Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Enkele dae oor om aansoek te doen vir studies by die US
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 14/06/2017

Voornemende Maties het net tot 30 Junie 2017 om aansoek te doen om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. 30 Junie is ook die sperdatum om aansoek te doen vir verblyf in die US se koshuise.

Die US word as een van die top-drie universiteite in Suid-Afrika beskou en het onlangs sy posisie op die QS-wêrelduniversiteitsranglys vir 2017/18 verbeter. Die Universiteit het ook die hoogste eerstejaar-deurvloeikoers in Suid-Afrika, met meer as 85% studente wat jaarliks na hul tweede jaar van studie vorder.

"Ons is baie opgewonde oor die toename in die hoeveelheid aansoeke vir 2018, wat bewys dat die US ʼn voorkeur-universiteit vir baie is. Ons is egter besorg oor die meer as 8000 aansoeke wat nie oorweeg kan word nie omdat hulle onvolledig is," sê mnr Spurgeon Wilson, adviseur by die Sentrum vir Studentewerwing en -Loopbaanadvies.

"Voornemende studente word versoek om hul aansoeke eerder vroeër as later in te dien, om hulself genoeg tyd te gun om die aansoek – wat insluit die oplaai van die noodsaaklike dokumente, en die aanbring van nodige veranderinge – te voltooi."

Wilson voeg by dat dit belangrik is dat aansoekers nie net weet wat die minimum vereistes vir ʼn program is nie, maar dat hulle ook die fakulteit se keuringsriglyne deurlees, insluitend watter punte nodig is vir keuring. Dit verskil dikwels van die minimum vereistes.

Finansiële hulp

Aansoekers kan ook begin om vir finansiële hulp aansoek te doen. Hier is die sperdatum 31 Augustus 2017. Die Universiteit bestuur meer as 19 000 voor- en nagraadse beurse en lenings namens maatskappye, individue en instellings.

Aansoeke kan aanlyn gedoen word by www.maties.com. Skakel 021 808 9111 vir meer inligting, e-pos info@sun.ac.za of gesels aanlyn by www.maties.com (kliek op die 'Let's Talk'-opsie).