Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie word Rwanda se eerste ginekologiese onkoloog
Outeur: Carine Visagie
Gepubliseer: 08/05/2017

​Om in ʼn mediese veld te spesialiseer is harde werk. Maar om in ʼn taal te studeer wat jy skaars ken, ver van alles wat bekend is, is ʼn reuse uitdaging. Tog het dr Raymond Dusabe dié uitdaging tromp-op gepak en is nou gereed om as Rwanda se eerste ginekologiese onkoloog te begin praktiseer.

Moeilike omstandighede is niks vreemds vir hierdie 40-jarige Franssprekende nie, wat as Rwandese vlugteling in Burundi grootgeword het. Hoewel hy tydens die Rwandese volksmoord van 1994 veilig was in Burundi, het talle van sy Rwandese familielede nie die slagting oorleef nie. En toe hy in 1998, nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, na ʼn gebroke Rwanda teruggekeer het, moes hy en sy familie van voor af begin. 

Maar in die daaropvolgende jare was hy bevoorreg genoeg om medies aan die Nasionale Universiteit van Rwanda te gaan studeer. Hier het Dusabe ook besluit om uiteindelik as ginekoloog te spesialiseer. In 2010 het hy finansiering vir verdere studies van die Rwandese regering ontvang. Danksy dr Eugene Ngoga, ʼn Rwandese dokter wat voorheen aan die Universiteit Stellenbosch (US) gestudeer het, het ʼn verhouding tussen dié universiteit en sy regering reeds bestaan.

Om finansiering vir sy meestersgraad (MMed) aan die US te bekom, was maar die eerste stap; verskeie ander uitdagings het voorgelê. "Ek was bang toe ek by die Tygerberg-kampus aangeland het en was nie seker of ek dit sou maak nie. Alles was nuut en ek het gesukkel om Engels te praat. Ek wou sommer weghardloop." Maar toe hy sy eerste eksamens in sy tweede jaar slaag, het Dusabe geweet hy is op die regte pad. "Ek kon sien dat dit vorentoe beter sou gaan."

Nadat hy sy MMed in 2014 voltooi het, het nog ʼn geleentheid gewink: Hierdie keer is Dusabe danksy finansiering van die US se Departement Ginekologie die kans gegun om in ginekologiese onkologie te subspesialiseer. Hierdie kwalifikasie sou uiteindelik beteken dat hy ʼn belangrike kliniese behoefte in sy vaderland sou kon vervul. "Daar is geen ginekologiese onkoloë in Rwanda nie en ʼn kankerdiagnose is steeds vir die meeste Rwandese vroue ʼn doodsvonnis," sê Dusabe. "Ek het besef daar is ʼn manier om hierdie lyding in groot mate te voorkom."

Dusabe het sy kliniese rotasie einde Februarie 2017 voltooi en moet nou nog net een eksamen slaag voor hy graad vang. Intussen het hy na Rwanda teruggekeer, waar hy die enigste ginekologiese onkoloog in dié land sal wees. Danksy sy opleiding aan die Tygerberg-kampus neem hy waardevolle kennis en vaardighede terug huis toe. Vroulike kankerpasiënte sal nou met groter sukses behandel kan word en Dusabe sal sy kennis aan ander dokters kan oordra.

"Aanvanklik was ek nie seker of ek na my vaderland sou terugkeer nie, maar prof Hennie Botha, (besturende hoof van die Departement Verloskunde en Ginekologie) het my aangemoedig om dit wel te doen," sê Dusabe. "Nou kan ek ook doeltreffende siftingsprogramme daar in werking gaan stel. Ofskoon doeltreffende primêre intervensies in Rwanda beskikbaar is, is siftingsprogramme en protokolle vir ginekologiese kankers nie goed gevestig nie."

Dusabe het persoonlike ervaring van die impak van kanker in ʼn land wat die nodige mediese kundigheid kort – nóg ʼn rede waarom hy daarna uitsien om weer in Rwanda te werk. "My skoonsuster is in 2015 met servikale kanker gediagnoseer toe sy swanger was. Daar was nêrens in Rwanda ʼn spesialis om haar te help nie, maar ek kon darem raad gee. Prof Botha kon haar ook ondersoek en, ná ʼn suksesvolle operasie, is sy nou heeltemal gesond."

Hoewel Dusabe nog nie ʼn pos aanvaar het nie, hoop hy om binnekort in die openbare gesondheidsektor te begin werk. "Dit is waar mense die meeste hulp nodig het."

Kort voor sy terugkeer na Kigali het Dusabe daarna uitgesien om weer sy moedertaal te praat, sy ouers te sien en in sy eie bed te slaap. Kaapstad sal egter altyd na aan sy hart lê. "Ek gaan die strande, die berge en die Waterfront mis. Maar ek gaan veral na die Departement verlang. Dit het my tweede huis geword."