Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU – Fokus op Prof Juliana Claassens
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 22/08/2017

In 1991 was professor Juliana Claassens van die Departement Ou en Nuwe Testament deel van die eerste groep vroulike teologiestudente in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Vandag is sy die hoof van die Fakulteit se Gendereenheid en leef sy haar passie vir menswaardigheid en gender-regtigheid uit.

As deel van die US se Vrouemaand-vieringe het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie met Claassens oor haar navorsing gesels.

Jou werke fokus veral op dapper vroue in die Ou Testament en die eietydse relevansie van hul stories. Kan jy ons meer oor jou navorsingsgebied vertel?

My navorsing fokus op menswaardigheid, geregtigheid en veral gender-regtigheid. In my mees onlangse boek oor die weerstand van vroue in die Ou Testament gebruik ek Bybelse verhale oor vroue, wat op verskeie kreatiewe, nie-gewelddadige maniere die geweld van oorlog, verkragting, patriargie en armoede weerstaan, om te kyk na die verskillende wyses waarop vroue (en mans) vandag probeer om die verwoestende werklikheid van geweld in ons wêreld te oorkom.

Waar het jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin?

As voorgraadse student by die US, het ek ʼn liefde vir die Ou Testament ontwikkel danksy 'n baie inspirerende professor genaamd Ferdinand Deist. Eers later het ek met feminisme te doen gekry wat my die woordeskat gebied het om uiting te gee aan my ervaring as een van die eerste jong vroue-teologiestudente aan die US. Ek het toenemend bewus geword van Bybelse tekste se potensiaal om ons te help om die voortdurende manifestasies van geweld en onreg in ons wêreld te raak te sien, en om lesers te help om alternatiewe voor te stel van hoe die wêreld veronderstel is om te wees.

Wat geniet jy die meeste van navorser-wees?

Ek geniet dit om nuwe benaderings oor die interpretasie van antieke Bybelse tekste (hermeneutiek) deel te maak van die gesprek ten einde te sien hoe nuwe lae van betekenis geopenbaar word. Ek het byvoorbeeld onlangs die nuwe veld van trauma-hermeneutiek begin gebruik om veral die Bybelse profete te lees wat uit 'n baie traumatiese tyd na vore getree het. Hierdie spesifieke raamwerk vind goed aanklank by hedendaagse lesers omdat dit put uit 'n gemeenskaplike ervaring oor hoe pyn en lyding op sinvolle wyse hanteer moet word.

Wat beteken sukses vir jou?

Sukses is om gefokus te bly te midde van al die beproewings van die lewe, ook die professionele lewe, wat nie altyd maklik is nie. Om te hoor dat iemand jou werk gelees het en dat dit vir hulle iets beteken het, is waarskynlik vir my die grootste maatstaf van sukses. Dit is absoluut die moeite werd om studente iets te bied wat hulle sinvol vind en hulle help om anders te lees of te dink of selfs te leef.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek dink dit is deels as gevolg van gemeenskappe wat omgee, hetsy in die vorm van familie, vriende, kollegas, studente waar jy sterker, meer veerkragtiger word, en gereed is om selfs groter uitdagings en geleenthede aan te pak.

Wat hou jou aan die gang?

Ek het 'n sterk gevoel van geroepe wees. Ek glo regtig dat ek geroep is om die wêreld 'n beter plek te maak. Soos ek ouer word, dink ek waarskynlik nie meer soos my jeugdige self dat ek die hele wêreld kan verander nie. Maar ek probeer my bes om oral waar ek myself bevind, daardie klein hoekie van die wêreld 'n bietjie beter te maak.

Watter dinge geniet jy as jy nie met navorsing of klasgee besig is nie?

Ek is lief vir lees, films kyk, reis, en om in koffiewinkels te lees en te skryf. Ek geniet om lang ente in pragtige plekke te stap, en hou van lekker kos en wyn.

Het jy enige boodskap vir die volgende generasie vroue-navorsers?

Hou aan om te doen wat jy doen. Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. Maar deur toegewyd hard te werk, omring deur eendersdenkende individue en met ʼn passie om jou kundigheid op 'n groter konteks van toepassing te maak, is werk in Hoër Onderwys die wonderlikste ter wêreld!