Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 19 Junie 2017)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 23/06/2017

Die tweede geskeduleerde vergadering dié jaar van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US) het Maandag, 19 Junie 2017, plaasgevind.

Van die sake wat bespreek is, was kampusveiligheid, die aanstelling van dekane, die naamsverandering van die US se hoofbiblioteek, die verslag van die taakgroep oor die beëindiging van verkragtingskultuur, die US se opgang op die QS-wêreldranglys van universiteite, navorsing aan die US, die jaarverslag van die Verantwoordelikheidsentrum: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, en die grootste individuele skenking aan die US tot nog toe.

Meer besonderhede volg hieronder, maar ek wil graag beklemtoon dat die Raad baie ongelukkig is oor die misdaadsituasie. Ons het met waardering kennis geneem van die Universiteit se veiligheidsmaatreëls, maar ook versoek dat selfs méér bewusmaking plaasvind en dat studente en personeellede daarop ag slaan. Die Raad het voorts ʼn beroep gedoen op die Suid-Afrikaanse Polisiediens en Stellenbosch Munisipaliteit om voort te gaan om met die Universiteit saam te werk en alles moontlik te doen om misdaad te bekamp.

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Veiligheid en sekuriteit

Die Raad het sy kommer uitgespreek oor misdaad na aanleiding van die verkragting van en moord op me Hannah Cornelius en die ernstige aanranding van mnr Cheslin Marsh, albei US-studente wat op 27 Mei in Stellenbosch gekaap is. Dié saak het 'n opskudding veroorsaak, maar daar is ook ander US-studente en -personeellede wat van tyd tot tyd onder misdaad deurloop – op die kampus, in die dorp en die omgewing, sowel as elders in die land. Die Raad het sy medelye uitgespreek met almal wat hierdeur geraak is.

Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier, het by die vergadering herbevestig dat studente en personeellede se veiligheid en sekuriteit vir die Universiteit van die allergrootste belang is. Prof Leopoldt van Huyssteen, Bedryfshoof, het uitgewys dat Kampussekuriteit ʼn vierledige strategie volg, naamlik (i) patrollies en reaksiedienste deur sy eie personeellede én gekontrakteerde maatskappye; (ii) monitering met behulp van gevorderde tegnologie; (iii) bewusmakingsveldtogte; en (iv) strategiese vennootskappe met eksterne rolspelers. Dat die Universiteit nie omhein is nie, maar by die dorp geïntegreer is, hou bepaalde uitdagings in.

Senior aanstellings

Die Raad het die aanstelling van drie dekane op aanbeveling van sy Gesamentlike Aanstellingskomitee bevestig, met behoorlike inagneming van die advies en aanbevelings van die betrokke keurkomitees, fakulteitsrade en die Senaat. Dít is vir die fakulteite Lettere en Sosiale Wetenskappe, AgriWetenskappe, asook Teologie. ʼn Aankondiging sal volg wanneer die kandidate hul aanstelling aanvaar het.

Wat die pos van dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe betref, het die Raad besluit dat die aanstellingsproses herhaal word. Die Gesamentlike Aanstellingskomitee het nie oor aanstelbaarheid of voorkeur besluit nie omdat nie een van die kandidate op die finale kortlys meerderheidsteun in die fakulteitsraad óf die Senaat verwerf het nie. Intussen neem prof Johan Malan waar as dekaan.

Ten opsigte van die Fakulteit Opvoedkunde het die Raad ingestem dat die proses vir die aanstelling van ʼn dekaan nie onmiddellik hervat nie. Die vorige aangewese kandidaat het ʼn werksaanbod oorsee aanvaar, wat die Rektor se Bestuurspan (RBS) nou die geleentheid bied om die akademiese funksies, aktiwiteite, grootte en vorm van die Fakulteit sorgvuldig te heroorweeg. Die Fakulteit en alle tersaaklike rolspelers sal in die proses geraadpleeg word. ʼn Aanbeveling hieroor word by die laaste raadsvergadering van die jaar verwag. Prof Yusef Waghid neem tans waar as dekaan.

Laastens het die Raad kennis geneem van die aanstelling van dr Leslie van Rooi, tans adjunkdirekteur van die Sentrum vir Studentestrukture en -leierskap sowel as hoof van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapsontwikkeling, as die nuwe Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie met ingang van 1 Julie. Hierdie pos vervang die voormalige pos van Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie, wat beklee is deur dr Jerome Slamat, tans Uitvoerende Bestuurder: Rektoraat.

Naamsverandering van die biblioteek

Die Raad het kennis geneem van die onlangse besluit deur sy Uitvoerende Komitee om die naam van die US se hoofbiblioteek te verander na die Universiteit Stellenbosch Biblioteek ("Stellenbosch University Library" in Engels, en "Ithala leencwadi leYunivesity yaseStellenbosch" in Xhosa). Dié biblioteek onder die Rooiplein is in 1984 in gebruik geneem. Dit is destyds genoem na ds JS Gericke, wat van 1952 tot 1981 as Visekanselier van die US gedien het (toe nog  ʼn seremoniële pos losstaande van die rektorsamp).

