele menseregte is en dit het vir my belangrik geword om te sien dat hierdie regte in ons nuwe Grondwet erken en geïmplementeer word.

Wat van hierdie spesifieke aspek van jou werk verskaf jou die meeste genot?

Dit is baie stimulerend om in my werk op insigte uit hierdie uiteenlopende velde te steun, en ook om met 'n verskeidenheid kundiges uit hierdie onderskeie dissiplines te skakel. As 'n prokureur voel ek ek het ʼn verantwoordelikheid om te werk vir wette en beleide wat meer omgee vir en ag slaan op die behoeftes van arm gemeenskappe. My werk op hierdie Komitee is een manier om tot hierdie doel in 'n globale konteks by te dra.