Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Viju Thomas
Kursus in minimale ginekologiese chirurgie in volle gang
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 12/06/2017

Die nuwe MPhil-graad in Minimale Toegang- Ginekologiese Chirurgie (MTGS), wat in April 2016 bekend gestel is, is in volle gang – en die eerste genoot maak uitstekende vordering.

Dié innoverende program word deur die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Verloskunde en Ginekologie aangebied. "Dit is die eerste in sy soort in Suid-Afrika en, na my beste wete, in Afrika," sê dr Viju Thomas, die programkoördineer.

Volgens hom word ginekoloë tradisioneel opgelei om operasies te doen wat groot insnydings vereis. Maar goeie kliniese bewyse toon klein insnydings is dikwels net so doeltreffend vir die meeste prosedures – en dikwels verkieslik.

"Met sleutelgat-chirurgie (minimale toegang-chirurgie) word klein insydings vir chirurgie gebruik wat voorheen groot insnydings vereis het. Dit hou verskeie voordele vir die pasiënt in, met inbegrip van 'n korter hersteltydperk, meer esteties aanvaarbare insnydings, minder bloedverlies en ʼn korter hospitaalbesoek."

Maar dit kan jare neem om sleutelgat-chirurgie aan te leer, wat beteken net 'n handjievol Suid-Afrikaanse chirurge het dit bemeester.

"Ongelukkig sluit tradisionele kurrikulums slegs basiese endoskopiese opleiding in," sê Thomas. Hy en sy span het hierdie groot gaping in chirurgiese opleiding geïdentifiseer en besluit om 'n oplossing te bied.

Die nuwe MPhil-program stel ginekoloë met ʼn belangstelling in sleutelgat-chirurgie in staat om formele opleiding in 'n veilige omgewing onder die toesig van vaardige endoskopiese chirurge te ontvang.

"Dis belangrik dat alle ginekoloë wat minimale toegang-chirurgie beoefen, hierdie opleiding ontvang," reken Thomas. "Hierdie vaardigheid moenie self aangeleer word nie. Dit moet in 'n gestruktureerde, akademiese omgewing oorgedra word, waar die pasiënt se veiligheid gewaarborg is."

Die heeltydse MPhil-program, wat oor ʼn tydperk van twee jaar strek, sluit 'n strawwe akademiese kurrikulum in wat op die grondslae van endoskopiese chirurgie fokus, asook  individuele sessies met ʼn mentor. Die kurrikulum konsentreer op veiligheid, gevorderde instrumente, siekteprosesse, bewysgebaseerde intervensies en opleiding in prosedures.

Weens die "een-tot-een" opleidingsmodel kan die FGGW slegs een voltydse student elke twee jaar aanvaar. 'n Deeltydse opsie oor vier jaar is egter ook beskikbaar vir jong, entoesiastiese ginekologiese chirurge.

Die eerste MPhil-genoot, dr Annelize Barnard, is 'n ten volle opgeleide verloskundige en ginekoloog met 'n besondere belangstelling in endoskopie. "Sy 'n dinamiese en entoesiastiese chirurg en ons meen sy sal uitstekend vaar," sê Thomas.