Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ontbrekende data skrik dosent nie af nie
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 05/09/2017

Johané Nienkemper-Swanepoel, 'n PhD-student in Wiskundige Statistiek en biometrie-dosent aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs die International Federation of Classification Societies (IFCS) se Helga and Wolfgang Gaul Stiftung-toekenning van €2000 ontvang. Dit word elke twee jaar deur die IFCS toegeken aan 'n uitstaande navorser jonger as 30.

Hierdie veelsydige dosent en student sê haar doelwit is om haar PhD-tesis met die titel Biplots for categorical data: focus on missing data teen die einde van 2018 in te handig sodat sy haar PhD-graad in 2019 kan ontvang – voordat sy 30 is!

Haar studieleiers is proff Niël le Roux en Sugnet Lubbe van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap.

  • ​​​Die volgende artikel is deur Engela Duvenage namens die Fakulteit Agriwetenskappe geskryf en op 21 Augustus 2017 op die fakulteit se webtuite gepubliseer:

 

Ontbrekende data" jaag Biometrie-dosent soggens uit die bed

Johané Nienkemper-Swanepoel is een van daardie rare mense wat navorsing doen net om ander wetenskaplikes te kan help om hul eie ondersoekwerk deegliker te doen. Hiervoor gebruik dié PhD-student en dosent aan die Universiteit Stellenbosch se Departement Genetika haar kennis oor statistiek, toegepaste wiskunde en rekenaarprogrammering. '

Sy skryf gepaste sagteware om die kwessie van onvolledige of ontbrekende data te omseil en wel te kan visualiseer. Hierdie visualisering-toepassing sal ander navorsers help om ten beste sin te kan maak uit die data wat hulle met soveel noukeurigheid ingesamel het, selfs wanneer sekere onontbeerlike brokkies inligting ontbreek.

“As mens toepaslike tegnieke het om die kwessie van ontbrekende brokkies data te hanteer, is dit voorwaar moontlik om meer inligting uit byvoorbeeld 'n onvolledige vraelys te onttrek of afleidings daaruit te maak. Dit beteken dat navorsers nie hul steekproef kleiner hoef te maak net omdat data by sommige deelnemers of metings ontbreek nie," verduidelik Nienkemper-Swanepoel.

Sy het lede van die fakulteit uitgenooi om databronne wat hulle beter sou wou benut aan haar te voor te lê.

Hierdie biometrie-dosent aan die Departement Genetika se harde werk is in Julie beloon met die Helga en Wolfgang Gaul Stiftung-toekenning ter waarde van 2000 euro. Dit word elke twee jaar deur die International Federation of Classification Societies (IFCS) toegeken aan 'n uitstaande navorser wat jonger as 30 jaar is. Nienkemper-Swanepoel het pas teruggekeer uit Japan waar sy vroeër die maand uittreksels uit haar navorsing by die IFCS se 2017-konferensie voorgedra het, en kans gehad het om die Gaul-egpaar te ontmoet.

Haar belangstelling in wiskundige raaisels het op hoërskool begin, toe sy by 'n inspirerende leerkrag ekstra wiskundeklasse geneem het. Sy onthou ook met genoegdoening hoe sy reeds in Graad 7 haar basiese kennis van wiskunde ingespan het vir haar eerste projek vir 'n wetenskapskou. Sy wou bepaal of daar 'n verband is tussen handskrifvaardighede en die hoeveelheid tyd wat babas op hul maag deurbring.

“As ek nou terugkyk, was dit 'n duidelike aanduiding dat ek eendag 'n navorser sou word, en passievol oor die toepassing van die vak statistiek," kan sy nou met die wysheid van nakennis getuig.

Kuns en kultuur

Dit sou verkeerd wees om Nienkemper-Swanepoel as jou tipiese wiskundefoendie te wil beskryf. Voordat sy haar uiteindelik toegelê het op studies in wiskundige wetenskappe aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het Nienkemper-Swanepoel met die gedagte gespeel om medies of selfs drama te gaan studeer. In haar skoolloopbaan aan C & N Meisieskool Oranje in Bloemfontein, het sy Vrystaat-kleure vir klopdans ontvang en ook ses medaljes by die Wêreldkampioenskap vir Uitvoerende Kunste in Los Angeles verower. Hierdie uitmuntende uitvoerende kunstenaar was ook die onderleier van Bloemfontein se Kinderkoor.

Gedurende haar jare aan die Universiteit van die Vrystaat het sy genoeg tyd gevind om haar koshuis se kultuurverteenwoordiger te wees asook 'n lid van die vroue A Capella-groep Amaranth Echo, wat in 2009 vyfde geëindig het in die internasionale Varsity Vocals-kompetisie in New York. Dié groep het ook uiteindelik in 2011 'n CD vrygestel.

Navorsing ter wille van ander wetenskaplikes

In haar honneursjaar het Nienkemper-Swanepoel se besluit om haar studies met haar passie vir kamermusiek te kombineer vrugte afgewerp. Sy het uiteindelik in 2012 die Senaatsmedalje vir die beste honneursgraad-student aan die UV ontvang.

In 2011 was sy die jongste aanbieder by die Suid-Afrikaanse Statistiese Vereniging (SASV) se jaarlikse konferensie. Sy het aan leiers in haar veld verduidelik hoe om die statistiese metode genaamd gepaarde vergelykings te gebruik om die optimale posisie te bepaal waarin lede van 'n A Cappella-groep behoort te staan om hul algehele intonasie, dinamika en balans presies reg te kry.

Sy het geen steen onaangeraak gelaat toe sy haar MSc in Wiskundige Statistiek by UV aangepak het nie. Dit het haar net 18 maande geneem om haar ondersoekende studies oor die hantering van ontbrekende waardes in meerveranderlike kategoriese datastelle te voltooi. Sy het gefokus op hoe om onvolledige vraelyste met ontbrekende brokkies inligting op so 'n manier te gebruik dat geloofwaardige resultate uit die bygewerkte data verkry kan word. Nadat sy die eerste prys ontvang het vir die beste nagraadse artikel wat by SASV ingedien is, het sy haar werk by die 60ste Internasionale Statistiek Instituut (ISI) se 2015 Statistiekkongres in Rio de Janeiro in Brasilië aangebied. Haar navorsing het haar hierna ook na Spanje, Italië en Portugal vir konferensies geneem. Sy het ook reeds in die Journal of Classification gepubliseer.

Hierdie lid van SASV geniet dit om saam te werk met kollegas in die US se Departement Statistiek. Op 'n internasionale platform is sy gekies om SASV se Meerveranderlike Data-ontleding spesialisgroep (MDAG) op die raad van die International Federation of Classification Societies (IFCS) te verteenwoordig.

“Dit is 'n voorreg om Suid-Afrika by vergaderings te verteenwoordig en gedagtes te wissel met mederaadslede. Dit bied die geleentheid om die benadering en onderrig van klassifikasietegnieke in die Suid-Afrikaanse konteks bekend te stel, tesame met bewusmaking oor MDAG-aktiwiteite," sê Nienkemper-Swanepoel, wat hoop om haar PhD in Wiskundige Statistiek teen 2019 te verwerf.

Oor haar studieleiers, prof. Niël le Roux en prof. Sugnet Lubbe van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap aan die US, sê sy die volgende: “Die ondersteuning en leiding van my promotors is van onskatbare waarde. Ek sal hulle nooit kan vergoed vir die tyd wat hulle in my toekoms belê nie."