Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sosiaal-geïntegreerde ingenieursnavorsing kry ’n hupstoot met positiewe gevolge vir brandbestuur in informele nedersettings
Outeur: Richard Walls & Joanne Williams
Gepubliseer: 04/07/2017

Die Universiteit Stellenbosch se eenheid vir navorsing in brandingenieurswese onder leiding van dr Richard Walls het 'n toekenning van R4,3 miljoen van die navorsingsraad vir ingenieurswese en natuurwetenskappe (EPSRC) wat in die VK gevestig is, ontvang. Die eenheid werk saam met die Universiteit van Edinburgh se BRE-sentrum vir brandveiligheidingenieurswese (CFSE) en hulle deel 'n verbintenis tot sosiaal-geïntegreerde ingenieurswese vir doeltreffende, veilige en volhoubare oplossings om die impak van brandgevaar op informele nedersettings te verminder. 

Grootskaalse brande vind gereeld in informele nedersettings in Suid-Afrika en elders in die wêreld plaas, met ongeveer een miljard mense wat in sulke nedersettings woon. Alhoewel uitgebreide navorsing deur sosiale wetenskaplikes en geograwe, en in rampbestuur en verwante velde uitgevoer is, is daar nog baie min ingenieursnavorsing gedoen om faktore soos brandverspreidingskoerse, brandstofladings, brandmodellering, die toets van alternatiewe boumateriale, vereistes vir voorbrande, die hoeveelheid water wat nodig is om brande mee te blus, ens, te ondersoek. 

Die eenheid het in 2016 'n loodsprojek onderneem wat volskaalse brandtoetse op plakkershutte gedoen het om te bepaal hoe dit brand, en om gepaste brand- of rookalarmtegnologie te identifiseer. Dit is onderneem in samewerking met die Wes-Kaapse Rampbestuur, Brand- & Reddingsdienste. Die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR) wat in die US se Departement Geografie en Omgewingstudies gevestig is, monitor nou die implementering van die projek. Die navorsingsresultate het die bekendstelling van 1 400 foto-elektriese rookalarms in die Wallacedene TRA informele nedersetting in Kaapstad regverdig, met Santam wat die bekendstelling borg. Terugvoer van die nedersetting dui daarop dat die rookalarms reeds lewens gered het.  

As 'n opwindende volgende stap het die US-eenheid, in samewerking met die Universiteit van Edinburgh (een van die leiers in brandingenieurswesenavorsing), met 'n grootskaalse projek begin om ingenieursmetodes vir die voorspelling en vermindering van brandverspreiding in die informele nedersettings te toets, te interpreteer en te ontwikkel.  

Die Wes-Kaapse rampbestuur sal die toetsfasiliteite aanbied, insette en leiding gee, asook die rookalarms voorsien. Die navorsing sal aangevul word deur deelnemende werkswinkels waar gemeenskapslede met navorsers sal meewerk om strategieë en kennis te beoordeel, en realistiese en effektiewe aanbevelings te ontwikkel. 

Hierdie navorsing het die potensiaal om op groot skaal in lande soos Suid-Afrika, Indië, Mexiko, Suid-Amerika en Asië, sowel as in vlugtelingkampe toegepas te word, ten einde die risiko en impak van brande te verminder.