Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Resia Pretorius met nasionale toekenning vereer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/08/2017

Een van die Universiteit Stellenbosch se top navorsers, Prof Resia Pretorius van die Departement Fisiologiese Wetenskappe, is Donderdag (17 Augustus 2017) met die Departement van Wetenskap en Tegnologie (DWT) se Vroue in die Wetenskap-toekenning vereer.

Pretorius het tweede geëindig in die kategorie: Uitstaande Vroue-wetenskaplike in Natuurwetenskappe en Ingenieurswese.

Die jaarlikse toekenningsgeleentheid is in Johannesburg gehou as deel van die DWT se Vrouemaand-vieringe. Die tema vir vanjaar se Vroue in die Wetenskap-toekennings was “Women`s Economic Empowerment in the changing world of work".

Volgens die organiseerders wil hierdie toekennings erkenning gee aan vrouewetenskaplikes en -navorsers wat as rolmodelle vir jonger wetenskaplikes en navorsers dien. Dit wil ook jong opkomende vrouenavorsers en -wetenskaplikes aanmoedig en beloon.

Pretorius het die Vroue in die Wetenskap-toekenning ontvang vir haar navorsing oor hoe verskeie inflammatoriese molekules rooibloedselle en bloedstolling beïnvloed, sowel as die rol van hierdie molekules in die ontwikkeling van inflammasie.

Sy en haar span het vasgestel dat klein hoeveelhede molekules wat in die selwand van bakterieë voorkom bloedklonte kan veroorsaak. Hierdie bloedklonte kan bydra tot chroniese inflammasie wat met verskeie nie-aansteeklike siektes soos Tipe 2-diabetes, Alzheimer en Parkinsons geassosieer word.

Pretorius se navorsing het gelei tot 'n beter verstaan van en nuwe ontdekkings rakende die funksionering van selle, proteïene en prosesse in bloedstolling tydens inflammasie.

Pretorius sê sy wil haar basiese navorsingsbevindings “in die mediese praktyk gestalte laat kry om die wêreldwye las van siekte en dood weens bloedklonte wat met verskeie inflammatoriese toestande geassosieer word te verlig." Abnormale bloedklonte kan lei tot beroertes, hartaanvalle en diep-aar trombose (bloeklonte in bene of arms).

“Ek wil graag 'n belangrike paradigmaskuif in ons verstaan van inflammasie fasiliteer deur nuwe benaderings te ontwikkel deur my navorsing oor die rol van bloedstolling in inflammatoriese siektes."

Benewens die Vroue in die Wetenskap-toekenning, het Pretorius in 2011 die gesogte Afrika-Unie Kwame Nkrumah-wetenskapstoekenning in die kategorie: Vroue-wetenskaplike in Basiese Wetenskap en Tegnologie gewen.

Sy is het ʼn gradering van Nasionale Navorsingstigting ontvang en word as 'n toonaangewende internasionale navorser op haar gebied beskou. Pretorius het wyd in internasionale akademiese vakjoernale en populêre tydskrifte soos Time and New Scientist gepubliseer. Sy het ook 8 boekbydraes die lig laat sien. Pretorius het reeds as studieleier vir 40 magister- en doktorale studente opgetree.

Finaliste vir vanjaar se Vroue in die Wetenskap-toekennings het in vyf kategorieë meegeding te wete Uitstaande Vroue-navorsers (met subkategorieë), Uitstaande Jong Vroue-navorsers, Navorsing en Innovasie wat lei tot sosio-ekonomiese impak en / of bemagtiging van vroue, DWT-beurse (magister- en doktorale studente) en TATA Afrika-beurse vir magisterstudente in Wetenskap, Ingenieurswese en Tegnologie.