Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
TygerMaties gee gulhartig op Mandela-dag
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 19/07/2017

​In die welwillende gees van Mandela-dag het studente en personeel aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), Universiteit Stellenbosch, gulhartig van hul tyd, energie, kledingstukke en geld geskenk om die minderbevoorregtes te help.

Verskeie uitreikaksies het op die Tygerberg-kampus plaasgevind op Dinsdag, 18 Julie, ter viering van Madiba se verjaardag.

Deur die Toasties for Tummies-initiatief, het studente en personeellede op die Tygerberg-kampus ongeveer 1500 toebroodjies voorberei wat aan pasiënte by die Tygerberg-hospitaal uitgedeel is. 'n Verdere 1500 botteltjies sap wat deur die Afdling Menslike Hulpbronne geskenk is, is saam met die toebroodjies versprei.

Die FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink, het gehelp om 'n verdere 1000 toebroodjies (wat op die Stellenbosch-kampus voorberei is) uit te deel by die Next Generation Movement-jeugprojek in Khayelitsha, Perseel B.

Ter voorbereiding vir Mandela-dag, was daar 'n veldtog onder FGGW-personeel om serpe in te samel – óf deur ou serpe te skenk, of nuwe serpe te brei. Die doelwit was om 330 serpe in te samel wat die 330m tussen die ingang van die Fakulteit se Kliniese gebou en die hoof van die hospitaal, dr Dimitri Erasmus, se kantoor te verteenwoordig, om die vennootskap tussen die twee instansies te simboliseer.

Die vrygewigheid van personeellede het alle verwagtinge oorskry en 607 serpe is altesaam ingesamel. Die serpe is onder die hospitaal se buitepasiënte versprei terwyl hulle vir konsultasies gewag het.

 

Onderskrif: Op Mandela-dag het die FGGW-dekaan, prof Jimmy Volmink, gehelp om 1000 toebroodjies uit te deel by die Next Generation Movement-jeugprojek in Khayelitsha, Perseel B.