Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sewekampatleet in die wolke oor goue medalje
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 25/04/2017

Ná baie jare se harde werk is Nienka du Toit, student aan die Universiteit Stellenbosch en voormalige leerder van die Hoër Meisieskool Bloemhof, die afgelope naweek by die ASA Senior Baan- en Veldkampioenskap as die Suid-Afrikaanse sewekampkampioen gekroon.

Sy het verlede jaar die nasionale junior sewekamptitel gewen.

"Ek is baie dankbaar," het dié BCom-student gesê. "Dit is al baie jare my droom (om hierdie titel te wen) en die naweek se goue medalje was die harde werk en opofferings werd."

Nienka was in graad 9 toe sy besluit het om haar op sewekamp toe te spits en sy wil Suid-Afrika baie graag eendag by die Wêreldstudentespele en dalk selfs die Olimpiese Spele verteenwoordig. Sewekamp bestaan uit hoogspring, verspring, gewigstoot, spiesgooi, 200 m, 800 m en 100 m hekkies.

Nienka se gesin, vriende en afrigter Seef le Roux speel 'n groot rol in haar lewe en die feit dat sy op hulle kan staatmaak om haar te ondersteun, dra by tot haar sukses, sê sy.

Ander Maties-medaljewenners sluit in Justine Palframan (silwer in die 400 m), Keegan Fourie (silwer in die hoogspring), Samantha Pretorius (brons in die verspring), Kian-Lee du Toit (brons in die paalspring) en Leandré Ketch (brons in die sewekamp vir meisies o/18).

Boland se 4x100 m vroue-aflosspan wat bestaan het uit die Maties Shannon Arendse, Janke van Wyk, Justine Palframan en Samantha Pretorius het goud gewen terwyl Boland se 4x400 m vroue-aflosspan wat bestaan het uit die Maties Rogail Joseph, Anruné Liebenberg, Jean-Maré Senekal en Justine Palframan silwer gewen het. Boland se 4x400 m mansaflosspan met drie Maties (Wynand du Toit, Jaden Flagg en Gardeo Isaacs) en een verteenwoordiger van die Paarl-atletiekklub, Linford Maree, het ook goud gewen.

Die volgende geleentheid op die atletiekkalender is die Universiteitesport Suid-Afrika (USSA) Atletiekkampioenskap wat van 28-29 April by die Groenpunt-stadion aangebied word.

Fotokrediet: Trevlyn Palframan