Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Opening van nuwe en verbeterde Van der Sterr-kompleks gevier
Outeur: Pia Nanny
Gepubliseer: 31/07/2017

’n Feniks wat verrys uit die as.

Dit is hoe prof Johan Malan, waarnemende dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US), die nuwe en verbeterde Van der Sterr-kompleks beskryf het by ’n funksie ter viering van die heringebruikneming van die gebou.

Rolspelers wat betrokke was by die herontwerp en herbou van die Van der Sterr-gebou – insluitend senior universiteit- en fakulteitbestuur, verteenwoordigers van die universiteit se fasiliteitsbestuursafdeling, lektore, studente en borge – het Vrydag, 28 Julie vir hierdie heuglike gebeurtenis in die voorportaal van die gebou bymekaargekom.

Die gebou, wat die Skool vir Rekeningkunde en die Departemente Logistiek sowel as Statistiek en Aktuariële Wetenskap huisves, is op 22 Februarie 2015 in ’n brand verwoes.

“Ons was gelukkig dat die brand op ’n stil Sondagoggend uitgebreek het en nie gedurende die week nie – wanneer tot 2000 mense per uur hierdie kompleks gebruik. Niemand is beseer nie, maar die skade was aansienlik,” onthou prof Stan du Plessis, die US se aangewese bedryfshoof en dekaan van die fakulteit ten tye van die brand.

Ná baie aanbiedings van hulp deur ander fakulteite sowel as die breër gemeenskap en menige ure se harde werk, het die fakulteit daarin geslaag om die ontwrigting van die akademiese program tot ’n minimum te beperk.

Lesingfasiliteite, sowel as personeellede van die Skool vir Rekeningkunde se kantore, is deur die brand vernietig en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooïeerde Rekenmeesters (SAICA) het in daardie stadium sy eie ondersoek ingestel om seker te maak dat die Skool in staat sou wees om sy program aan te bied.

Die feit dat die BRekHons-klas van 2015 uiteindelik vroeg in 2016 die beste slaagkoers – 94% – uit 14 SAICA-geakkrediteerde universiteite in SAICA se aanvanklike bevoegdheidstoets (ITC) behaal het, getuig van die Fakulteit en die Skool vir Rekeningkunde se harde werk.

Ná die brand het belanghebbendes besluit om die Van der Sterr-gebou nie bloot te herbou nie, maar dit te moderniseer, te verbeter en sy kapasiteit te vergroot. Dit is gedoen deur die gebou uit te brei om vir meer mense voorsiening te maak, dit met 21ste eeuse tegnologie toe te rus en die omgewingsvoetspoor van die fasiliteit ter wille van volhoubaarheid te beperk.

’n Drieverdiepinggebou is in die binneplein opgerig met twee nuwe ouditoriums – een met sitplek vir 300 mense en een met sitplek vir 250 mense – en ’n lesingsaal met sitplek vir 80 mense. Daar is ook verskeie kleiner klaskamers.

Hierdie nuwe lesinglokale verhoog die Fakulteit se onderrigvermoë en dien as ’n katalisator vir die bekendstelling van die jongste inligting- en kommunikasiepraktyke, soos gemengde leer, mobielvriendelike klaskamers en die grootskaalse uitbreiding van Wi-Fi-tegnologie.

Hysers is geïnstalleer om toegang tot alle vloere te verseker en personeel se welwees is ook in berekening gebring met stortgeriewe wat in die badkamers aangebring is om personeel in staat te stel om fiksheid by hul daaglikse roetines in te sluit, sowel as kamers waar ma's hul babas kan voed.

Die nuwe lugversorgingstelsel gebruik waterverkoeling, wat aansienlik laer druk vereis en baie minder energie gebruik.

Prof Wim de Villiers, Rektor van US, het gesê dat elke probleem gesien moet word as ’n geleentheid om met innoverende denke na vore te kom.

“Dit is presies hoe ons Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe en ons Afdeling Fasiliteitsbestuur op hierdie verwoestende brand gereageer het.

“Uit die as het daar ’n plan verrys om nie net die skade te herstel nie, maar ook die Universiteit se vermoë te versterk om ’n plek van uitnemendheid en ontdekking vir studente sowel as personeellede te wees.”

VD_Sterr_EBSK_web.jpg

  • Foto's (deur Hennie Rudman):
  1.  Hooffoto: V.l.n.r.: Prof Stan du Plessis, aangewese US bedryfshoof, fakulteitsbestuurder MJ Brooks, Marie Malherbe van die dekaanskantoor, visedekaan prof Ronel du Preez, en prof Wim de Villiers, vise-kanselier en rektor van US staan voor die hoofingang van die Van der Sterr-kompleks.
  2. Foto regs: Lede van die studentekomitee van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het ook die heropening van die Van der Sterr-kompleks bygewoon. V.l.n.r. is Waylon Wentzel (tesourier), Tayla Steyn (voorsitter) en Sefako Mathibe (ondervoorsitter) van die komitee.