Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#Vroue@FMHS: Oorplantings is haar passie
Outeur: Jackie Pienaar-Brink
Gepubliseer: 04/08/2017

​Ná meer as 1 000 nieroorplantings is prof Elmin Steyn steeds verwonderd as 'n oorgeplante nier 'n gesonde rooi kleur aanneem wanneer die bloed deur die slagare en are begin vloei.

Dié passievolle oorplantings- en traumachirurg – en jare lange hoof van die Christaan Barnard-gedenkhospitaal se nieroorplantingseenheid – het in 2016 na haar alma mater, die Universiteit Stellenbosch (US), teruggekeer. Hier het sy in die Departement Chirurgiese Wetenskappe aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe as hoof van die Afdeling Chirurgie ingeval – 'n eerste vir 'n vrou in die akademiese omgewing.

Sy gee toe dit was ietwat van 'n kultuurskok om haar ná jare in die private sektor in die openbaregesondheidsorg-omgewing te bevind. Die verskil lê egter nie in die gehalte van die behandeling nie, benadruk sy, maar in die toestand van die pasiënte, met hoër konsentrasies van gevorderde siektes as toe sy in die negentigerjare hier as konsultant gewerk het.

“Aan die een kant is dit geweldig stimulerend en bied dit baie waarde wat potensiële navorsing en opleiding betref. Tóg kan mens nie die feit ignoreer dat die pasiënte laat presenteer weens hul sosio-ekonomiese omstandighede nie.

“Vervoer, opvoeding en armoede is 'n probleem, om nie te praat van die traumavlakke en interpersoonlike geweld, alkohol, dwelmmisbruik en geweld in die gemeenskap wat so 'n groot bydrae tot pasiëntgetalle lewer nie. Mens voel dat jy as chirurg net die eindproduk hanteer van 'n probleem wat eintlik op 'n ander manier voorkom moes gewees het."

Hoewel die Afdeling Chirurgie tradisioneel nie betrokke was by geweldsvoorkoming nie, meen sy dat 'n tipe opheffingstelsel geskep moet word wat dokters 'n groter inspraak hierin gee. Dalk met iets soos antigeweldboodskappe aan kinders om die siklus te probeer breek.

“Ek het in die tagtigs in 'n hospitaal gewerk waar pas begin is met 'n oorplantingsprogam vir swart pasiënte. Daar is toe nog geen oorplantings op swart mense gedoen nie, omdat verkeerdelik gemeen is dat dit as mediese behandeling kultureel nie aanvaarbaar sou wees nie.

“Ek het gesien watter effek dit op die lewe van iemand met eindstadium-orgaanversaking kan hê en het besef dit kan vir alle kultuurgroepe werk. Die hele komplekse situasie van iemand wat sterf en uiteindelik 'n paar lewens red, het my gefassineer. Fisies is dit ook 'n lekker operasie: Dis 'n vaskulêre prosedure wat noukeurige handewerk verg en ondanks die baie risiko's gewoonlik baie suksesvol is. Dis hoogs bevredigend vir sowel die chirurg as die pasiënt, wat onmiddellik beter voel."

Die regte van pasiënte lê dié beskeie chirurg – wat lank die noodeenhede van sowel die Christiaan Barnard- as die Vincent Pallottihospitaal bestuur het – ook na aan die hart.

Steyn het net lof vir die afdeling waar sy haar nou bevind. “Prof Brian Warren (haar voorganger) het 'n ongelooflik goeie kombinasie van talentvolle konsultante met die nodige vaardighede op 'n baie wyse manier saamgestel."

Die uitdaging is om 'n uitstekende diens te lewer aan die groot getalle pasiënte, maar terselfdertyd navorsingspublikasies te produseer en mense op te lei vir die hoëvlak-tegnologiese vaardighede wat hulle vir hul toekomstige loopbane nodig het. Maar gelukkig hou sy van uitdagings. En ondanks knelpunte soos die chroniese finansieringstekort in die provinsialegesondheidstelsel, ondervind sy nie net hier nie maar ook in Tygerberg-hospitaal besonder baie welwillendheid en ondersteuning.

Een van Steyn se doelwitte is om 'n pankreas-oorplantingsprogram in die Wes-Kaap tot stand te bring ten einde 'n kuur vir diabetes te vind. Vir hierdie uitdagende prosedure, waarvoor 'n span opgeleide chirurge benodig word, het sy reeds in Amerika ondervinding opgedoen.

In Suid-Afrika word dit tans net in Johannesburg gedoen, hoewel die eerste pankreasoorplanting in die laat sewentigerjare by die Tygerberg-hospitaal deur prof Don du Toit uitgevoer is. “Dis 'n nalatenskap wat die moeite werd is om te laat herleef. Dit sal egter net moontlik wees as die groot aantal potensiële skenkers in die verwysingsgebied doeltreffender geïdentifiseer, verwys en bestuur word."

Oor die jare was daar baie eerstes vir Steyn, soos die eerste vroulike president van sowel die Suid-Afrikaanse Oorplantingsvereniging as die Suid-Afrikaanse Traumavereniging. As traumakenner is sy wêreldwyd in aanvraag vir voorleggings en opleiding.

Steyn en haar man woon in Plattekloof in 'n huis wat getuig van haar liefde vir kunswerke versamel. Daarbenewens is sy gek oor die natuur, kook, wyn drink en vlieg, hoewel sy voel dat sy deesdae te min tyd as helikopervlieënier in die lug deurbring. “Watter beter manier is daar om te ontvlug?" sê-vra die vrou wat ook kuns-beskermvrou van die Suid-Afrikaanse Lugmagmuseum in Ysterplaat is.

Onderskrif: Prof Elmin Steyn

Foto: Damien Schumann