Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Drie nuwe dekane by US aangestel
Outeur: Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/06/2017


Drie nuwe dekane is pas deur die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel. Prof Daniël Brink word die Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, Prof Anthony Leysens is die nuwe Dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, terwyl Prof Reginald Nel as Dekaan van die Fakulteit Teologie aangestel is.

Brink (57) neem sedert 2014 waar as Dekaan van AgriWetenskappe en het reeds 'n lang verbintenis met die US. Hy het in 1983 die graad BSc Agric in Genetika en Dierfisiologie met lof van die US verwerf, waarna hy ook sy honneurs-, meesters- en doktorsgrade aan die Universiteit voltooi het.

In 1984 is Brink as 'n tegniese assistent in die Departement Genetika aangestel, waarna hy 'n pos as dosent gekry het en in 2006 tot medeprofessor bevorder is. Hy is in 2013 in die pos van Vise-dekaan van AgriWetenskappe aangestel.

Onder Brink se akademiese eerbewyse tel 'n THRIP-toekenning vir uitnemendheid in 1998, asook die Rektorstoekenning vir Sosiale Impak in 2008. Hy neem op 1 Julie die leisel as die nuwe Dekaan op.

Leysens (57) het 'n ewe lang verbintenis met die US. Hy het in 1986 'n BA-graad in Politieke Wetenskap aan die US verwerf, en ook sy nagraadse studies aan die US voltooi en is in 2002 'n DPhil-graad toegeken.

Hy het in 1988 begin klasgee in die Departement Politieke Wetenskap, en was van 2009 tot 2014 die Voorsitter van dié departement. In Januarie 2015 is hy as Vise-dekaan van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aangestel.

Leysens se navorsingsvelde sluit in die politieke ekonomie van Suider-Afrika en die politiek van historiese trauma. Hy sal van 1 Januarie 2018 die pos van Dekaan beklee.

Nel (50), ʼn alumnus van die US, is tans professor in Missiologie aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa), en was ook voorheen aan die Technikon Suid-Afrika verbonde. Hy het in 1992 sy teologiese studies aan die US voltooi – die eerste swart student om aan die US se Fakulteit Teologie ʼn graad te verwerf.

Voordat hy in 2001 die akademie betree het, was Nel ʼn predikant in die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK). Hy sluit met ingang 1 November by die Universiteit aan as Dekaan van Teologie.