Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Diepbrein-stimulasie word eerste keer by Tygerberg ondergaan
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 22/08/2017

​ʼn Man met tardiewe distonie, ʼn toestand wat deur abnormale bewegings gekenmerk word, het dramaties verbeter nadat hy diepbrein-stimulasie (DBS) by die Tygerberg-hospitaal ondergaan het.

Die DBS-inplanting was ʼn eerste vir dié hospitaal en ook die eerste keer dat sodanige prosedure op ʼn volwasse pasiënt in ʼn Wes-Kaapse staatshospitaal uitgevoer is. Tot in daardie stadium is dit nog net op enkele kinders in die Rooi Kruis-kinderhospitaal gedoen.

Distonie is ʼn bekende newe-effek van ʼn antipsigotiese middel wat vir bipolêre gemoedsteurnis aan die pasiënt voorgeskryf is. Dit het egter voortgeduur nadat die medikasie gestaak is. Teen die tyd wat die operasie gedoen is, was die man reeds ses maande bedlêend.

Die operasie is behartig deur dr Armin Gretschel, ʼn neurochirurg aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), met toerusting wat deur Medtronic beskikbaar gestel is.

Volgens Gretschel is twee baie dun elektrodes weerskante van die brein in 'n diepliggende area, genaamd die globus pallidus, ingeplant om die elektriese impulse wat die bewegingstoornis veroorsaak, te blokkeer. Gesonde breinweefsel word nie hierdeur beskadig nie en die uitwerking daarvan kan, indien nodig, omgeswaai word.

Die elektrodes is daarna deur middel van ʼn draadjie verbind met ʼn battery-aangedrewe neurostimuleerder, ʼn toestel soortgelyk aan ʼn pasaangeër, wat onder die vel net onder die sleutelbeen ingeplant is.

Die hele proses, vanaf die skandering, het nagenoeg ses uur geduur. Die programmering word eers na die tyd gedoen en is behartig deur prof Jonathan Carr, Hoof van die Afdeling Neurologie aan die FGGW.

Waar die elektrodes ingeplant word, hang af van die rede vir die DBS-prosedure. Volgens Carr is dit tot dusver nagenoeg 300 000 keer wêreldwyd gedoen, met sowat 90% van die gevalle vir Parkinson se siekte. Nommer twee op die lys is essensiële tremors, gevolg deur distonie. Dis ook goedgekeur vir neurologiese toestande soos obsessief-kompulsiewe steurnis en Tourette-sindroom.

“Sommige distonie-pasiënte is ná die inplanting simptoomvry solank die stelsel werk," sê Gretschel. “Met progressiewe Parkinson se siekte word simptome verlig en word meer stimulasie benodig soos die siekte vererger."

Pasiënte met Parkinson se siekte sal tydens DBS wakker gehou word sodat met hulle gekommunikeer kan word. Dit kan egter nie met distonie-lyers gedoen word nie, weens die gevaar dat hul abnormale bewegings tot beserings kan lei in die staal-raamwerk waarin die kop vir die prosedure geplaas word.

Die ingeplante toestel is ongeveer so groot soos 'n vuurhoutjieboks (6 cm x 4 cm x 1,5 cm) en is battery-aangedrewe. Afhangend van die spanning wat benodig word, kan dit tussen twee en vyf jaar duur voordat die battery afgeloop het en die toestel vervang moet word.

Word die duurder herlaaibare opsie gekies – wat hier die geval was omdat ʼn hoë spanning vereis word – kan die battery bloot herlaai word deur ʼn herlaai-eenheid teen die vel te hou. Praktiese oorwegings speel egter ook ʼn rol in hierdie besluit. Pasiënte in veral landelike gebiede het nie altyd toegang tot elektrisiteit nie en dis ook nie ʼn opsie as daar onsekerheid is of ʼn pasiënt dit wel gereeld gaan herlaai nie.

Onderskrif: Prof Jonathan Carr

Foto deur: Damien Schumann