Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Musiek studente wen top pryse by ATKV-Muziq
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 03/08/2017

Twee studente van die Departement Musiek in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe het weggestap met die top pryse by die nasionale instrumentale klassieke musiekkompetisie ATKV-Muziq, wat op 29 Julie in Parow, Kaapstad, gehou is.

Die 24-jarige pianis en meestersgraadstudent Sulayman Human (foto) was die algehele wenner van die kompetisie en het ʼn prys van R65 000 ontvang, terwyl Cameron Williams (saksofoon), ʼn tweedejaar BMus-student, die algehele tweede prys van R32 000 ontvang het. Beide studente het ook addisionele pryse elk van R8 500 ontvang – Human vir die Beste Vertolking van ʼn Barok of Klassieke Werk vir sy vertolking van Mozart se Sonate nr.10 in C majeur, K330; III. Allegretto en Williams vir die Beste Vertolking van ʼn Suid-Afrikaanse Werk vir sy vertolking van A. Stephenson se Inleiding en Allegro. Die algehele derde prys van R16 000 is aan Jeffrey Armstrong (viool) toegeken.

ATKV-Muziq is die grootste en mees toonaangewende jaarlikse klassiekemusiek-kompetisie in Suid-Afrika wat onder andere internasionale pianiste Ben Schoeman en Megan-Geoffrey Prins as algehele wenners opgelewer het. Deur middel van die kompetisie, maak die ATKV ʼn bydrae tot klassieke musiek in Suid-Afrika. Die kompetisie is oop vir jong musici tussen die ouderdom van 15 en 27 met R180 000 in totaal wat as prysgeld uitgeloof word.

​Foto: Pianis en meestersgraad-student Sulayman Human was die algehele wenner van die ATKV-Muziq kompetisie vanjaar. (Verskaf)