Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nog 'n suksesvolle seisoen vir Steinhoff Maties-krieketspan
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 16/05/2017

'n Sesde agtereenvolgende Bolandliga-titel en die vertoning by die Varsity Sports-kriekettoernooi is van die hoogtepunte van nog 'n suksesvolle seisoen vir die Steinhoff Maties-krieketspan.

Maties het ook onlangs 'n derde plek by die Nasionale Klubkampioenskapsbyeenkoms behaal.

Die span se afrigter, Andrew Wylie, het die afgelope seisoen met 'n baie jong span en 'n nuwe kaptein in Gerhard Erasmus gewerk.

Hoewel Maties nie die eindstryd van die Varsity Sport-kriekettoernooi gehaal het nie, het die groep groot belofte in die toernooi getoon.

"Dit was ongelooflik om met só 'n jong span bo-aan die punteleer te wees ná die groepwedstryde by die Varsity Sports-kriekettoernooi. En om die Bolandliga vir die sesde agtereenvolgende seisoen te wen, was amper verrassend. Maar vir my was die grootste hoogtepunt die feit dat ons 10 spelers gehad het wat eersteklas-krieket vir Boland gespeel het, sowel as Kyle Simmonds en Niel Botha se debuut vir die Cobras," het Wylie gesê.

Volgens Wylie is die grootste les wat sy jong spelers die afgelope seisoen geleer het, om verantwoordelikheid te aanvaar.

"Dit het tyd geneem om te besef dat die senior spelers wat altyd daar was, nie meer daar is om die wenvertonings te lewer nie en dat dit hulle beurt was om op te staan en verantwoordelikheid te neem. Daar is ook geen kortpaaie na sukses nie. Hulle kom elke jaar voor nuwe uitdagings te staan en moet vinnig aanpas om te verseker dat die wenkultuur voortduur."

Volgende seisoen sal die span soveel meer ondervinding hê, selfs met die verlies van ervare spelers soos Jean Bredenkamp. Vir Wylie lyk die toekoms blink.

"Hierdie jong spelers het gewys hulle is honger vir sukses. Hulle het besef watter geleenthede beskikbaar is en dit lyk asof hulle die meeste daarvan wil maak."

Erasmus geniet eerste seisoen as Maties-krieketkaptein

Gerhard Erasmus, 'n LLB-student in sy derde jaar, sal sy eerste seisoen as kaptein van die Steinhoff Maties-krieketspan grotendeels onthou vir die span se vertoning by die Varsity Sport-kriekettoernooi.

Dit was Erasmus se eerste seisoen as kaptein van 'n span wat grotendeels uit tweedejaarstudente bestaan het.

"Oor die algemeen was dit lekker en selfs interessant. Omdat ons so 'n jong span is, was daar heelwat uitdagings. Ek dink ons seisoen was oor die algemeen suksesvol en ons vertonings by die nasionale toernooie moenie onderskat word nie. Ek het baie vinnig geleer dat ek die voorbeeld moet stel wat fiksheid, oefen en spel betref. Ek kan nie van my spelers verwag wat ek nie self bereid is om te doen nie," het Erasmus na afloop van 'n baie besige seisoen gesê.

"Die Varsity Sport-kriekettoernooi was beslis die hoogtepunt van die jaar vir my. Ons het baie goed gespeel en die potensiaal van die span is duidelik ten toon gestel. Ons het nou wel nie die toernooi gewen nie, maar ek dink ons was beslis een van die beste spanne – indien nie die beste span nie – daar."

Wylie was vol lof vir Erasmus. 

"Ek dink Gerhard het ongelooflik gegroei as leier. Hy is by die diep kant ingegooi met 'n jong span. Hy het inisiatief geneem, baie energie getoon en vertroue in sy span gewys. Sy vertoning by die Varsity Sport-kriekettoernooi was uitsonderlik. As speler het hy 'n groot bydrae gelewer en as leier was hy takties uitstekend."