Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tropiese glashuis heropen en ingangsfooi tree in werking
Outeur: Viola Calitz
Gepubliseer: 31/05/2017

Donderdag die 1ste Junie tree ʼn aantal veranderinge by die Botaniese Tuin in werking.

Die tropiese glashuis sal vir die eerste keer in jare weer oop wees vir die publiek. Die tropiese glashuis is oorspronklik in die 1920's gebou. Die dak is met onlangse opknappingswerk hoër gemaak om die nodige spasie vir groter tropiese plante te verskaf. Tegnologie is slim ingespan om te verseker dat die glashuis se temperatuur tussen 18 en 30 grade Celsius gehou word sonder om ʼn reuse energieverbruik te hê. Die glashuis is op die oomblik die enigste werkende openbare tropiese glashuis in Suid-Afrika. Verskeie besonderse tropiese plante is in die glashuis te sien o.a. jaderank, reuse aronskelk (grootste blom ter wêreld), vanilla, kakao, kolaneut, swart peper, broodvrug, borrie, henna, panamahoedpalm, Darwin-se-orgideë om maar net ʼn paar te noem.

Vanaf die 1ste Junie sal daar ook ʼn R10 ingangsfooi gehef word. Hiervan word 'n deel (R5) terugbetaal vir enige aankope by die winkel of restaurant.

"Met die stygende druk op verskillende tersiêre instellings, het dit noodsaaklik geword om meer selfonderhoudend te wees en te verseker dat die Botaniese Tuin ook in die volgende eeu kan floreer. Omdat die Botaniese Tuin so naby aan die besige dorpskern geleë is, is daar ook 'n groeiende behoefte om te verseker dat die Tuin 'n vreedsame en veilige gemeenskapsaamtrekpunt bly, en daarom is daar besluit om te begin om 'n nominale toegangsfooi te vra," sê Martin Smit, die Kurator van die Botaniese Tuin.

Lede van die Vriende van die Botaniese Tuin, ingeskrewe US studente en personeel met geldige US kaarte sal gratis toegang kan ontvang. Groepe wat voorafreëlings maak, soos skoolgroepe, sal steeds toegelaat word om die Botaniese Tuin gratis te besoek.

Lede van die publiek kan ook Vriende van die Botaniese Tuin word. Lidmaatskapkaartjies sal in die Botaniese Tuin se winkel teen R50 vir basiese lidmaatskap verkoop word. Lede sal 'n vaste aantal besoeke (365) per jaar kry en persone wat hulle vergesel sal toegelaat word om verniet onder hulle lidmaatskap toegang tot die Botaniese Tuin te verkry. Vriende van die Botaniese Tuin sal ook uitnodigings na spesiale geleenthede en praatjies ontvang.

Die Vriende van die Botaniese Tuin is formeel in 1 Desember verlede jaar bekendgestel. Die doel van hierdie inisiatief is om die aktiwiteite van die Botaniese Tuin te ondersteun deur middel van vrywilligersdiens en fondsinsameling, asook te funksioneer as deel van 'n advieskomitee.