Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veranderinge in organisasies eis emosionele tol onder werkers
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 26/05/2017

Veranderinge in 'n organisasie kan dikwels hul emosionele tol onder werknemers eis en dit is belangrik dat bestuurders hiervan kennis neem.

Dít was een van die gevolgtrekkings van prof Mias de Klerk van die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EWB) in sy intreerede op Donderdag (25 Mei 2017).

De Klerk het gesê organisatoriese veranderinge is emosioneel meer intimiderend en verontrustend as wat bestuurders en konsultante tipies aanvaar.

Hy het bygevoeg dat enige gedwonge veranderinge aan werksgeleenthede of werkstrukture 'n soort verlies behels omdat dit 'n wegbeweeg van bekende praktyke is, of die sosiale konstruksie van 'n nuwe identiteit vereis.

"Die probleme wat ondervind word met die implementering van verandering is nie bloot as gevolg van weerstand teen verandering nie. Die geweldige negatiewe ervaring wat tydens verandering ondervind word, sal waarskynlik werknemers negatief maak vir die verandering en daartoe lei dat hulle die verandering en doelwitte van bestuurders afkeer."

"Tog word die diepgaande emosies meestal geïgnoreer in gesprekke oor weerstand teen verandering."

De Klerk het gesê die meeste studies oor afskalingsintervensies fokus op werkgewers se besorgdhede, soos die koste en voordele van afskaling en die prestasie van diegene wat in die organisasie agterbly.Intreerede_Morgan_DeKlerk1.jpg

Hy het bygevoeg dat verlies, die daaropvolgende emosionele ervarings wat verandering vir individue inhou, en die onderliggende psigologiese meganismes dikwels onderspeel word.

"Organisasies is geneig om apaties en onwillig te wees om die ernstigheid van werknemers se oënskynlike verliese te erken."

"Organisasies moet besorgd wees oor emosionele trauma, hartseer en rou wanneer verandering deurgevoer word."

De Klerk het gesê bestuurders moet erns maak met mense se intense gevoel van verlies, en werknemers help om aan te pas by die trauma van verlies as hulle mense se vermoë om terug te bons ná 'n verandering en die sukses van die verandering wil verbeter.

"Deur die ernstigheid van die oënskynlike verlies te ignoreer en nie erns met die pyn te maak nie, word die angs van bestuurders gerieflikheidshalwe onderdruk. Indien die ernstigheid van die verlies nie erken word nie, daar nie erns met pyn gemaak word nie en rou nie aangemoedig word nie, is mense se vermoë om terug te bons ná 'n verandering en die suskes van verandering onwaarskynlik."

Hy het bygevoeg dat apatie en onverskilligheid van leiers emosionele trauma kan vererger.

"Deur te reageer asof niks ongewoon gebeur het nie, laat leiers mense voel asof die organisasie hulle nie as mense herken nie. Organisasies moet 'n kapasiteit bou om ruimte te laat vir rou oor dit wat verlore is sodat werkers kan genees en aanbeweeg nadat die verandering plaasgevind het."

De Klerk meen ons het nog baie om te leer oor hoe mense gehelp kan word om hulle sielkundig weer op te bou ná 'n verlies wat uit verandering voortspruit.

  • Hooffoto: Pixabay
  • Foto 1: Profs Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, Michael Graham, wat ook sy intreerede gelewer het, Mias de Klerk en Johan Malan, waarnemende Dekaan van EWB, by die geleentheid. Fotograaf: Amanda Matthee