Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Danie Brink aangestel as nuwe dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 03/08/2017

In Julie vanjaar het prof Danie Brink twee uiteenlopende uitdagings aangevat. Die een was om die moordende Bergrivier Kanomarathon vir 'n tweede keer aan te pak. Die ander was om die uitdaging te aanvaar om as dekaan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit AgriWetenskappe in sy honderste bestaansjaar in te lei, en verder te posisioneer as 'n leier op die gebied van landbou-onderrig en navorsing in Afrika. Hy neem reeds sedert 2014 in hierdie posisie waar.

Die meeste mense ken hom as 'n reënboogforelkenner, 'n leier op vele fronte, 'n lid van talle regeringsadviesgroepe en die persoon wat die eerste voorgraadse graadprogram in akwakultuur aan 'n Suid-Afrikaanse universiteit ingestel het.  Hy's egter ook 'n buiteleweliefhebber. Dié ywerige roeier het al meerdaagse kayak-ekspedisies in Chili, Kroasië, Lesotho, Malawi en in Suid-Afrika onderneem. 'n Natuurlike gevolg van sy besluit om in 2015 net vir oefening by die Maties Kanoklub aan te sluit, was dat hy deur die “ou manne" van die klub ingepraat is om die Berg in 2016 vir die eerste keer aan te durf. Vanjaar het hy dit weer gedoen, tiende in die ouderdomsgroep vir roeiers tussen 55 en 60 jaar gekom, en algeheel 58ste klaargemaak.

Hy sê die vyf dae alleen in sy enkelkano het hom kans gegee om te besin oor die talle ooreenkomste tussen sy dekaanverpligtinge en die ultramarathon. So is daar die feit dat albei net haalbaar is as jy besliste doelwitte vir jousel stel, deeglik beplan én hard werk om jou mikpunte te bereik.  

“Mens maak ook ontsettend staat op die ondersteuning en samewerking van ander, waarsonder jy dit nie sou kan vermag nie," voeg prof Brink by, wat die kanomarathon onder meer voltooi het in die geselskap van ervare Bergrivier-deelnemer prof Johan van Rooyen van die Fakulteit se Standard Bank Sentrum vir Agribesigheid Ontwikkeling en Leierskap.

Die ervarings het hom ook geleer dat mens altyd moet regmaak vir onvoorsiene én onbekende uitdagings, en dat jy eenvoudig aanpasbaar en gereed moet wees om oplossings te soek – anders sink jy dalk net.

Daarvan kan dié voormalige voorsitter van die Departement Genetika beslis getuig. Sedert hy eers as vise-dekaan in 2013 en toe enkele maande later as waarnemende dekaan aangestel is, het Suid-Afrika se hoër onderwyslandskap tientalle skommelinge ondergaan, waaronder die #feesmustfall-beweging. Hy het as dekaan begin waarneem nadat prof Mohammad Karaan gekies is om die landboubedryf in Suid-Afrika se Nasionale Beplanningskommissie te verteenwoordig.

In die proses het prof Brink byna oornag in voltydse diens van die hele fakulteit begin staan, en nie net meer van die Departement Genetika of die Divisie vir Akwakultuur wat hy in 1988 op die been help bring het nie.

“Dit vereis noodgedwonge 'n breër visie en strategiese aanvoeling vir die groter omgewing van die fakulteit, binne die universiteit as geheel en ook in konteks van eksterne belangegroepe," vertel hy. “Daardeur kry mens 'n eiesoortige geheelbeeld oor die fakulteit en raak jy toenemend bewus van sy sterk punte en tekortkominge."

Sy verbintenis met die fakulteit strek veel verder terug as die 33 jaar sedert hy in 1984 as 'n tegniese assistent in die plantteeltafdeling van die Departement Genetika aangestel is nie. Nadat dié inwoner van Garies in die Noord-Kaap in 1977 aan Hugenote Hoërskool in Wellington  gematrikuleer het, het hy in 1983 sy eerste graad ('n BScAgric in Genetika en Dierefisiologie) cum laude aan die US verwerf. Daardeur het hy ook die gesogte Paul van der Bijl-medalje ontvang wat steeds aan die beste student in die fakulteit oorhandig word. In 2004 het hy sy PhD Agric in Genetika verwerf met 'n studie oor genetiese metodes wat gebruik kan word om die groeikoers van reënbaoogforel te verhoog.

Sy inisiatiewe en navorsing rondom akwakultuur is in 2003 onder meer beloon met 'n toekenning deur die Suider-Afrikaanse Akwakultuur Vereniging. Dié lid van die Wêreld Akwakultuur Vereniging  het in 2006 'n medeprofessor in genetika geword. In 2008 is hy aangewys as die Wes-Kaapse Landboukundige van die Jaar. In dieselfde jaar het hy ook 'n Rektorstoekenning van die US vir sosiale betrokkenheid gekry, onder meer vir sy ondersoeke na en betrokkenheid by die totstandkoming van talle kleinskaalse akwakultuurprojekte in Suid-Afrika en Namibië. Hy het al oor die jare heen gemeenskappe van Hondeklipbaai tot Malawi, Lesotho en Namibië help oplei, en het ook op die direksies van entiteite soos AquaStel, NutroScience, die Overstrand Plaaslike Ekonomiese Ontwikkelingsagentskap en die Hands-on Fish Farmers Koöperatief gedien.

