Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Hokkie is 'n sport van passie en trots’
Outeur: Pia Nänny
Gepubliseer: 15/08/2017

Een van die onvergeetlikste foto's van die 2017 Varsity-hokkietoernooi  wys hoe Maties se vrouehokkiespan hul doelwagter, Nicole la Fleur, toetakel nadat sy 'n strafdoelhou uitgehou het om 'n 3-2-oorwinning in die naelbytstryd teen NWU-Pukke te verseker.

Die Maties-doelwagter se manjifieke pogings regdeur die kompetisie het nie ongesiens verbygegaan nie en sy is gekies om Suid-Afrika in Julie by die Hokkie Wêreldliga (HWL) se halfeindgeleentheid – 'n kwalifiserende toernooi vir die Wêreldbekerkompetisie – in Johannesburg te verteenwoordig.

Haar spanmaat, Tarryn Glasby, was ook by hierdie span ingesluit.

Terug by die Universiteit Stellenbosch, het Nicole, wat vir haar Nagraadse Onderwyssertifikaat (NOS) studeer, twee weke gerus voordat sy by Maties aangesluit het wat hul sewende agtereenvolgende Westelike Provinsie Grootuitdaagtitel najaag. Hulle het hierdie titel op Vrouedag, 9 Augustus, beklink.

Die Binnenshuise Interprovinsiale Toernooi (IPT) en Afrikanasiebeker in Oktober is ander toernooie op die kalender.

Alhoewel haar ster nou blink skyn, het Nicole oor die afgelope ses jaar ook tye van onsekerheid en teleurstelling beleef.

Sy weet hoe dit voel om in die groep te wees maar nie baie speeltyd te kry nie. Om van die tweede na die eerst span, en dan weer terug na die tweede span geskuif te word. Om vir die nasionale span gekies te word en dan van die radar af te verdwyn.

“Daar was 'n paar sulke jare," onthou sy. “Dit laat jou geestelik groei en maak dit vir jou moontlik om ander spelers wat ontmoedig voel, te bemoedig.

“Dit is nou lekker om terug te kyk en te sê dit was die moeite werd, al het jy nie altyd op daardie tydstip so gevoel het nie. Daar was 'n stadium toe ek gewonder het of ek wil aanhou veg om vir die nasionale span gekies te word."

Haar insluiting in die SA span om haar land by die HWL te verteenwoordig, is haar grootste prestasie tot op hede.

“Dit was fantasties – 'n droom wat bewaarheid is," sê Nicole.

Om in die HWL te speel, beteken egter nie dat sy outomaties vir die volgende toernooi vir die nasionale span gekies gaan word nie.

“Konstante keuring beteken dat jy die heeltyd jou vorm moet behou."

Dit is daarom 'n goeie ding dat Nicole vir Maties, wat sy as een van die mees professionele klubs in die land beskryf, speel.

“Die klub word baie goed bedryf en die bestuur en afrigters is baie professioneel. Ons ontvang gehalte-afrigting."

Akademie moet steeds eerste kom, al het sy 'n veeleisende sportskedule. As 'n NOS-student is Nicole tans besig met haar praktiese onderwysopleiding by haar alma mater Bridge House.

Ná ses jaar se studies en twee grade ('n voorgraadse en nagraadse graad in Sportwetenskap), is dit steeds vir haar moeilik om haar sport en studies te balanseer.

“Elke jaar is 'n uitdaging. En ek is nie iemand wat my tyd baie goed bestuur nie. Jy doen wat jy kan."

Sy beklemtoon die belangrikheid van die hulp en ondersteuning wat sy van vriende en klasmaats kry.

Hoekom druk sy deur?

“Hokkiespelers is baie passievol. Dit is nie 'n professionele sport nie en die ure wat jy insit, is vir die liefde van die spel. Want, jy moet nog steeds aan die einde van die dag 'n werk hê, selfs al speel jy vir jou land.

“Dit is nie vir almal nie, maar wat vir my uitstaan is die passie en trots."

En is dit die moeite werd?

“Ek is 'n Christen en ek doen my bes vir Hom wat vir my hierdie talent gegee het. Ek werk hard en ek speel hard vir Hom. Maar uiteindelik is dit Hy wat in beheer is. Ek is waar Hy my wil hê.

“Dit is die moeite werd as dit Sy doel dien."

Onderskrif: Maties vir hul naelbytoorwinning oor NWU-Pukke. Fotokrediet: SASPA