Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties baat weer by Vlakte-beurs
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 08/09/2017

“Dit is nog een van daardie historiese oomblikke wanneer ons ʼn draai in die verlede maak om ʼn ander, meer regverdige toekoms te skep," het die Universiteit Stellenbosch (US) se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, aan ʼn tweede groep Matie-studente om die Universiteit se Vlakte-beurs te ontvang, gesê.  

Hy het gepraat by ʼn vieringsgeleentheid wat Vrydagmiddag (8 September) in die Herinneringskamer in die US Argief op die Stellenbosch-kampus gehou is.

De Villiers, wat gesê het dat die Vlakte-beurs hom na aan die hart lê, het in 2015 die beursfonds tydens sy inhuldiging aangekondig as ʼn vorm van regstelling en ontwikkeling vir nasate van mense wat in die 1960's gedwing is om te skuif uit Die Vlakte, ʼn gebied naby aan die dorpskern van Stellenbosch. Hoofsaaklik bruin mense het hier gewoon, maar in die 1960's is hulle ingevolge die Groepsgebiedewet verskuif.

 

Selfoongebruikers klik hier.

“Terwyl die Groepsgebiedewet en gedwonge verskuiwings in Stellenbosch baie bitterheid veroorsaak het, kon dit nie daarin slaag om die bewustheid dat ons almal in hierdie dorp 'n ineengestrengelde geskiedenis het, vernietig nie. Deesdae werk die Universiteit hard daaraan om meer inklusief te word, en beide ons studente- en personeelsamestelling word stadig maar seker meer divers. Ons reik ook uit na die gemeenskap om die gaping tussen ons te vernou," het De Villiers gesê.

Ontvangers

Vanjaar se nuwe ontvangers is Kirsten Adams, ʼn Meestersgraadstudent in die Musiek; Ashley Solomons, ʼn tweedejaar BA (Visuele Kommunikasieontwerp)-student; Aqeelah Hendrickse, ʼn eerstejaar BA (Maatskaplike Werk)-student; Ethan du Toit, ʼn eerstejaar BCom (Finansiële Rekeningkunde)-student en Daniel  Adams, ʼn eerstejaar MB,ChB (Medies)-student. Melissa Hector (MB,ChB) en Wesley Gabriels (BA) se beurse is vanjaar voortgesit.

Dit maak ons trots om ons families van Die Vlakte te verteenwoordig. Dit is ʼn eer om die beurs te ontvang en om meer van ons studies te maak, het Kirsten Adams, wat ook by die geleentheid gepraat het, gesê. “Dit was nogal oorweldigend, die geskiedenis, en veral om in hierdie kamer te kom (die Herinneringskamer) wat die hele geskiedenis van Die Vlakte vertel waaroor ek nie met my familie gepraat het nie. Dit is nogal emosioneel om te weet wat my grootouers deurgegaan het en daar op die muur te lees dat hulle deur studente geskop is. Dit is hartverskeurend," het sy gesê.

“Dit is ʼn geleentheid vir ons om ons grootouers te eer. Dit neem ʼn groot gewig van ons skouers af om te kan studeer," het Daniel Adams, Kirsten se broer, gesê.

Ashley Solomons sê sy is dankbaar vir die beurs en dat dit ʼn geweldige ondersteuning is. “Dit is 'n lekker gevoel om die nalatenskap van jou grootouers te eers. Ek is bewus van die stryd wat hulle deurgemaak het en dat dit nog ʼn realiteit in hul lewens is. Ek dink nie die beurs maak op vir die hartseer wat mense deurgemaak het nie, maar dit is ʼn stap in die regte rigting waarby mense baat kan vind.

Aqeelah Hendrickse sê sy is dankbaar vir die beurs aangesien dit vir haar studies betaal. Haar pa en oupa is in Die Vlakte gebore.

Persone wat self in hierdie buurt gewoon het, asook hul kinders en kleinkinders kan om die beurs aansoek doen. Die beurs dek basiese klasgeld vir die minimum duur van die student se program

ʼn Gemeenskapskomitee help met die verifikasie van aansoekers se verbintenis met Die Vlakte terwyl toekenningskriteria deur ʼn beurskomitee toegepas word. Dié komitee bestaan uit drie persone uit die gemeenskap en drie US-personeellede.

Foto: Prof Wim de Villiers en Kirsten Adams (Fotokrediet: Anton Jordaan)