Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PANGeA stel genootskapsprogram vir nuweling-akademici bekend
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 03/07/2017

Die Vennootskap vir Afrika se Volgende Generasie Akademici (PANGeA) het onlangs sy genootskapsprogram vir nuwelingakademici bekend gestel, wat oor 'n tydperk van vier jaar 50 personeellede in die PANGeA-netwerk van genootskappe sal voorsien. Die program beoog om die vasteland se toekomstige akademiese leiers op die gebied van die lettere, geestes- en sosiale wetenskappe te identifiseer en hulle die geleentheid te bied om spesialisopleiding in universiteitsbestuur en -administrasie te ontvang. 

Dié aankondiging is gedoen gedurende 'n byeenkoms van akademici van die vennootinstellings wat tot die netwerk behoort, naamlik die universiteite van Botswana, Dar es Salaam in Tanzanië, Ghana, Malawi, Nairobi in Kenia, Yaoundé I in Kameroen, Makerere-universiteit in Uganda, en die Universiteit Stellenbosch (US). Die akademici was die gaste van die Nagraadse Skool in die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, en die geleentheid is by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS) aangebied. 

Dít is PANGeA se derde inisiatief benewens sy opleiding- en vaardigheidsontwikkelingsprogram PANGeA-Ed (lees meer by http://bit.ly/2sRYy9u) en sy nou reeds gevestigde doktorale program. Die hoofdoel van hierdie inisiatiewe is om doktorale en akademiese vermoë en leierskap op die gebied van die lettere, geestes- en sosiale wetenskappe by Afrika-instellings te bou.​

Agt suk
sesvolle aansoekers van die vennootinstellings is vir die eerste kohort genote gekies. Die genootskapsprogram behels 'n agt weke lange opleidingstydperk op Stellenbosch. Die Nagraadse Skool sal in samewerking met STIAS as gasheer optree.

Die hoofdoel van hierdie program is om in belowende talent te belê. In die lig van die huidige beperkinge in die hoëronderwyssektor in Afrika glo ons hierdie tydige inisiatief sal ons in staat stel om ons waardevolste menslike en intellektuele kapitaal te behou," het prof Anthony Leysens, waarnemende dekaan van die US se Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe,  gesê toe hy die genote gedurende die bekendstelling verwelkom.

In sy spreekbeurt het die pas verkose PANGeA-voorsitter, prof Enos Njeru, wat ook aan die stuur staan van die Kollege vir Geestes- en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit van Nairobi in Kenia, klem gelê op die toenemende verwagtinge van akademici wêreldwyd om meer navorsingsuitsette te lewer, maar terselfdertyd 'n al hoe swaarder administratiewe las te dra. ​​

“Die uitdaging is dat akademici selde tussendeur hulle onderrigpligte die geleentheid kry om op navorsing te konsentreer, en dat die oorgrote meerderheid van akademiese personeel weinig indien enige opleiding ontvang het om administratiewe en bestuursverantwoordelikhede te aanvaar. PANGeA se genootskapsprogram vir nuwelingakademici is bedoel om juis hierdie uitdaging die hoof te bied deur 'n ruimte te skep vir hierdie akademici om in universiteitsadministrasie en -bestuur gekonfyt te raak terwyl hulle ook hulle navorsingsagendas najaag," het Njeru gesê.

Volgens prof Johann Groenewald, koördineerder van strategiese inisiatiewe by STIAS, “kan inisiatiewe vir die ontwikkeling van nuwelingakademici die oorgang van gegradueerde tot navorser tot navorsingsleier help vorm en rig".

​“STIAS is dankbaar, verheug en trots om te sien hoe die PANGeA-netwerk uitbrei. Dit getuig ten sterkste van die begeerte van die hoëronderwyssektor om 'n beduidende voetspoor op die Afrikavasteland te hê."

Ten slotte het Njeru die genote 'n suksesvolle en verrykende tyd op Stellenbosch toegewens en die PANGeA-raadslede vir hulle voortgesette steun vir die netwerk en sy bedrywighede bedank. 

“Met 'n geskiedenis van samewerking en vennootskap oor meer as tien jaar, lê ons sukses in ons gesamentlike strewe om uit ons diversiteit en verskillende sterkpunte te put om ons gemeenskaplike belange te bevorder. PANGeA is 'n netwerk deur Afrikane, vir Afrikane, vir die studie van eg Afrika-kwessies".

Foto: Verteenwoordigers van die vennootuniversiteite wat tot die PANGeA-netwerk behoort, het die onlangse bekendstelling van PANGeA se genootskapsprogram vir nuwelingakademici by STIAS aan die Universiteit Stellenbosch  bygewoon. Voor is dr Celestino Oriikiriza (Makerere-universiteit), dr Isaiah Kunock Afu (Universiteit van Yaoundé I), dr Florence Tendo Bayiga (Makerere-universiteit), dr Judith Jai Jefwa (Universiteit van Nairobi) en dr Teresa Wanjiru Mbatia (Universiteit van Nairobi). Agter is dr James Orao Onyando (Universiteit van Nairobi), dr John Barugahare (Makerere-universiteit) en dr Elisha Ondieki Makori (Universiteit van Nairobi). (Anton Jordaan, SSFD)​​​