Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Korrupsie, wanbestuur verhoed beter lewe vir almal – Regter Navsa
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/09/2017

Korrupsie en wanbestuur dreig om ons grondwetlike visie van 'n beter lewe vir almal te laat ontspoor.

Só het Appèlregter Mahomed Navsa op Dinsdag (5 September 2017) gesê.

Hy het die 13de jaarlikse Menseregte-lesing van die Oppenheimer-leerstoel in Menseregte in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch (US) gelewer. Die geleentheid is deur prof Sandra Liebenberg, beklëer van die Oppenheimer-leerstoel in Menseregte aan die US, georganiseer.

Regter Mahomed Navsa het gesê korrupsie en wanbestuur lei daartoe dat die staat se pogings en hulpbronne nie die armes en minderbevoorregtes baat nie.

“Die Konstitusionele Hof maak dit baie duidelik dat korrupsie en wanbestuur 'n bedreiging vir menseregte inhou."

Navsa het bygevoeg korrupsie bedreig die welstand van die nasie en die wese van die samelewing.

Hy meen die waaksaamheid en vasberadenheid van die burgerlike samelewing; die onafhanklikheid en vasberadenheid van grondwetlike waghonde; en gebalanseerde ondersoek deur die media is noodsaaklik om die regering verantwoordbaar te hou.Navsa_Liebenberg.jpg

“Hiersonder is die konstitusionele visie bedreig en sal 'n donker en 'n rampspoedige toekoms die gevolg wees."

“Die beskerming en bevordering van ons demokrasie vereis waaksaamheid en voortdurende agitasie deur die burgerlike samelewing."

Navsa het gesê ons moet die land se wette en instellings gebruik om korrupsie en wanbestuur te beveg en ons demokrasie te laat slaag.

“Wat nodig is in die stryd teen korrupsie en wanbestuur, is 'n waardering vir die belangrikheid van wette en instellings wat fundamenteel is tot die sukses van ons demokrasie. Hierdie waardering moet in die nasionale psige ingeprent wees."

“Diegene van ons wat weet watter hoë prys vir bevryding betaal is, vir wie die oppergesag van die reg van allergrootste belang is, moet alles doen om kinders, studente en die groter bevolking bewus te maak dat openbare verteenwoordigers en ampsdraers daar is om hulle te dien en dat die vele grondwetlike en wetgewende instrumente tot hul beskikking gebruik moet word om te verseker die regering en ander met magsbelange word verantwoordbaar gehou."

“Daar moet voortgesette openbare opvoedingsveldtogte wees wat dit duidelik maak dat ons demokrasie op die oppergesag van die reg gebaseer is en dat ons 'n nasie van wette en nie van persoonlikhede is nie."

“Instellings wat in die lewe geroep is om te verseker die uitoefening van mag vind binne wetlike en grondwetlike perke plaas moet hul pligte nakom en hul grondwetlike mandate uitvoer."

Navsa het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om aktiviste te word om grondwetlike waardes te bevorder en te verseker dat veral die armes en kwesbares nie aan die verwoestende uitwerking van magsmisbruik blootgestel word nie.

Hy het gesê indien die grondwetlike visie van 'n beter samelewing weens korrupsie en wanbestuur nie ʼn werklikheid word nie, ons demokratiese projek as ʼn skouspelagtige mislukking beskou sal word.

  • Hooffoto: Regter Mahomed Navsa lewer die Menseregte-lesing.
  • Foto 1: Prof Sandy Liebenberg, Regter Mahomed Navsa, en prof Nicola Smit, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerheid, voor die lesing.
  • Fotograaf: TC Kieck