Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe studie gemik op die bou van universiteite wat omgee
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 17/05/2017

Op grond van stygende koerse van sielkundige angs onder studente by universiteite oor die wêreld heen het die Universiteit Stellenbosch (US) en die Universiteit van Kaapstad (UK) die projek Caring Universities van stapel gestuur om meer te leer oor die risikofaktore en baan van psigiatriese siektes en om die steunbehoeftes van studente op te teken.

As deel van hierdie projek is 'n aanlyn opname oor studentegesondheid op Donderdag 11 Mei beskikbaar gestel, en eerstejaarstudente van die US en UK genooi om hieraan deel te neem. 

"Die inligting wat ons met hierdie opname sal insamel, sal universiteite in Suid-Afrika help om doeltreffende voorkomingsprogramme te beplan en innoverende intervensies te implementeer," verduidelik plaaslike navorser dr Jason Bantjes van die Departement Sielkunde aan die US.

Die res van die navorsingspan sluit in prof Christine Lochner, mnr Lian Taljaard en me Janine Roos van die Mediese Navorsingsraad se Eenheid vir Risiko en Veerkragtigheid in Psigiatriese Siektes by die US en prof Dan Stein van die Departement Psigiatriese en Psigiatriese Siektes by die UK. Ander wat by die projek betrokke is, sluit in dr Wylene Saal, ʼn nadoktorale genoot wat deur die US aangestel is, en mnr Franco Gericke en me Maria Annandale, honneursstudente in die Departement Sielkunde by die US. Die span sal nou saamwerk met internasionale kundiges uit meer as 10 lande om die voorkoms van algemene psigiatriese siektes onder voorgraadse universiteitestudente oor die wêreld heen te ondersoek.

"Ons doel is om te bepaal hoeveel studente deur psigiatriese probleme geraak word, maar ons hoop ook om meer te leer van die risikofaktore en baan van hierdie versteurings, en om die studente se steunbehoeftes op te teken," verduidelike Bantjes. "Ons wil ook probeer verstaan watter sielkundige faktore tot akademiese sukses en universiteitsverlating bydra." 

"Hierdie inligting sal gebruik word om innoverende, kostedoeltreffende en effektiewe intervensies te ontwikkel vir die bevordering van veerkragtigheid en vermindering van sielkundige angs op universiteitskampusse."

As die statistieke in ag geneem word, kan die navorsing letterlik help om lewens te red en sal dit beslis help om die welstand van universiteitstudente te verbeter.

"In Suid-Afrika lei tot 12% van universiteitstudente aan simptome van depressie en 15% rapporteer klinies beduidende simptome van angs. Studies toon dat ongeveer 50% van universiteitstudente middele misbruik, in die algemeen alkohol. Een studie het bevind dat 24,5% van Suid-Afrikaanse universiteitstudente gerapporteer het dat hulle in die voorafgaande twee weke aan selfdood gedink het. ʼn Onlangse opname onder universiteitstudente in die VSA, wat uitgevoer is deur die American College Health Association, het getoon dat 44% van studente gerapporteer het dat hulle op een of ander stadium in die voorafgaande 12 maande so depressief gevoel het dat hulle gesukkel het om te funksioneer. Hierdie statistieke vorm redelike sombere beeld van die sielkundige gesondheid van universiteitstudente," voeg Bantjes by.

"Psigiatriese siektes het 'n ernstige impak op akademiese prestasie en lei tot probleme soos akademiese mislukking en universiteitsverlating." 

Sommige verslae doen aan die hand dat tot die helfte van studente wat by Suid-Afrikaanse universiteite inskryf nooit hul grade behaal nie. Uitsakkoerse is ook hoër onder studente uit histories benadeelde gemeenskappe.

"Daar is nie goeie begrip van die redes vir hierdie hoë uitsakkoers nie, wat dit moeilik vir universiteite maak om doeltreffende intervensies te beplan. Daar is egter min twyfel dat onbehandelde en swak bestuurde sielkundige probleme tot hoë uitsakkoerse lei," sê Bantjes.

Net een uit ses studente met psigiatriese probleme ontvang minimaal voldoende sielkundige behandeling. Waar ongeveer 24% van studente in hoëinkomste-lande die nodige sielkundige behandeling ontvang, is die situasie aansienlik droewiger in die meeste dele van die wêreld. In ontwikkelende lande, soos Suid-Afrika, ontvang slegs tussen 8% en 11% van studente met psigiatriese probleme sielkundige behandeling.

Volgens die navorsers is dit belangrik om op die psigiatriese gesondheid van universiteitstudente te fokus, veral omdat hierdie ontwikkelingstydperk met groot sielkundige, sosiale, akademiese en finansiële uitdagings verband hou.

"Ons moet onthou dat universiteitstudente etlike moeilike oorgange moet hanteer, soos vroeë volwassenheid, veranderinge in gesins- en eweknieverhoudings, verlating van hul huise, toegang tot ʼn nuwe sosiale konteks, verhoogde geleenthede vir middelmisbruik en ʼn toename in akademiese druk. Die stres wat hierdie oorgange meebring, kan tot swak sielkundige funksionering bydra. Talle universiteitstudente ervaar ook finansiële uitdagings en ander stresvolle lewensituasies, soos blootstelling aan trauma."

Terselfdertyd word vroeë volwassenheid ook beskou as die toptydperk vir die aanvang van verskeie ernstige sielkundige probleme, soos psigotiese siektes, depressie, angsversteurings en probleme met middelgebruik. Studies toon dat indien hierdie versteurings nie behandel word nie, dit ʼn ernstige impak op studente se ontwikkeling, motivering en prestasie kan hê, wat tot universiteitsverlating en akademiese mislukking lei.

"Hierdie navorsing sal ons help om die psigiatriese behoeftes van ons land se universiteitstudente beter te verstaan, maar nog belangriker is dat dit ons sal help om innoverende maniere te vind om ons steun aan hierdie studente te verbeter en hul sielkundige behoeftes te hanteer."  

Die data-insameling vir die eerstejaarsopname vir 2017 sal aan die einde van Junie tot ʼn einde loop, maar die span navorsers sal oor die volgende vier jaar met al die studente wat aan die opname deelgeneem het opvolg om hulle te monitor totdat hulle hul voorgraadse grade behaal het.

"Die projek sal dus vir ten minste nog vier jaar aan die gang wees. Intussen gaan ons ook begin om intervensies te toets, en dus sal die projek moontlik nog lank daarna voortduur."

Eerstejaarstudente van die US wat graag aan die studie wil deelneem, kan meer inligting kry by http://mentalhealthsa.org.za of deur dr Dr Wylene Saal (wylene@sun.ac.za) of me Janine Roos (jroos@sun.ac.za) te kontak.