Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ooreenkoms tussen Stad Kaapstad en US steun vernuwing in Bellville-sakekern
Outeur: Stellenbosch University and City of Cape Town
Gepubliseer: 25/05/2017

ʼn Memorandum van Ooreenkoms (MvO) tussen die Stad Kaapstad en die Universiteit Stellenbosch baan nou die weg vir die gemengde ontwikkeling van die Universiteit se Bellvilleparkeiendom langs die N1-snelweg. Die MvO strook met die Stad se doelwit om stadsvernuwing, ekonomiese groei en werkskepping in Bellville 'n hupstoot te gee. Lees meer hieronder.

Die Universiteit het die eiendom (erwe 23974 en 1682, Bellville), wat sowat 69 ha beslaan, in 1982 van die voormalige Bellville Munisipaliteit gekoop vir die spesifieke doel om 'n satellietkampus in Bellville op die been te bring.

Die US se Bestuurskool, die Skool vir Publieke Leierskap, die Afdeling Deeltydse Studie en die Bellvista Lodge is op ʼn deel van die eiendom geleë, terwyl 'n ander gedeelte deur 'n gholfoefenbof en slee- ("toboggan"-)baan beslaan word. Die restant is onbeboud, hoewel groot areas van die perseel (altesaam sowat 23 ha) nie geskik is vir enige stadsontwikkeling nie weens 'n ou afvalhoop en 'n steengroef wat nie voldoende gestabiliseer is nie.

Die MvO wat die twee partye gesluit het, maak nou daarvoor voorsiening dat nie-akademiese fasiliteite soos kantore, winkelruimte en residensiële geriewe ook op die eiendom ontwikkel kan word benewens die akademiese gebruike ingevolge die aanvanklike koopooreenkoms. Die Stad en die Universiteit sal die netto inkomste uit die verkoop/verhuring van gedeeltes van die grond deel, hoofsaaklik om dit in die verdere ontwikkeling van die eiendom te herbelê.

"Die Stad en die Universiteit Stellenbosch is 'n aantal jaar reeds in gesprek oor die ontwikkeling van die grond. Weens die belang van hierdie strategies geleë eiendom wil ons graag sien dat dit benut en tot sy volle potensiaal ontwikkel word. Daarom is die twee partye se besluit om kragte saam te snoer en die ontwikkeling van dié  sleuteleiendom in vennootskap te hanteer 'n beduidende deurbraak in die onderhandelinge. Ons slaan nou 'n nuwe rigting in waarby nie net die twee partye nie, maar ook die inwoners van Kaapstad sal baat vind,"sê raadslid Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stadsontwikkeling. 

"Die voorgestelde ontwikkeling van ons Bellvilleparkeiendom is ʼn geleentheid vir die Universiteit om die potensiaal van ʼn waardevolle bate in samewerking met die openbare en privaat sektor te ontgin," sê prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. "'n Kombinasie van gemengde ontwikkeling en die uitbreiding van die akademiese kampus, sowel as die beskerming van aansienlike stukke sensitiewe habitat, sal die Universiteit, die Stad, die Tygerbergsakegemeenskap én plaaslike gemeenskappe baat. 

"Ons sien uit na hierdie innoverende en wedersyds voordelige vennootskap met die Stad Kaapstad en ander rolspelers in die belang van ekonomiese ontwikkeling en finansiële volhoubaarheid."

Die MvO sluit aan by die Stad se voorneme om die Bellville-stadskern, met inbegrip van die openbare vervoerwisselaar, te vernuwe.

Die Raad van die Stad Kaapstad het in Maart 2016 die Strategiese Raamwerk vir Vervoergerigte Ontwikkeling aanvaar, wat 'n nuwe benadering tot geïntegreerde ruimtelike en vervoerbeplanning inlui.

Dié raamwerk bepaal die Stad se benadering tot langtermynontwikkeling deur voor te skryf hoe nuwe ontwikkelings oor die hele Kaapstad moet plaasvind en hoe bestaande openbare infrastruktuur omskep moet word om die ruimtelike ongelykheid van apartheid, die hoë koste van openbare vervoer sowel as verstedeliking te bowe te kom, en terselfdertyd ekonomiese groei te stimuleer.

"Bellville is as een van die voorranggebiede uitgewys waar ons hetsy in die verbetering van bestaande openbare vervoerinfrastruktuur sal belê of nuwe openbare vervoerinfrastruktuur sal voorsien om stadsvernuwing, ekonomiese groei en werkskepping 'n hupstoot te gee. Die doel van vervoergerigte ontwikkeling in hierdie geval is om 'n volhoubare leefomgewing en ekonomie in die Bellville-stadskern te skep. Die Stad voor dié proses aan deur in openbare vervoer te belê, waarna privaat belegging in nuwe ontwikkelings by en om die openbare vervoerinfrastruktuur volg.

Die MvO weerspieël dus die strategiese rigting wat ons onderneem het om in te slaan toe die Raad sy nuwe Organisatoriese Ontwikkelings- en Transformasieplan aanvaar het. Daarin beskryf ons digte en vervoergerigte groei as noodsaaklik vir die bou van 'n billiker en meer inklusiewe stad," sê raadslid Herron.  

Sedert die MvO aangegaan is, is 'n projekspan met verteenwoordigers van sowel die Stad as die Universiteit se bestuur tot stand gebring om die besonderhede van 'n gesamentlike ontwikkelingsooreenkoms te bepaal en 'n stadsontwerpraamwerk en 'n plan vir massa-infrastruktuur en -dienste op te stel.

Die ontwikkeling van die eiendom is onderworpe aan verskeie statutêre goedkeurings, en die nodige aansoeke om onderverdeling van gedeeltes van die eiendom sal binnekort ter oorweging aan die Stad voorgelê word.

Die aansoeke sal vir openbare kommentaar beskikbaar gestel word. Die Stad sal inwoners in kennis stel sodra die proses daardie stadium bereik, en ook waar en hoe hulle toegang tot die dokumente kan verkry.