Hierdie ervaringe het 'n goeie onderbou gegee vir sy nuwe uitdaging as fakulteitsleier. As waarnemende dekaan kon hy reeds die afgelope drie jaar deeglik besin oor die rigting waarin hy dit wil en moet stuur. Dit geld vir die navorsingsvelde waarop toenemend gefokus moet word, asook die uitbreidings wat nodig is om dit 'n toonaangewende én finansieel  volhoubare entiteit te maak binne die US, die hoër onderwyslandskap en 'n kompeterende omgewing.

Onder die inisiatiewe wat hy reeds gedryf het, is die AgroHub by Welgevallen Proefplaas. Daardeur is nuut gedink oor van die onderbenutte geboue waaroor die fakulteit beskik. Na 'n volledige herontwikkeling word kantoorspasie nou op 'n langtermynbasis verhuur aan verwante navorsingsinstellings soos HORTGRO Science, Citrus Research International en AgriSA. 

Dit gaan egter vir prof Brink oor meer as net die wete dat die boeke klop, en dat die Fakulteit op 'n goeie finansiële peil is. “Onder die grootste uitdagings is om ons studente beter te verstaan, te akkommodeer en ten beste toe te rus om hul toekomstige rol in die samelewing te vervul," reken prof Brink, wat glo dat die landbousektor heelwat onontginde loopbaanopsies vir jongmense inhou. Daarom het hy ook onlangs samewerking bewerkstellig met Agricolleges International.

“Die grootste lekkerte sover was om die suksesse van ons studente, personeel en projekte te kon ervaar en daarin te kon deel," vertel hy. “Dit sluit in die vreugde van 'n student wat met moeite wel uiteindelik graad vang, tot die uitmuntende akademiese prestasies en navorsingsuitsette van andere."

Onlangse suksesse soos die eksterne evaluerings van die departemente van Voedselwetenskap en Hortologie onderstreep vir hom die kwaliteit van onderrig en navorsing waarvoor die Fakulteit bekend is. Nie verniet is dit lys die jongste hoër onderwys-ranglyste dit as die beste landboufakulteit in Afrika en onder die beste 50 ter wêreld nie!

Dit het egter sy prys om voltyds vir 'n fakulteit te moet sorg. So moes prof Brink die afgelope tyd klasgee prysgee. “Ek mis veral die intimiteit van skakeling met studente binne die klasruimte, en die wyse waarop mens die persoonlike ontwikkeling van sommige individue kan ervaar en ondersteun," vertel prof Brink, vir wie die bywoning van 'n gradeplegtigheid altyd 'n besonderse hoogtepunt is.

Die laaste van die meer as 40 nagraadse akwakultuur-studente waaroor hy as studieleier 'n wakende oog kon hou, het juis in Maart vanjaar graad gevang. Daardeur het hy 'n waardevolle bydra help maak aan die uitbou van hierdie groeiende landboubedryf binne én buite Suid-Afrika se grense.

Hy reken dat die landbousektor 'n toenemend belangrike rol in ekonomiese ontwikkeling, ekologiese volhoubaarheid en sosiale welvaart gaan speel. “Daarom is toepaslike kundigheid oor landbouproduksiestelsels, dienslewering binne die sektor en regdeur die waardeketting so belangrik, om te kan bybly by die gevorderde aard van die moderne wetenskap, tegnologie en inligtingstelsels en die kompleksiteite van volhoubaarheid, voedselsekerheid, globalisering  en klimaatverandering," sê hy. “Landbou-onderrig, vanaf sekondêre tot tersiêre vlak, is dus van kardinale belang vir die skep van geleenthede, die lewering van dienste en die integrasie van kennis om produktiwiteit en volhoubare ontwikkeling te verseker."

Hy glo daarom dat meer navorsing nodig is oor hoe inligtingstegnologie en ekonomiese analises gebruik kan word om beter en meer akkurate besluitneming binne die landbousektor te verseker. Transdissiplinêre studies moet aspekte rondom mikrobes en mikrobiome, bioproduktiwiteit, grondvrugbaarheid en waterkwaliteit aanspreek. Agro-ekologiese ontwikkelings en meer kennis oor die bestuur en detail van ons biodiversiteit moet ekologiese volhoubaarheid help verseker, terwyl meer insigte nodig is oor aspekte rondom die kwaliteit, standvastigheid en toeganklikheid van voedselstelsels.

Dis 'n steil berg om uit te klim, maar een waarvoor hy kans sien. “Ek het tydens my termyn as waarnemende dekaan lojale ondersteuning van my kollegas en opbouende advies van belangegroepe ervaar, en wil graag daarop voortbou," sê hy. “Dis veral die koppeling tussen die Universiteit en die industrie en spesifieke belangegroepe wat my interesseer."