Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe datums vir uitgestelde eksamengeleenthede
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 06/06/2017

Opdatering 9 Junie

Eksamenroosters en lokaalinligting is soos normaalweg beskikbaar op die Studenteportaal onder die hofie 'Studies'


Opdatering 8 Junie 

Studente wat vlugbesprekings moet verander weens die uitstel van eksamens, toetse of ander assesseringsgeleenthede, kan 'n amptelike brief van die Universiteit aflaai waarin lugrederye versoek word om nie boetes te hef vir dié veranderinge nie.

Opdatering 7 Junie 17:30

Alle universiteitsaktiwiteite gaan op 8 Junie 2017 soos normaal voort. Die formele eksamengeleenthede wat op 7 Junie afgelê sou word, maar weens weerwaarskuwings uitgestel is, is reeds geherskeduleer. Enkele eksamenlokale moet nog bevestig word. Sodra dit bekend is hoeveel studente die betrokke eksamen sal aflê, sal die lokale bekend gemaak kan word.

Vir toetse en ander assesseringsgeleenthede word studente versoek om met die betrokke dosente of akademiese departemente in verbinding te tree.

Klik hier vir die inligting oor die plaasvervangende formele eksamengeleenthede. Personeel van die Registrateursafdeling het hul bes probeer om die uitgestelde eksamens so naby as moontlik aan die oorspronklike datum te skeduleer met inagneming van beskikbare tydsgleuwe en lokale.  Dit is ongelukkig nie moontlik om individuele versoeke te akkommodeer nie.

Navrae: 021 808-9111 / info@sun.ac.za

Reisreëlings

Vir studente wat vanweë die uitgestelde eksamengeleenthede, toetse en ander assesserings nou vlugreëlings moet verander, sal daar op 8 Junie 2017 ʼn amptelike brief op die webblad beskikbaar wees.

Opdatering 7 Junie 10:00:

Die Rektor se Bestuurspan (RBS) het gistermiddag (6 Junie) besluit om die eksamen wat vir Woensdag 7 Junie geskeduleer was, uit te stel. Die reëling geld ook vir ander vorms van assessering. Personeel word versoek om met hul lynbestuurders te skakel om die nodige reëlings te tref om tuis te werk. Alle US-biblioteke is ook vir die dag gesluit, maar biblioteekgebruikers kan e-pos libraryhelp@sun.ac.za gebruik vir dringende biblioteek-navrae.

Tygerberg-kampus: Alle FGGW akademiese en kliniese aktiwiteite is opgeskort vir 7 Junie.

Neem asb kennis: As gevolg van die weer werk personeel van die huis af vandag. Ondersteuning is beskikbaar via e-pos info@sun.ac.za of deur 021 808 9111 te skakel.

Maak veiligheid asb 'n prioriteit: 

  • Meld noodgevalle aan by 021 808 2333 (Stellenbosch-kampus)
  • Kampussekuriteit saamstapdiens: 021 808 4666 (WhatsApp 082 808 2333).
  • US Krisisdiens (berading en ondersteuning): 082 557 0880


Beste Kollegas en Studente

Die Bestuur van die Universiteit Stellenbosch het weens die uiterste weerwaarskuwings van die Suid-Afrikaanse Weerdiens en kommer oor die gepaardgaande veiligheidsrisiko's vanmiddag besluit om alle geskeduleerde eksamens vir Woensdag 7 Junie 2017, uit te stel. Inligting oor die herskedulering van môre se eksamens sal op die US se webblad beskikbaar gestel word: www.sun.ac.za

Dit volg nadat die Wes-Kaapse Regering vroeër vandag aangekondig het dat alle skole in die provinsie môre gesluit sal wees. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens kan die Wes-Kaap van vanaand tot môre oor 'n uitgebreide tydperk stormwind en swaar reën verwag, met gepaardgaande vloedwaarskuwings. Die Wes-Kaapse Regering het padgebruikers aangeraai om liewer binnenshuis te bly om te verseker dat noodvoertuie gebiede wat geraak word  vinniger kan bereik.

PERSONEEL

Personeellede word versoek om met hul lynbestuurders te skakel vir die toepaslike reëlings om van die huis af te kan werk. Verlof-tot-afwesigheid-aansoeke moet asseblief ingesleutel word – dus nie "jaarlikse verlof" nie.

Elke universiteitsafdeling word gevra om interne reëlings te tref vir noodsaaklike dienste en om te verseker dat personeel per telefoon of epos bereik kan word vir verdere reëlings indien nodig.

Ons het die besluit in die belang van ons personeel en studente se veiligheid geneem. Ons vertrou dat die situasie teen Donderdag 8 Junie na normaal sal terugkeer.

Vriendelike groete

Prof Nico Koopman

Waarnemende Rektor en Visekanselier