Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU – Fokus op Dr Christine Steenkamp
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 01/08/2017

In die laat negentigerjare het dr Christine Steenkamp fisika by die Universiteit Stellenbosch (US) begin studeer en nooit kon dink dat sy ʼn dekade later as ʼn baanbreker op die gebied van laser-spektroskopie beskou sou word nie. Steenkamp, ʼn ontvanger van verskeie navorsingstoekennings, is die leier van die innoverende Lasernavorsingsinstituut in die Departement Fisika. As deel van die US se viering van Vrouemaand, het Korporatiewe Kommunikasie met Steenkamp oor haar navorsing gesels.

Jy is een van die min vroue in veld van laser-spektroskopie. Kan jy ons meer oor jou navorsing vertel?

In my navorsing gebruik ek lasers om meer oor atome, molekules en soliede materiale uit te vind. My gunsteling is om atome en klein molekules, wat onsigbaar is vir die blote oog, in hul gasfase te bestudeer, en te kyk hoe die wonderlike eienskap van dié deeltjies om kleure van lig te absorbeer benut kan word. Ons kan dit gebruik om hul interne struktuur en massa te bepaal, vas te stel hoe hulle roteer en vibreer, en wat die gas se digtheid en temperatuur is. Deur hierdie inligting met astronomiese waarnemings van groot teleskope te kombineer, ontdek sterrekundiges waarvan ver afgeleë sterre en sterrestelsels gemaak is, hoe ver hulle weg is, en hoe sterre gedurende hul leeftyd verander. Hulle kan selfs bepaal of dinge soos die massaverhouding van klein deeltjies (protone en elektrone) in 'n atoom oor miljarde jare verander het.

Waar het jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsveld begin?

Ek was nog altyd geïnteresseerd om te weet hoe dinge werk. Dit het my by fisika uitgebring.

Wat is vir jou die lekkerste van navorser-wees?

Ek is nie net 'n navorser nie. Ek is ook 'n akademikus en 'n opvoeder. Ek geniet die kombinasie. Navorsing hou my loopbaan interessant; gee my probleme om op te los en nuwe projekte om te beplan. Navorsing maak dit vir my moontlik om met entoesiastiese nagraadse studente en 'n verskeidenheid navorsers regoor die wêreld saam te werk. Daar is nooit 'n saai oomblik nie.

Andersyds help klasgee, die onderrig van voorgraadse studente, die betrokkenheid by kurrikulumontwikkeling en die opleiding van nagraadse studente om sin aan my loopbaan te gee. Ek help berei jongmense voor om die toekoms te bou en om 'n verskil te maak. Om energie en tyd in onderwys en opleiding in te sit, is om in die toekoms van Suid-Afrika te belê en dit is nou meer nodig as ooit tevore.

Wat beteken sukses vir jou?

Ek het gekies om vir die afgelope 10 jaar deeltyd​​s te werk; daarom moes ek vir myself definieer wat “sukses" beteken sonder om my loopbaan met dié van ander te vergelyk. Vir my is sukses om op ʼn 100% betroubare en etiese wyse tot die wetenskap by te dra, om 'n verskil in my studente en kollegas se lewens te maak en vir my familie om te gee.

Waaraan skryf jy jou sukses toe?

Ek het 'n loopbaan gekies in 'n veld waarin ek goed is. Ek is lief vir wat ek doen en wil altyd my beste gee. Ek het baie goeie professionele verhoudings met al my kollegas en baat by die wedersydse ondersteuning, veral van my kollegas in ons Lasernavorsingsinstituut. My belangrikste ondersteuningspan is egter die span by die huis: my ma, my man en ons drie kinders. Hulle verseker dat ek 'n gesonde balans handhaaf en herinner my altyd daaraan dat my identiteit en waarde as mens baie belangriker is as my loopbaan.

Het jy enige boodskap vir die volgende generasie vroue-navorsers?

Wees jouself, respekteer jouself en jou vermoëns en moet nie jouself met ander vergelyk nie. Kweek aftief goeie professionele verhoudings met jou kollegas op alle vlakke. Handhaaf ʼn gebalanseerde leefstyl. Onthou jou loopbaan is ʼn reis en nie ʼn bestemming nie, en die “skilderagtige roete" kan net so vervullend en suksesvol wees as die sogenaamde “snelweg na sukses".