Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Persoonlike mobiele platform help MIV-verspreiding keer
Outeur: Karolinska Institute Marketing / Bemarking
Gepubliseer: 10/07/2017

​Mobiele platforms word al hoe meer as 'n mediese en openbaregesondheidsorg-instrument gebruik, maar net 'n paar evaluerings van die doeltreffendheid daarvan bestaan. 'n Nuwe gesamentlike doktorale tesis van die Karolinska-instituut (KI) in Swede en die Universiteit Stellenbosch (US) in Suid-Afrika toon mobiele platforms vir onlangs besnyde mans kan help om die verspreiding van MIV te verminder, veral onder mans wat by hoërisiko-seksuele aktiwiteite betrokke is.

Vrywillige besnyding is algemeen in talle lande in Oos- en Suider-Afrika, omdat dit die risiko van MIV-infeksie verminder. Die Wêreldgesondheidsorganisasie raai mans aan om hulle vir ses weke ná die operasie van penetratiewe seks te weerhou. Studies toon egter dat mans reeds ná vier weke omgang het. Dit meng met die helingsproses in en verhoog die risiko van seksueel-oordraagbare siektes (SOE's). Die tesis ondersoek hoekom mans nie die aanbeveling van ses weke volg nie en hoe inligting op so 'n manier aan hulle oorgedra word dat dit onthouding tydens die hele helingstydperk aanmoedig.

Die mobiele gesondheidsplatform is in oorleg met voormalige pasiënte ontwerp. Dit het gedurende die 42 dae van die helingsproses gereeld geoutomatiseerde stemboodskappe na mobiele fone gestuur. Elke boodskap was toegespits op die spesifieke helingsfase waarin die pasiënte was.

“Die inligting moet voortdurend tydens die genesingsproses herhaal word, sodat dit inslag by die mans vind," sê Yoesrie Toefy, een van die navorers wat ook 'n imam en gesinsraadgewer is. “Dit moet persoonlike omstandighede in ag neem en 'n dialoog met die pasiënt wees, eerder as kliniese vingerwysing deur die dokter." 

Een van die redes hoekom veral getroude mans die aanbeveling geïgnoreer het en seks voor die einde van die rehabilitasietydperk van ses weke gehad het, was omdat hulle 'n verlies aan selfwaarde ervaar het omdat hulle nie hul maats seksueel kon bevredig nie. 'n Newe-effek van die projek was dat diegene wat boodskappe ontvang het, meer geneig was om alternatiewe tot penetratiewe seks toe te pas, wat op sigself die risiko van SOE-infeksie verminder.

Die intervensie was nie beduidend suksesvol vir die hele pasiëntgroep nie, maar het 'n viervoudige groter uitwerking op pasiënte met hoërisiko-seksuele gedrag gehad.

“Dit benadruk die behoefte om MIV-intervensies by verskillende pasiëntgroepe en verskillende fases van die behandeling aan te pas," sê die hooftoesighouer by die KI, medeprof Sarah Thomsen.

Yoesrie Toefy reken die m-gesondheidsplatform beskik oor die potensiaal om by ander soorte behandeling aangepas te word. “Ons het 'n rehabilitasiemetode ontwikkel wat op die verandering van gesondheidsgedrag gegrond is en die inligting wat pasiënte van hul dokters ontvang, kan aanvul. Ons meen dit sal die doeltreffendste wees as dit met persoonlike afsprake gekombineer word." 

Die tesis is ingevolge 'n gesamentlike doktorale program tussen die US en die KI geskryf. Die program het in 2012 'n aanvang geneem en het vyf doktorale studente, waarvan Yoesrie Toefy die eerste sal wees om te gradueer.

Foto: Pixabay