Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektor wens Varsitybekerspan geluk; spelers neem afskeid
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 16/05/2017

​"Julle het ons baie trots gemaak. Dankie dat julle uitstekende ambassadeurs vir die Universiteit Stellenbosch en Maties Sport is." Só het prof Wim de Villiers, rektor van die US, die FNB Maties-rugbyspan gelukgewens op hul uitstekende prestasie in die Varsitybeker-toernooi.

Die span het in die finaal van die kompetisie teen UP-Tuks verloor.

Op sy beurt het die span se kaptein, Craig Barry, die rektor bedank vir sy en die universiteit se ondersteuning. "Dit het baie beteken," het hy bygevoeg.

Einde van ’n era

Die einde van die 2017 Varsitybeker-rugbyreeks het ook die einde van 'n era by Steinhoff Maties Rugby beteken.

Verskeie spelers wat belangrike lede van die Maties Rugby-gesin was, het in die eindstryd teen Tukkies hul laaste wedstryd in die maroentrui gespeel.

Die losvoorspeler Kobus van Dyk, wat onlangs sy debuut vir die Stormers gemaak het, sal sy tyd by Maties met 'n glimlag onthou. "Dit is definitief een van die beste groepe saam met wie ek al gespeel het…op en af van die veld af! Die vriende wat ek gemaak het, sal ek altyd hou. Dit was 'n baie groot voorreg om my rugbyloopbaan saam met so 'n spesiale groep te kon begin."

Kyle Steyn en Devon Nash het albei halfjaarkontrakte met Griekwas gesluit.

"Ek is baie opgewonde oor die vooruitsig van 'n nuwe avontuur. Ek het nie nou hierdie kans verwag nie, want ek het nie besef hoe groot die Varsitybeker se invloed is nie. So ek het gehoop dat iets oor my pad sou kom, maar ek het nie gedink dit sou so gou gebeur nie. Ek het vir myself doelwitte gestel, maar nou wil ek net gaan en my alles gee," het Steyn gesê.

Oor sy tyd by Maties Steyn het hy bygevoeg: "Maties Rugby het 'n ongelooflike geskiedenis en om in die maroentrui te speel, my eie vriendskappe en herinneringe in die konteks van daardie geskiedenis te bou, en die trots en nalatenskap van Maties Rugby te ervaar, is iets wat ek altyd sal koester."

Craig Barry, kaptein van die Varsitybeker-span, het gesê: "Dit was 'n pad vol seëninge en lesse. My tyd by Maties het my gevorm om 'n beter mens te word."