Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Kamerkoor voltooi uiters suksesvolle Hong Kong toer
Outeur: Fiona Grayer
Gepubliseer: 24/08/2017

Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor het pas van 'n uiters suksesvolle toer in Hong Kong teruggekeer. Die koor is as gaskunstenaars na die 2017 Wêreld Jeug- en Kinderkoor Fees genooi, wat vanaf 17 tot 22 Julie 2017 plaasgevind het. 'n Uitnodiging van hierdie aard kan as 'n groot en besonderse eer beskou word.

Die Wêreld Jeug- en Kinderkoor Fees is een van die belangrikste koorfeeste ter wêreld en lok 200 deelnemende kore van regoor die wêreld.

Die jong ensemble, wat onder leiding van Martin Berger staan, het ontwikkel tot een van Suid-Afrika se voorste kamerkore—internasionaal gerespekteer en plaaslik relevant. Met 'n diversiteit in repertoire, verteenwoordig die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor die verskeidenheid koormusiekstyle wat in die land te vinde is.

Die koor het op die 18de Julie by die openingseremonie opgetree, die 19de Julie 'n volle aandkonsert aangebied en op die 20ste Julie by die Twintigste-Herdenking-Vieringskonsert van die vestiging van die Hong Kong Spesiale Administratiewe Streek gesing. Alle optredes is met oorweldigende entoesiasme van die gehoor ontvang.

Die Universiteit Stellenbosch Kamerkoor is vereer met die teenwoordigheid en ondersteuning van die Suid-Afrikaanse Konsul-generaal tot Hong Kong, Mnr Madoda Ntshinga, by beide die openingseremonie en die volle aandkonsert. Hy het die koor geprys dat hulle “...die  Suid-Afrikaanse vlag hoog hou soos ware ambassadeurs van ons land."