Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SUNSEP bied ekstra klasse tydens die Junie-skoolvakansie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 30/06/2017

​​“SUNSEP, die Sentrum vir Pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch (US), finaliseer hul voorbereiding om tydens die komende skoolvakansie ekstra klasse aan ongeveer 500 leerders van Springbok, Worcester, Atlantis, Stellenbosch en Franschhoek te gaan aanbied," sê dr Trevor van Louw, SUNSEP se direkteur. Die sessies sal van 3 – 7 Julie aan hoofsaaklik Graad 10-12 leerders gebied word.​​

SUNCEP.JPG

Mnr Rossouw Mecuur, vakadviseur in Wiskunde, gedurende 'n SUNCEP-sessie in Worcester laas jaar. Fotograaf: Anneke Muller.

Die tutors is onderwysers of kurrikulum-adviseurs in onderwysposisies binne die relevante provinsiale Onderwys-departemente.

Die fokus van die klasse is oorwegend om leerders die geleentheid te bied om hul Wiskunde- en Fisiese Wetenskappe-punte te verbeter sodat hulle vir hoër onderwys kan kwalifiseer nadat hulle Graad 12 geslaag het. SUNSEP strewe ook daarna om meer leerders aan te moedig om beroepe in die Natuur- en toegepaste Wetenskapvelde te kies.

In Worcester sal 49 Graad 11 en 12-leerders die sessies by Breërivier Hoërskool bywoon. Die inisiatief word sedert 2013 deur die PA en Alise Malan Gedenktrust befonds.

Volgens dr Van Louw was die eerste groep leerders wat by die intervensie gebaat het, destyds in Graad 7. “Hierdie leerders het elke jaar tydens die skoolvakansies sessies bygewoon. Hulle is nou in Graad 12. Ons hoop dat 'n groot aantal van die leerders in 2018 sal kies om verder te studeer en verkieslik by die Universiteit Stellenbosch."

By Bothashalte-plaasskool, net buite Worcester sal Graad 5-7 leerders van ses verskillende plaasskole sessies bywoon om hul lees- en syfervaardighede te verbeter. Al die skole wat deelneem is met skootrekenaars en internetkonneksies toegerus, en alle sisteme is gereed om volgende kwartaal onderrig regstreeks en gelyktydig aan die deelnemende skole uit te saai ('live streaming'). Die inisiatief word deur die Bosjes Trust befonds.

Leerders van Stellenbosch sal by Hoërskool Luckhoff hul vakansiesessie bywoon. SUNSEP se vennoot hier is die Sosiale Impak-afdeling van die Universiteit. Die doel van die Stellenbosch-intervensie is om meer leerders in en rondom die dorp te help om toegang tot hoër onderwys te verkry.

Behalwe dat hulle Wiskunde en Fisiese Wetenskappe sal doen, sal die leerders ook bekend gestel word aan hoe om hul navorsingsvaardighede te verbeter. Volgens die skoolkurrikulum is alle leerders van Graad 4 tot 12 verplig om navorsingstake te doen.

SUNSEP oorweeg dit verder om 'n navorsings'hub' te skep. By hierdie hub sal nagraadse studente leerders van skole met beperkte hulpbronne in minder bevoorregte gemeenskappe op 'n gereelde basis mentor. Die inisiatief het ook ten doel om meer leerders die geleentheid te gee om aan wetenskap-kompetisies deel te neem.

Die ander ekstra-ondederrigsessies vir Graad 10-12 leerders is in Franschhoek by Groendal Sekondêre Skool, danksy befondsing van die Rupert Onderwysstigting, in Atlantis met befondsing deur die Atlantis Industriële Inisiatief en in Springbok waar die befonders Transhex Operations (Pty) Ltd en West Coast Resources is.

Die enigste SUNSEP-groep wat vir die volgende paar weke nie klas sal bywoon nie, is die SciMathUS-studente. SciMathUS is 'n jaar-lange program wat leerders op universiteit voorberei. Die program bied aan leerders wat reeds Graad 12 geslaag het maar wat nie toegang kon kry tot hoër onderwys of programme met hoë toegangsvereistes nie, 'n tweede geleentheid om sekere vakke oor te skryf en dan wel te kwalifiseer. Die program word in lyn met die diversiteitsdoelwit van Universiteit Stellenbosch aangebied. Aansoeke vir die SciMathUS-program in 2018 open in November 2017.

Besoek asseblief SUNSEP se webtuiste vir meer inligting: www.suncep.sun.ac.za of skakel die kantoor by 0218083032/3483.