Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jaarlikse Graduandi Werwingsprogram en Loopbaanuitstallings
Outeur: Wilna Naudé
Gepubliseer: 28/07/2017

Loopbaanontwikkeling is op twee pilare gebaseer – die eerste verteenwoordig selfkennis, en die tweede kennis van die wêreld van werk. Die jaarlikse Graduandi Werwingsprogram bied die geleentheid aan studente om hierdie twee pilare te ontwikkel en te wys hoe ver hulle gegroei het in hierdie ontwikkeling.

Die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) reël elke jaar die Graduandi Werwingsprogram. Geen Matie kan bekostig om hierdie program mis te loop nie.

Dit is ʼn geleentheid vir alle Maties om hulle talente en vaardighede te bemark. Dit is ook die ideale geleentheid om netwerke met potensiële werkgewers te bou. Baie werkgewers sal oor die volgende twee maande ons kampus besoek. Hulle doelwit is om hulle maatskappye aan ons studente bekend te stel, en baie wil ook hulle beskikbare werksgeleenthede met ons finalejaarstudente deel. Die uitdaging vir elke Matie is om sy/haar vaardighede en talente te ken en die vermoë te hê om dit op ʼn kort en duidelike manier in ʼn CV en ʼn onderhoud oor te dra. Studente word aangemoedig om te begin navorsing te doen oor die maatskappye en die moontlikhede waarvoor hulle aansoek wil doen, en hulle onderhoudsvaardighede te oefen.

Die Eenheid vir Graduandi-loopbaandienste, SSVO organiseer die volgende Loopbaanuitstallings waartydens maatskappye die kampus besoek om studente vir indiensneming te werf en om internskappe en beurse aan te bied:

Rekeningkunde Loopbaanuitstalling, Woensdag 2 Aug, Markiestente op die Rooiplein, 9h00 – 14h00

Algemene Loopbaanuitstalling, Donderdag 3 Aug, Markiestente op die Rooiplein, 9h00 – 14h00

Ingenieurs Loopbaanuitstalling, Vrydag 4 Aug, Academia Ontspanningsaal, 9h00 – 14h00