Die naamsverandering vind op aanbeveling van die US se Komitee oor die Vernoeming van Geboue, Lokale en Voorwerpe plaas. Die komitee het op 31 Oktober 2016 hieroor beraadslaag as deel van ʼn groter transformasieproses om ʼn verwelkomende kultuur aan die US te vestig. Die taakgroep wat aangewys is om die saak te ondersoek, het 'n inklusiewe proses gevolg. Uit die oorlegpleging het geblyk dat die meeste respondente ten gunste van die naamsverandering is.

Verslag van die taakgroep oor die beëindiging van verkragtingskultuur

Die Raad het die verslag van die taakgroep oor die beëindiging van verkragtingskultuur verwelkom. Die RBS het dié taakgroep in Maart 2016 saamgestel om die onderliggende kultuur van geslagsgeweld op kampus te ondersoek. Die groep het bevind dat geslagsgeweld – aan die US soos in die res van die samelewing – 'n diepliggende probleem is wat nie net die slagoffers onteer nie, maar wat almal raak. Volgens die taakgroep is verkragtingskultuur almal se probleem en is almal deel van die oplossing.

In die Rektor se bestuursverslag is uitgewys dat die term "verkragtingskultuur" die eerste keer in die 1970's internasionaal beskryf is. Dit word omskryf as dade wat seksuele geweld en viktimisasie normaliseer op grond van die samelewing se ingesteldheid teenoor geslag en seksualiteit. Gedrag wat met verkragtingskultuur verbind word, sluit in seksuele objektivering, die beskuldiging van slagoffers, of weiering om te erken watter skade seksuele geweld veroorsaak. Hierdie uitdagings staar die hele samelewing in die gesig – in Suid-Afrika, maar ook in die res van die wêreld.

Die taakgroep het oor die mees gepaste strategieë besin om 'n verandering aan die US teweeg te bring. Van die belangrikste aanbevelings sluit in:

  • opleiding vir alle studente en personeel – waaronder senior bestuur – oor die beëindiging van verkragtingskultuur;
  • die ondersteuning van inisiatiewe teen verkragtingskultuur; en
  • die vestiging van 'n moniteringskomitee om toe te sien dat die aanbevelings in die taakgroepverslag uitgevoer word.

Die RBS het reeds sy steun aan die verslag en aanbevelings toegesê.

Die US se opgang op die QS-wêreldranglys van universiteite

Die Raad het die aankondiging verwelkom dat die US verder opgang gemaak het op die QS-wêreldranglys van universiteite. Die US is nou tweede in Suid-Afrika nadat dit in 2016/17 in die derde plek was (en is nou in algehele 361ste plek, teenoor 395ste vantevore). Dié styging word onder meer daaraan toegeskryf dat die US nou met die land se hoogste getal navorsingsitasies per publikasie spog.

Vertoonvenster vir US-navorsers en hulle impak

Die Raad het die US se jongste navorsingsverslag, wat terugkyk op hoogtepunte in 2016, in ontvangs geneem. Die Universiteit se Afdeling Navorsingsontwikkeling gee jaarliks dié publikasie uit. Dit is aanlyn beskikbaar by http://bit.ly/2rBAO5y.

Verslag van die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel

Prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, het by hierdie vergadering die geleentheid gekry om ʼn jaarverslag oor sy verantwoordelikheidsentrum voor te lê. Die volledige verslag is beskikbaar by http://bit.ly/2sTxDKJ.

ʼn Hoogtepunt is die goeie vordering met die diversifisering van die Universiteit se personeelkorps. Twee jaar gelede was slegs 18% van akademiese personeellede swart (Afrikane, bruin, of Indiër). Nou staan dié syfer op 24%. Dít is onder meer te danke aan 33 aanstellings en bevorderings wat sedert Januarie 2016 met behulp van die Rektor se Strategiese Personeelfonds gedoen is.

Grootste individuele skenking aan die US tot nog toe

Die Raad het met dankbaarheid daarvan kennis geneem dat die US sy grootste individuele skenking tot nog toe ontvang het – ʼn bedrag van R195 miljoen. Dié groot geskenk is in die vorm van ʼn erflating deur wyle mnr DW Ackermann. Hy self was nooit 'n student aan die Universiteit nie, maar het 'n verbintenis met die US gehad deur sy vrou, wyle mev Sophia Ackermann, 'n Matie-alumna. Toe hy in 2006 oorlede is, het hy aandele ter waarde van R8 miljoen aan die US bemaak, maar dit was onderworpe aan vruggebruik deur sy vrou. Toe sy in Februarie vanjaar oorlede is, het die erflating die US toegeval. Die waarde van die aandele het intussen tot bogenoemde bedrag aangegroei. Soos mnr Ackermann in sy testament bepaal het, sal die Universiteit die bemaking gebruik om die DW Ackermann-beursfonds op die been te bring.

Volgende vergadering

Die volgende vergadering van die Raad vind op 27 September 2017 plaas.